Kommer oor die stand van Suid-Afrika se tronke

tronk

Argieffoto.

Navorsing gedoen deur Gopolang Makou, Ina Skosana en Rut Hopkins

Suid-Afrika se beroemdste voormalige gevangene het in sy outobiografie geskryf: “Jy sal eers ʼn nasie werklik ken as jy in een van sy tronke was.”

Die Verenigde Nasies (VN) het gedurende sy algemene vergadering in Desember 2015 die eerste bywerking vir die bepalings wat die minimum standaarde vir die behandeling van gevangenes behels in 50 jaar gedoen en dit na oudpres. Nelson Mandela vernoem.

Die Nelson Mandela-reëls bevat 122 bepalings wat as geheel verteenwoordigend beskou word vir die menslike wyse waarop gevangenes in tronke aangehou moet word.

Africa Check het ʼn oorsig van Suid-Afrika se gevangenisse en ʼn lys van die grootste knelpunte in dié sektor saamgestel:

Korrektiewe dienste se geriewe

Die regterlike inspektoraat vir korrektiewe dienste (JCIS) is die liggaam wat toesig hou oor Suid-Afrika se korrektiewe dienste, inspeksies moet doen en gereeld verslag lewer oor hoe gevangenes behandel word.

Daar is tans ʼn hofsaak aan die gang waarin die twee burgerregte-organisasies, Sonke Gender Justice en die Lawyers for Human Rights, poog om te verseker dat die JCIS die nodige institusionele onafhanklikheid bekom wat die Grondwet vereis. Die inspektoraat ontvang tans sy begroting van die departement van korrektiewe dienste en is ook administratief en operasioneel aan die departement verbind, wat dit vir die JCIS moeilik maak om die departement vir enige oortredings aanspreeklik te hou.

Die inspektoraat se mees onlangse jaarverslag, wat aan die einde van Maart bekendgestel is, dui aan daar is altesaam 243 tronke in Suid-Afrika. Sewe van hierdie geriewe word tans opgeknap terwyl die oorblywende 236 operasionele gevangenisse is. Nege van hierdie tronke is gevangenisse vir vroue en 14 is jeuggevangenisse.

Tshifhiwa Magadani, ʼn woordvoerder van die departement van korrektiewe dienste, het gesê twee van Suid-Afrika se gevangenisse vir maksimum sekuriteit, Mangaung in Bloemfontein en Kutama Sinthumule in Limpopo, word privaat bedryf.

Gevangenes

Teen die einde van 2016 was daar 157 013 gevangenes in Suid-Afrika se tronke. Volgens Singabakho Nxumalo, nog ʼn woordvoerder van die departement, is die meeste gevangenes mans (152 889), terwyl 2,6% van die gevangenes uit vroue bestaan.

ʼn Kwart van die gevangenes in die finansiële jaar 2015-’16 was óf verhoorafwagtend óf het gewag om gedeporteer te word. Die getal van hierdie soort gevangenes het in die afgelope ses jaar effens afgeneem, terwyl die algehele tronkbevolking relatief stabiel gebly het.

Nxumalo het ook vir Africa Check ʼn rassesamestelling van die bevolking van Suid-Afrika se gevangenes aan die einde van 2016 verskaf. Volgens die data is 125 006 (79,6%) van gevangenes swart, 28 568 (18,2%) is bruin, 2 559 (1,6%) wit en 880 (0,6%) is van Indiese of Asiatiese afkoms.

In ʼn antwoord op ʼn parlementêre vraag in Junie 2017 het Michael Masutha, minister van justisie en korrektiewe dienste, gesê 11 842 buitelanders word tans in Suid-Afrikaanse korrektiewe geriewe aangehou. Van hierdie getal gevangenes is 7 345 reeds gevonnis en 4 497 is verhoorafwagtend terwyl 1 380 aangehou word omdat hulle onwettig in die land is. Die meerderheid was Zimbabwiërs (41,5%) en word gevolg deur die burgers van Mosambiek (24%).

Masutha het verder gesê dit sal sy departement in die finansiële jaar 2016-’17 ʼn beraamde R133 805.35 kos om ʼn gevangene te huisves. Indien die bevolking in SA se tronke aan die einde van Maart op 157 013 gestaan het, moet die departement R21 miljard ontvang om die koste van gevangenes se huisvesting te dek.

tronk

Argieffoto.

