Mahlobo net die man vir Zuma se kernkragplan

David Mahlobo, die voormalige minister van staatsveiligheid en nou minister van energie. Foto: GCIS (Maart 2017)

Skaars twee dae nadat David Mahlobo as die nuwe minister van energie aangestel is, het hy in sy eerste amptelike toespraak gesê Suid-Afrika sal met sy kernkragplanne voortgaan.

Verskeie politieke rolspelers het Dinsdag in reaksie op pres. Jacob Zuma se jongste kabinetskommeling gesê die president het juis die regering se omstrede kernkragplanne in gedagte gehad toe hy op dié kabinetsverandering besluit het.

Mahlobo het op ʼn beleidsvergadering van die internasionale forum oor vierdegeslagkernreaktors, wat Donderdag in Kaapstad gehou is, gesê Koeberg-kernkragsentrale is een van die land se goedkoopste bronne van elektrisiteit.

“Derdegeslagkernkragaanlegte is steeds ʼn goeie ekonomiese keuse vir Suid-Afrika, terwyl vierdegeslagkernreaktors ʼn nog beter ekonomie belowe. Ons sien daarna uit om hierdie gevorderde energiestelsels vir Suid-Afrika se ontwikkeling in te span,” het Mahlobo gesê.

Die minister het in sy toespraak verwys na die regering se geïntegreerde hulpbronplan van 2010 waarin voorsiening gemaak word vir 9,6 GW nuwe kernkrag.

Die meesterplan vir Suid-Afrika se energietoekoms tot 2030 word egter as heeltemal verouderd beskou. ʼn Konsepweergawe van die nuwe plan vir energie tot 2050 wys dat kernkrag onnodig is voor 2037, en dat dit boonop te duur is vir die land.

Omgewingsaktiviste buite die Wes-Kaapse hooggeregshof (April 2017) Foto: Catherine Rice/ANA

ʼn Kernbom vir SA se ekonomie

Kernkrag is nie hoofsaaklik ʼn omgewingskwessie nie, maar eerder ʼn ekonomiese kwessie. Min. Tina Joemat-Pettersson het al in 2014 ʼn ooreenkoms met die Russe in die geheim gesluit wat Suid-Afrika tot ʼn strategiese vennootskap van 20 jaar met dié land verbind.

Volgens ʼn video wat die Organisasie teen Belastingmisbruik (Outa) oor die regering se kernkragbouplanne gemaak en in September 2016 geplaas het, is die ooreenkoms met Rosatom aangegaan, wat dit die geleentheid sou bied om kernkragstasies in SA te bou. Rosatom is ʼn Russiese staatsbeheerde entiteit wat berug is vir wanbestuur.

Outa beweer die land se planne om kernkragstasies te bou was deurentyd gehul in geheimhouding. “Dit is in die tyd tussen die afdanking van Nhlanhla Nene en die heraanstelling van Pravin Gordhan in Desember 2015 goedgekeur, moontlik terwyl Des van Rooyen minister van finansies was. Die kernkragplanne se goedkeuring hou ook direk verband met die berugte Gupta-familie se verkryging van ʼn uraanmyn aan die einde van 2015,” het Wayne Duvenhage op Outa se webwerf geskryf.

“Rusland verdien ook glo twee roebels uit elke roebel wat in die buiteland belê word. Dit is duidelik Rusland sal baat by die kernkragplanne, en nie Suid-Afrika nie.

“Indien Suid-Afrika besluit om wel voort te gaan met die kernkragplanne en geld hiervoor leen, sal die nasionale skuldlas tot R3 biljoen (“trillion”) styg, uitgeskryf lyk die bedrag so: R3 092 300 795 221,00. Dit sal Suid-Afrika se voorland word, tensy ons dit stopsit,” het Outa gesê.

Die regte minister vir die kernkragbouprogram

Mahlobo is Suid-Afrika se derde minister van energie binne die bestek van ʼn jaar. Joemat-Pettersson is van die pos onthef in Maart kort voordat die Wes-Kaapse hooggeregshof bevind het die staat se verkrygingsprosesse vir sy kernkragbouprogram is onwettig en ongrondwetlik.

Maroela Media het berig regter Lee Bozalek het in sy uitspraak die Suid-Afrikaanse regering se ooreenkomste met Rusland, die VSA en Suid-Korea vir die bouprogram ter syde gestel. Die hof het ook bevind Joemat-Pettersson het onwettig opgetree toe sy in 2016 die verkryging van kernkrag na Eskom oorgeplaas het.

Joemat-Pettersson se opvolger, Mmamoloko Kubayi, is die week herontplooi na die kommunikasie-ministerie nadat pres. Zuma glo nie gelukkig was met haar vordering met die kernkragbouprogram nie.

Daar word ook wyd deur politieke en ekonomiese kenners bespiegel dat sowel Nene as Gordhan as ministers van finansies afgedank is nadat hulle onder meer die regering se beoogde kernkragplan teengestaan het.

sonkragpaneel-kernkrag-elektrisiteit

Foto: Skeeze/Pixabay.com

Kernkragplan, ʼn ramp in wording

Dr. Roelof Botha, ʼn ekonomiese navorser en deeltydse dosent by GIBS, het vroeër vanjaar in ʼn meningstuk op Maroela Media gesê toekomstige geslagte Suid-Afrikaners sal nog duur betaal indien die land se planne vir kernaanlegte van R1 biljoen (“trillion”) sou voortgaan.

“Dit is kommerwekkend dat die departement van energie skynbaar tot nou toe die raad van tegniese deskundiges rakende die koste van die kernkragprojek ignoreer.

“Een van die grootste enkele foute wat deur dié departement begaan en wat aan die kaak gestel behoort te word, is die oorskatting van die koste van hernubare bronne van energie, veral wind- en sonkrag,” het Botha gesê.

Hy het gepleit dat die departement na die Wetenskaplike en Nywerheidnavorsingsraad (WNNR) se model vir ʼn optimale toekomstige energiebeleid moet luister. Die beleid is gegrond op die jongste beskikbare koste en bevat ook geen kunsmatige beperkings op die hoeveelheid elektrisiteit wat in die toekoms uit hernubare bronne verkry kan word nie.

“Die insluiting van sulke beperkings in die departement se weergawe van die langtermyn-samestelling van die verskillende energiebronne is natuurlik gedoen om die uitsluitlike rede om voorsiening te tref vir die vergroting van die aandeel van kernkrag.

“Dit gaan ʼn mens se verstand te bowe dat ʼn regering so met die sekerheid en bekostigbaarheid van die land se toekomstige energiebehoeftes kan dobbel,” het Botha bygevoeg.

Talle stemme teen kernkrag

Brian Dames, voormalige uitvoerende hoof van Eskom, het Woensdag nog bevestig Suid-Afrika het nie kernkrag nodig nie.

Dames het voor die parlementêre portefeuljekomitee vir openbare ondernemings getuig as deel van ʼn ondersoek oor staatskaping van ondernemings in staatsbesit. