Lucky Montana: ‘Dis ʼn politieke sameswering teen my’

Lucky Montana, die voormalige uitvoerende hoof van Prasa. Foto: Twitter

Lucky Montana, die voormalige uitvoerende hoof van Prasa. Foto: Twitter

Lucky Montana, die voormalige uitvoerende hoof van die Passasierspooragentskap (Prasa), het Maandag beweer daar is ʼn politieke sameswering teen hom wat deur Popo Molefe, die raadsvoorsitter van die instelling, gelei word.

Montana het tydens ʼn mediakonferensie gereageer op ʼn hofaansoek wat teen hom by die hooggeregshof in Johannesburg ingedien is, waarin daar beweer word dat hy onbehoorlik baat gevind het by Prasa se verhouding met een van hul kontrakteurs, Siyangena Technologies.

Montana het ontken dat hy enigiets verkeerd gedoen het en het gesê dit is bloot ʼn poging deur Prasa om ʼn dispuut met Siyangena te vermy. Siyangena het Prasa hof toe gesleep oor betalings wat nie gedoen is nie nadat die kontrakteur dienste gelewer het.

“Ek dink nie Popo Molefe werk alleen in hierdie ondersoek nie. Ek dink hierdie hele saak het politieke aspekte wat dit beïnvloed,” het Montana gesê. “Volgens my inligting werk en konsulteer [Molefe] mense binne politieke strukture…. Hy konsulteer die mense van die ANC.”

Montana het gesê geen raadsvoorsitter sal so ʼn ondersoek aanpak sonder om met die ANC in gesprek te tree nie. “Molefe het R50 miljoen op hierdie ondersoek spandeer. Hy kan dit tog sekerlik nie doen sonder om opdragte van die relevante politieke leierskap te kry nie,” het hy gesê.

Montana het bygevoeg dat die ANC tydens sy 2012 Mangaung-verkiesingskonferensie gesê het dat interne sake deur ʼn integriteitskommissie behandel sal word. “Ek verwag van my eie party om my na die integriteitskommissie te roep om myself te verdedig teen die ernstige aanklagte wat teen my gemaak is, maar ek is nooit geroep om dit te doen nie. Tog is daar ernstige en inkriminerende stellings gemaak dat ek skuldig en korrup is en ek dink dit het Popo Molefe laat dink hy kan voortgaan om te doen wat hy doen,” het Montana gesê.

Montana is in Junie verlede jaar afgedank na aanleiding van die R3,5 miljard tender-debakel waar nuwe diesellokomotiewe aangekoop is wat nie aan die standaarde van die Suid-Afrikaanse spoorwegstelsel voldoen nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

GES ·

Onbevoegdheid in hoogste rat. Dit is net nie in hulle gene om ‘n fout te erken nie. Dit is altyd iemand anders se skuld.

Dries ·

Toe die soustrein vir hom geloop het was hy stil. Toe het hy genoeg “olie” bymekaar gemaak en ewe ongekwalifeseerd daar gesit en geen woord gerep nie want alles het mos so reg geklink. Sy spoor het gelukkig opgeraak.

MCS ·

Man up , Luky Ducky en staan pa vir jou dade! Kan hierdie mense nie verstaan, hulle het nooit n fout begaan, altyd iemand anders se skuld! Sy gravy trein het nou ontspoor, maar nie lank nie en hy haal die volgende stasie vir n lekker job!

Andrea van Vuren ·

Ek het ‘n voëltjie hor fluit dat ons land R500 miljoen se busse ingevoer het en dat die deure almal na die verkeerde kant toe oopmaak. Help asb. Hoekom sê of bevestig die pers dit nie? Nie krag vir nog ‘n vervoerskandaal nie!

Oom Boer ·

Die soustrein raak te swaar en die waens se spasie nie meer genoeg nie en sodoende word die passasiers afgelaai om spasie te maak vir verdere ongekwalifiseerde Kaders om meer sakke te kan vul. Jammer jou tyd is verby, maar jy behoort darem iewers ‘n Ambassadeurs pos los te slaan.

adrian ·

R50 miljoen vir n ondersoek, Popo jy speel nie dis mos nie jou geld nie. Volgens berigte het jy Lucky bedrog gepleeg met graad (dus n vet salaris gekry, dit is diefstal) agterna n deal gewangle met spanje vir lokomotiewe wat nie kan werk nie en net spaans kan praat, wonder wat jy hieruit gekry het . Sover loop jy vry rond. Die tyd is nou dat alle bedrieers in die tronk gestop word. Van parlementslede tot grondvlak. Al hul bates en bankrekeninge moet gekonfiskeer en gebruik word om die tekorte vir belangrike werk aan te vul
Dit gaan nou te ver #tronk toe met korrupsie

Liewe Heksie ·

lekker lucky jy wou mos nie met popo deel nie Kry vir jou

Pieter.v ·

Daar is soveel kommisies al aangestel wat sake ondersoek wat die belasting betaler biljoene rande uit die sak ruk ,ek het nog nie van een gehoor waar iemand skuldig bevind is , op die einde van die dag word die wat ondersoek word met n goue handdruk gegroet en die uitslag van die ondersoek word nooit aan die publiek bekend gemaak nie ,maar dat die partye geskik het en so is die saak gesluit, die probleem moet gesien word in die feit dat die kommissies deur die anc aangestel word en gewoon is dit anc kaders wat op die paneel sit en die saak so lank uitrek as moontlik want so word die kaders ryk en so ook die anc

scalla ·

Is dit nou dalk die geval van popo is lucky en lucky is n popo

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.