Probleme waarvoor SA se tronke te staan kom

Gebrek aan akkurate data

Masutha het in sy 2016-begrotingstoespraak gesê die ouditeur-generaal is steeds ernstig bekommerd oor die geloofwaardigheid van sy departement se rekords.

Die ouditeur-generaal se verslag vir 2015-’16 het verklaar dat die departement se aangemelde prestasie-inligting vir die aanhoudings-, rehabilitasie- en sorgprogramme nie strook met die bewyse wat gelewer word nie.

Daar is dikwels teenstrydighede in die inligting wat verskaf word oor die getal gevangenes wat uit aanhouding ontsnap het, weens onnatuurlike redes gesterf het of tydens ʼn aanranding beseer is.

Oorbevolking

Teen die einde van Maart 2016 het Suid-Afrikaanse gevangenisse slegs 119 134 beddens beskikbaar gehad vir die 161 984 gevangenes.

“Die vernaamste dryfkrag agter oorbevolking is die aantal verhoorafwagtende gevangenes,” het Clare Ballard van die organisasie Lawyers for Human Rights gesê.

Wilna Lambley van Legal Aid SA het aan die Wits Justisie-projek verduidelik sowat 8 000 mense wat nie hul borgtog kan bekostig nie, moet in gevangenisse aanbly totdat hulle verhoor word. Verder is die hofrol tot oorlopens toe vol en dit lei tot verdere vertragings wat stampvol gemeenskaplike selle in tronke veroorsaak.

Gevangenisse in stedelike gebiede het die ergste oorbevolkingsyfers. In die boekjaar 2015-’16 was Johannesburg se Medium B- korrektiewe sentrum 233% vol, wat ʼn tekort van 1 736 beddens beteken het.

Kaapstad se Pollsmoor-gevangenis het die grootste tekort aan beddens (2 448) in die finansiële jaar 2015-’16 gehad. In ʼn hofsaak wat deur Sonke Gender Justice en die Laywers for Human Rights gedryf is, het die Wes-Kaapse hooggeregshof bevind die toestande in Pollsmoor se sentrum vir verhoorafwagtende gevangenes is ongrondwetlik.

Leptospirose, ʼn siekte wat deur rotte versprei word, het toe reeds die lewe van twee gevangenes in die tronk geëis.

Die hof het beveel dat die regering die oorbevolking in die tronk moet aanpak en binne ses maande na 150% moet verminder.

“Die regering het aan die hof se beslissing voldoen en op 26 Junie het hulle statistieke getoon dat die vlakke van oorbevolking in die sentrum 149% was,” het Ariane Nevin, Sonke Gender Justice se nasionale gevangenisspesialis, gesê.

“Uiteindelik is die eintlike oorsaak van oorbevolking in tronke ʼn swak funksionerende strafregstelsel – misdaad word eenvoudig nie teen die tempo, pas en met die nodige doeltreffendheid vervolg as wat dit behoort te wees nie,” het Ballard bygevoeg.

Aansteeklike siektes

Reël 24 van die Nelson Mandela-reëls bepaal dat die gesondheidsorg van gevangenes die regering se verantwoordelikheid bly. Dit sluit die behandeling van aansteeklike siektes soos MIV en tuberkulose (TB) in.

Die staat se verantwoordelikheid vir gevangenes se gesondheid is verder bevestig deur ʼn hofsaak waarin Dudley Lee die minister van korrektiewe dienste gedagvaar het omdat hy TB tydens sy gevangenisstraf tussen 1999 en 2004 in die Pollsmoor-gevangenis opgedoen het. Lee het aangevoer die departement het nie die nodige maatreëls toegepas om die risiko van siekte in gevangenisse te verminder nie.

Lee het sy saak ná ʼn sewe jaar lange hofstryd gewen en is R270 000 skadevergoeding toegeken.

“Die Lee-saak vereis ʼn hersiening van gesondheidsdienste en voorkoming in gevangenisse. Daar is ʼn ongekende instroming van internasionale finansiering van die Global Fund en Pepfar vir TB-ondersoeke en toetsing in gevangenisse,” het John Stephens, ʼn senior regsnavorser vir die aktivistiese organisasie, Section 27, gesê.

Die departement se 2015-’16-jaarverslag het beweer dat 1 239 van die 1 485 gevangenes met TB in daardie jaar genees is. Vir MIV het die departement gemeld dat 21 722 van die 22 142 gevangenes wat MIV-positief getoets is nou antiretrovirale behandeling ontvang.

