Ma red kinders uit brandende huis: Seun (14) in koma

Lelani en Wynandt Vermaak. Foto: Facebook

ʼn 14-jarige seun van die Wes-Kaap is in ʼn kritieke toestand in die Tygerberg-hospitaal opgeneem nadat hy ernstige brandwonde opgedoen het toe die gesin se huis deur ʼn brand verswelg is.

Wynandt Vermaak, ʼn gr. 8-leerder aan die Hoërskool DF Malan, het brandwonde aan 60% van sy lyf opgedoen en word in ʼn geïnduseerde koma in die hospitaal se waakeenheid gehou. Intussen word Wynandt se ma, Lelani Vermaak, in die Louis Leipoldt Mediclinic vir brandwonde aan haar hande en voete behandel nadat sy in ʼn brandende vertrek ingehardloop het om haar seun te red.

Morne, Wynandt se pa, het aan Maroela Media gesê Wynandt is Dinsdag weer teater toe geneem waar sy wonde skoongemaak en verbind is. “Sy toestand is steeds kritiek, maar die dokters is tevrede met sy lewenstekens. Hy is nog nie buite gevaar nie, maar sy toestand is stabiel,” het Morne gesê.

Volgens Morne is dit onduidelik wanneer Wynandt uit die geïnduseerde koma gebring sal word. “Die pyn sal natuurlik ondraaglik wees as hy nou moet wakker wees, so hy sal nog vir ʼn hele rukkie in die koma gehou word. Hy sal natuurlik veloorplantings nodig hê en sal tussen vier en ses weke in die hospitaal moet bly.”

Morne het gesê hoewel Wynandt in ʼn koma is, toon hy wel geringe reaksie as daar met hom gepraat word, soos sy been of oë wat beweeg. Boodskappe van bemoediging wat van oral oor instroom word vir hom gelees om sy gemoed te versterk.

Wynandt Vermaak. Foto: Facebook

Lelani sal ook veloorplantings aan haar voete moet kry en is tans in baie pyn, sê Morne. “Lelani is ʼn fighter. Ek dink emosioneel is dit nou vir haar baie moeilik omdat sy graag by Wynandt wil wees en nie kan nie. Ons het met die dokters gereël dat ons haar een dag na hom toe sal neem in Tygerberg-hospitaal sodat sy hom net kan sien en ʼn rukkie by hom kan wees,” het hy gesê.

Lelani het aan Maroela Media vertel hoe sy Donderdag deur die nag wakker geword en stampgeluide op die houtvloere in die huis gehoor het. Die gesin se huis is in Boston in Kaapstad. Sy het gaan ondersoek instel toe sy skielik ʼn venster hoor ontplof het. “My eerste gedagte was dat daar ʼn inbreker in die huis is. Ek het Wynandt se kamerdeur oopgemaak en net rook en vlamme in die kamer gesien. Ek kon niks sien nie, nie die meubels of vir Wynandt of ons hond wat altyd by hom slaap nie,” het sy vertel.

Die Vermaak-gesin se huis nadat die grootste gedeelte van die huis Donderdagnag (6 Julie 2017) afgebrand het. Foto: Verskaf

“Ek het gesien die gordyne in die kamer brand en toe sien ek vir Wynandt. Hy was aan die brand. Ek het sy naam geroep en hy het omgedraai en gesê: ‘Mamma, help my’.” Lelani het in die brandende kamer ingehardloop en vir Wynandt gegryp en hom uit die kamer uit gekry. In die gang het sy hom op die grond laat rol om die vlamme te blus. “Toe ek aan hom vat, was dit net velle,” het sy vertel.

Morne het intussen probeer om die vlamme in die kamer te blus, terwyl Lelani met Wynandt na buite gehardloop het. Morne vertel hy kon sien hoe die vlamme al langs die plafon in die gang af versprei. Lelani het intussen teruggehardloop in die huis en die egpaar se vyfjarige dogter, McKenzie, in haar kamer gegryp en na buite gehardloop.

Buite het sy gesien hoe Wynandt probeer om die vlamme met ʼn tuinslang deur die venster te blus. “Ek dink daar het so baie adrenalien deur sy lyf gepomp, hy het nie besef hoe erg hy gebrand het nie. Ek het ook nie besef hoe ek gebrand het totdat ek later in die ambulans gesit het nie,” sê sy.

Die Vermaak-gesin se huis nadat die grootste gedeelte van die huis Donderdagnag (6 Julie 2017) afgebrand het. Foto: Verskaf

Op daardie oomblik het ʼn ambulans in die straat voor die huis verbygery en Lelani het vir die bestuurder gewaai om stil te hou. “Ek het vir hom dankie gesê dat hulle so vinnig gekom het en gevra wie het hulle gebel. Hy het gesê niemand het gebel nie. Hy was net toevallig daar.”

Morne en McKenzie is gelukkig nie in die brand beseer nie. Wynandt se hond, Keola, is egter in die brand dood nadat die rook haar oorval het.

Volgens Morne is die huis byna heeltemal in die brand vernietig. “Dit is eintlik net die vooraansig van die huis wat oorgebly het. Minstens driekwart van die huis sal gesloop moet word,” het hy gesê. Hy het gesê die oorsaak van die brand is nog nie met sekerheid vasgestel nie.

Intussen word die gesin gedra deur gebede en boodskappe van ondersteuning. Daar is ook ʼn Facebook-blad op die been gebring waar boodskappe met Wynandt gedeel kan word. “Die laer van ondersteuning om ons is net ongelooflik,” het Morne gesê. “En die eersteprys is natuurlik dat ons almal die brand oorleef het. Daarvoor is ons ongelooflik dankbaar.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

26 Kommentare

Mrs.B ·

Alle sterkte aan die jong seun en sy familie. Ons hou julle in ons gebede en bid vir spoedige herstel. Wat is die Facebook blad se naam waar ons boodskappe kan stuur?

