Ma skenk nier vir siek dogter

Larochelle en haar ma Lisa groet voor die operasies. Foto: Facebook

Lisa Steenberg het 50 kg se gewig afgeskud en haar gesondheid reggeruk om ʼn nier te kan skenk vir haar 13-jarige dogter Larochelle.

Larochelle is in November 2015 met ’n chroniese niersiekte gediagnoseer en moes sedertdien met ’n nierfunksie van net 5% oorleef. Woensdag het alles egter verander toe Lisa (31) ʼn nier vir Larochelle geskenk het.

“Dit het baie goed afgeloop en die nier het dadelik begin reageer,” het Donald Plekker, Larochelle se pa, aan Maroela Media gesê. Volgens Plekker is Lisa omstreeks 7:30 in die teater in en is Larochelle omstreeks 9:30 ingestoot.

Larochelle, ʼn leerder aan die Laerskool Dagbreek in Welkom, moes die laaste tyd vier tot vyf keer per dag dialise ontvang. Haar ouers het die dialise tuis vir haar gedoen. Sy kon sedert Januarie nie meer skoolgaan nie.

“Alles lyk goed. Hulle sukkel net nog ʼn bietjie om Larochelle se bloeddruk af te bring. Ma en dogter is nog in die hospitaal en Lisa sê dit is seerder as wat sy gedink het dit gaan wees. Larochelle gaan goed aan hoewel die pyn kom en gaan.”

Volgens Plekker sal Lisa en Larochelle nog ʼn rukkie in die Charlotte Maxeke-hospitaal in Johannesburg moet vertoef.

Larochelle het in Mei vanjaar in ’n koma verval en is in die waakeenheid van die Universitas- Akademiese-hospitaal in Bloemfontein behandel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

corrie ·

Maroela Media dit is Lisa Steenberg nie Steenkamp. Dankie vir die berig

Dalene de Vente ·

Dagsê Corrie
Dankie vir jou valkoog! Ons vra om verskoning vir die oorsig, die berig is reeds gewysig.
Groetnis
Dalene
Nms. Maroela Media

Annelize ·

Hoe wonderlik is ‘n ouer se liefde darem nie! Ek sal ook, sonder om eers een keer te dink, enigiets vir my kinders skenk. As dit by jou kinders kom, is daar nie vrae te vra nie, en geen opoffering is te groot nie.

Lee ·

Wat ‘n mooi storie !
Hoop van harte dat altwee volkome sal herstel en goeie gesondheid sal geniet.
ORGAANSKENKING is so baie belangrik – in hierdie geval lewend tussen families.

Willem ·

My suster Leonie van Dyk het twee-en-twintig jaar gelede aan my ‘n nier geskenk. As dit nie vir háár was nie was ek lankal dood!

Cherokee ·

50 kg gewig afgeskud om dìt vir haar meisiekind te doen! En dit terwyl jy en ek sukkel en veg om 10 kilos weg te gooi…… wat ‘n vrou!!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.