“Toetsing en behandeling is kritiek noodsaaklik, maar tensy ons kwessies soos oorbevolking en goeie lugventilasie aanraak, gooi ons net die geld weg,” het Stephens gesê.

tronksel

Argieffoto.

Menseregteskendings

Die eerste van die Mandela-reëls bepaal: “Alle gevangenes sal beskerm word en geen gevangene sal onderwerp word aan marteling en ander wrede, onmenslike of vernederende behandeling of straf nie en geen omstandighede kan as regverdiging daarvoor aangevoer word nie.”

Aanranding en marteling

Dr. Malose Langa, ʼn dosent in die Sielkunde-departement van die Universiteit van die Witwatersrand, het ʼn ontleding van marteling in Suid-Afrika gedoen. Hy het gefokus op sake wat tussen 2007 en 2011 in die jaarverslae van die onafhanklike polisie-ondersoekdirektoraat (Opod, oftewel Ipid in Engels) en die regterlike inspektoraat vir korrektiewe dienste (JICS) aangemeld is.

Langa het bevind dat aanranding deur gevangenisbeamptes een van die mees algemene klagtes was wat by die JICS (6 000 gevalle) en Opod aangemeld is. Opod het 1 778 klagtes van aanranding en 89 van marteling in dieselfde tydraamwerk ontvang. Volgens Langa se ontleding het meer as 200 gevangenes in dieselfde tydperk gesterf aan onnatuurlike oorsake soos selfmoord en aanranding.

In 2013 is die Persoonswet op die voorkoming en bestryding van marteling bekendgestel, wat marteling in Suid-Afrika gekriminaliseer het. Die wet se definisie van marteling sluit in enige daad wat ernstig geestelike of fisieke pyn of lyding veroorsaak met die doel om inligting of ʼn bekentenis van ʼn persoon te verkry, of as ʼn vorm van straf of dwang.

Langa het gesê die bekendstelling van die wet het egter niks verander in die vervolging van beamptes wat gevangenes martel nie. Opod se jaarverslag vir 2015-’16 het getoon dat drie polisiebeamptes vervolg is vir marteling onder die nuwe wet.

Die JICS het 15 klagtes van marteling in sy jongste jaarverslag aangeteken, maar Luvuyo Mfaku, woordvoerder van die nasionale vervolgingsgesag (NVG), kon die Wits Justice-projek nie voorsien van die aantal martelingsake wat sedert die inwerkingtreding van die wet vervolg is nie.

“Ons kategoriseer nie misdade in ʼn spesifieke databasis as hulle onder algemene vervolging val nie,” het Mfaku gesê.

Segregasie

Afgesien van aanranding, is segregasie ook bekend as isolasie, een van die mees algemene metodes om gevangenes te martel, het Langa gesê.

Die Korrektiewedienstewet definieer isolasie as om ʼn gevangene aan te hou in een enkele sel met die verlies tot toegang van alle geriewe vir ʼn gedeelte van ʼn dag of ʼn hele dag. Dit lys ook die voorwaardes waaronder segregasie toelaatbaar is:

  • Indien ʼn gevangene versoek word om in segregasie geplaas te word;
  • Uitvoering gee aan die straf van die beperking van geriewe;
  • Indien voorgeskryf deur ʼn mediese praktisyn;
  • Wanneer ʼn gevangene ʼn bedreiging vir homself of ander is;
  • As hy ná ontsnapping gevang is en daar redes bestaan om te glo dat hy weer sal probeer ontsnap; en
  • Op versoek van die polisie in die belang van geregtigheid.

Die gevangenes moet ook elke dag deur ʼn mediese praktisyn besoek word en mag slegs vir ʼn tydperk van sewe dae so aangehou word. Isolasie vir ʼn langer tydperk is slegs moontlik onder streng voorwaardes.

Ondanks hierdie bepalings het vier onderskeie burgerregte-organisasies wat in Suid-Afrika werksaam is, dit aan die VN se menseregtekommissie voorgehou dat daar redes bestaan om te glo dat afsondering of isolasie steeds as ʼn vorm van straf plaasvind en as segregasie voorgehou word.

