Luister: ʼn Huldeblyk aan Adam Small


Adam Small

Foto: Argief

Hierdie naweek was ʼn hartseer naweek. Toe dit bekendgemaak is dat Afrikaans nóg ʼn reus verloor het, het mense uit verskeie oorde hulle hartseer uitgepreek. Maroela Media het vroeër berig oor die afsterwe van Adam Small op Saterdag 25 Junie. Huldeblyke het ingestroom vir dié geliefde skrywer en digter.

Die ATKV skryf:

Jy het my hart teen hulle van die haat ontdaan 
en al hul bitter strewes het in ons vergaan.”

Met hierdie twee reëls open Adam Small se eerste digbundel, Verse van die liefde.

Sy ware krag as digter sou later kom: Die bundel sê sjibolet is nie net tegnies veel beter nie, dit is ook ’n harde, politieke bundel wat teen die vergrype van die magshebbers geprotesteer het. Meer nog, sê sjibolet was ’n bundel wat skaamteloos Kaaps gebruik het as medium. Nooit meer sou enigeen kon beweer dat Kaaps ’n mindere taalvariant is nie, want Small het, soos in sy dramas, gewys dat hierdie variant hoër funksies kon omarm op dieselfde wyse as die sogenaamde Standaard-Afrikaans.

Foto: www.flickr.com

Foto: www.flickr.com

Ons onthou ook Adam Small as die man wat later stil geword het, wat teruggetrek het. Vir baie jare het Small nooit in die openbaar verskyn nie. Dalk was dit die “bitter strewes” van ander wat hom so seergemaak het dat stilte sy enigste antwoord was, maar Adam Small was ten alle tye “van die haat ontdaan”. Toe hy uiteindelik sy stilte verbreek het, was daar weer ’n vriendelike, gryskopman wat amper verbaas was dat hy nog onthou word. Vir jonk en oud was daar ’n glimlag en ’n tyd vir ’n geselsie.

ʼn Hartseer dr. Theuns Eloff, voorsitter van Dagbreek Trust, sê hoewel Small aan die einde van sy lewe klein in gestalte was, was hy ʼn reus onder sy tydgenote en vir Afrikaans. “Ons eer sy nagedagtenis en sal voortbou op die groot werk wat hy begin het.” Eloff dink veral aan sy vrou, Rosalie, en Small se familie in hierdie tyd.

“Hy was my mentor. Suid-Afrika en Afrikaans het een van sy grootste seuns verloor. Adam Small is dood.” Só skryf dr. Michael le Cordeur, hoof van die Departement Kurrikulumstudie en Afrikaanse dosent aan die Universiteit Stellenbosch. “Lank lewe Adam. Lank lewe Afrikaans.”

Foto Ofm.co.za

Foto: Ofm.co.za

Maroela Media het met kollegas van Small gesels om te hoor hoe hulle hom sal onthou. In dié podsending lees Small sy gedig “Wie’s hy” voor.

Dié klank is deur RSG, die Woordfees en Naledi-uitgewers verskaf in die boek “Vi’ Adam Small”. Naledi het ook die laaste twee van Small se boeke uitgegee.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

JC ·

Rus in vrede oom, nou is dit net Breyten wat oorbly van die Sestigers.
‘n Hartseer dag vir Suid-Afrika en Afrikaans!

Eliza-beth ·

JC ek stem. Ekself sou hom nou net nie “oom’ noem nie, hy was ‘n waardige heer wat kon speel met die taal.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.