Hester ·

Die facebook bladsy se naam is “Word gou gesond Wynandt Vermaak”

Anoniem ·

Here, dankie dat U die ambulans op daardie spesifieke oomblik daarheen gestuur het, so ‘n eenvoudige dog kritieke wonderwerk! Sal U hierdie gesin asseblief met U liefde omvou en U wakende hand oor hulle hou? Amen

Marga ·

jitte tog ,,,dus ongelooflik verskriklik…wel gedaan mamma Lelani,,sterkte seun…GOD IS GROOT ,,,sterkte aan gesin

MissDemeanor ·

Interesant hoe mense voel dat God die ambulans gestuur het, maar wie het dan die brand gestuur?

Pieterlewismuts ·

Al ken ek julle nie, word julle as gesin uit die diepte van my hart alle sterkte toegewens.

Pop2 ·

Die veggees van n moeder!! Baie sterkte aan die gesin. Ons bid die Heer se genade en genesing oor julle af.

Rina ·

Wat n beondere vrou en ma!!
Snaaks dat die pa nie ook probeer het om die twee kinders te red nie en eerder die brand wou blus. Dis aardse goed.

Anoniem ·

Lees mooi – dis die seun wat so gebrand het wat die brand probeer blus het. Hy was so vol adrenalien dat hy op daardie stadium nie pyn gevoel het en besef hoe seer hoe erg hy gebrand het nie.

Anoniem ·

Skuus, ek het nou self weer mooi gaan lees – pa én seun het die vlamme probeer blus.

Ai ·

Sterkte aan die gesin, hoop ma en seun word albei gou gesond. Verskriklik storie.
Gebede is met julle ?

Attie van Tonder ·

Lelani is fondswerwer en bemarker by Huis Zonnekus Milnerton. Ons het ook begin met insamelings. Anne-Marie kan gekontak word by info@huiszonnekus en ek by bestuurder@huiszonnekus. Geldelike donasies kan by ons trustrekening inbetaal word. Rekening – Huis Zonnekus. Absa Milnerton 4044300711 verwysing Lelani. Hierdie rekening word twee keer per jaar ge-oudit en is veilig. Huis was ‘n huurhuis en korttermyn versekering het verval. Baie dankie aan almal wat vir hulle bid en ook boodskappe wat ons aan hulle kan oordra. Asseblief moenie ons nou spam nie. Net mense met opregte bedoelings asseblief.

Johan Schutte ·

Dit ruk mens dat so iets kon gebeur, maar ons Verlosser se ingrype is duidelik sigbaar. Ons loof Hom daarvoor. Sterkte en gebede vir al die familie lede.

Johann cb ·

Ai, ek is só jammer oor hierdie ramp. Ek hoop net nie dat die jongeling skelm gerook het nie…

Blommie ·

So what!!! As hy wel gerook het. Ek twyfel sterk of die brand moetswillig gestig is soos baie ander vandag doen oor hulle dan kla oor dienste. Dank liewer die HERE dat die gesin geseën sal word. Moenie altyd ‘n pen gryp en skryf “Ek wonder maar net”, sulke ondeurdagte skrywe lok net oordeel en ons mag nie oordeel nie. Sterkte aan die gesin??

ilze ·

Ek kan nie glo dat iemand net altyd die slegte goed kan sê nie-Wynandt sou NOOIT ooit aan n sigaret vat nie wat nog te praat van om dit te rook nie.Hy is n baie goeie seun met n hart van goud-ASB moenie goed sê as jy nie die ware feite het nie-Die mense het alles verloor wat hulle besit op 1 aand, dis aan God te danke dat hulle lewens gespaar is

Ekke ·

Wat is besig om te gebeur? Alles en almal brand of verbrand? Wie het hierdie huis aan die brand gesteek? Kannie vanself gebeur nie! Elektriese kortsluitings ? Swak vakmanskap? Wat?? Sterkte aan die beseerdes!!

Andre van der bank. ·

Die probleem is nie net die brand nie, maar om te vlug daarvan. Huise in S.A. is so omring met staal, sekerlik meer daarvan as bakstene. Tydens n brand word rook ingeasem, jy soek uitkom kans. Maar vensters, deure word deur tralies versper. Uitkom is amper ontmoontlik.

anton ·

Andre jy praat waar. Ons leef mos in tronke vir ons eie veiligheid!!!
Die staat doen niks en sal ook nooit iets doen om die gewone burger se veiligheid te waarborg nie al staan dit in die wetboek dat hulle dit moet doen!

Tannie ·

Mens kan sien hierdie mamma het sterk moedersinstink. Haar fokus was om haar kinders uit die brandende huis te kry. Haar kinders is geseënd om so ‘n wonderlike ma te hê. Ek hoop en bid hulle word almal vinnig gesond.

Cheryl willemse ·

Word gou gesond vriendin Jesus het a plan met jou lewe. Duiwel het sy slag probeer slaan maar hy is die leunaar ,(God’s plan is to prosper and not to harm) Hy sal Julle dra glo in hom. Ek bid vir jou en Wynand . Ek is stom geslaan en terselfde tyd hartseer ek kan dit nie glo nie my trane oorval my nog elke keer as ek die berigte lees of an die aangeleentheid dink. Sterk gou aan. Baie liefde Cheryl Willemse .

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.