  • Lees die oorspronklike Engelse artikel op Africa Check se webwerf.Lees meer artikels waarin feite nagegaan is deur Africa Check se Facebook-blad te besoek, of volg die organisasie op Twitter.
  • Africa Check bedank die Wits Justice-projek vir die insette en leiding in die samestelling van die artikel. Die projek span ondersoekende joernalistiek in om misbruike van die gereg te onthul.

14 Kommentare

Gert ·

Net 1.6% van ons tronk populasie s blank. Maak maar met die inligting wat jy wil. Dit verduidelik verseker iets. En indien daar genoem word dat ons maar net 4.7Mil is van die totale 55Mil populasie is dit nogsteeds baie laag. Indien die blanke populasie 25Mil was sou dit nogsteeds onder 10% gewees het. Ek se maar net.

Spyker ·

Ek het 21j op n tronk terrein gebly.een van die beste plekke waar jy vrylik en veiling kon rond beweeg. Het 2j later terug gegaan om familie te besoek en was skoon naar om te sien hoe dinge toe daar lyk en almal behandel word deur die “bestuur”,dit sluit die bewaarders in.

Johan ·

‘n ruk terug (9 Junie) het Herman Toeëien op Maroela media berig dat volgens ‘n verslag van die Instituut vir Rasseverhoudinge daar sedert 1994 is byna ’n halfmiljoen Suid-Afrikaners vermoor. Die wiskunde maak dan nie lekker sin as daar net ongeveer 160 000 gevangenis in Suid Afrika se tronke is nie, Sê ons skat konserwatiewe dat 100 000 daar is vir moord, en elkeen statisties 1.5 mense vermoor het, dan loop daar 350 000 moordenaars vry rond.
Miskien is ek verkeerd en is daar duisende reeksmoordenaar in die tronke sodat elkeen 10 talle mense vermoor het. Wys nou net eintlik hoe swak ons vervolgings koers is in die land

Hanna ·

Ek het vir n paar jaar vrywillige tronk besoek gedoen in Oos London. Die wagkamers by die hoofhekke se deur-kosyne is so geroes is dat dit gate in het. Dit lyk byna na n geroesde skeepswrak.
Eerste indrukke is hoegenaamd nie belangrik nie.
Die telefone in die besoekers hokkies was vir maande buite werking. Van die fone se drade was uit die gehoorstukke gepluk.
Daar is weinig ontspanning of ontwikkelings geleenthede vir vroue.
As n gevangene geld het betaal sy die ander gevangenes om haar skoonmaak werk vir haar te doen. Letterlik n PAYROL vir die wat min besoekers kry. Dis aan de order van die dag.
Daar word weinig gedoen tov rehabilitasie.

Marina ·

Nou hoekom moet tronke 5 ster hotelle wees? Hoekom is tronke daar? Sodat mense soos konings kan leef? Jammer ek het geen simpatie nie

Linda ·

Bring asb die doodstraf terug, vir elke lewe wat ‘n persoon neem, kan sy/haar lewe ook mos geneem word dan sal die tronke nie so vol wees nie. punt

SARIE VAN HEERDEN ·

Tronke is nie meer ‘n afskrikmiddel vir misdadigers nie want hul kry alle gratis en is goed versorg. Mediese sorg, kos en klere, en as hul in bendebedrywighede betrokke raak en dalk beseer of vermoor word is dit hul keuse met wie hul bevriend geraak het. Koekies en tee sal ek amper wil dink is ook beskikbaar. ‘n Klagte teen swak behandeling kan jy ook maak. Nee wat, eintlik is dit vir die werklose ‘n goeie heenkome.

Lola ·

Met ‘n skok lees ek hierdie artikel. My grootste vraag nou is, die tronk wat binne 6 maande met soveel mense verminder is? Hoe is dit moontlik? Waarheen is daardie mense? Is dit waarom Kaapstad skielik die gevaarlikste stad in die land is? As jy tronk toe is vir verkragting of moord(of beide) kan ek nie ‘n vlenter omgee waar jy moet slaap nie en of jy slaap nie for that matter….

H... ·

Daar is ‘n goeie oplossing vir die probleem dan hoef niemand te kla nie.

LEWE ‘N LEWE WAARVOOR JY NIE HOEF TRONK TOE TE GAAN NIE met ander woorde, hou op steel en moor en verkrag en wat nog als DAN SAL JY MOS NIE IN DIE TRONK BELAND NIE.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.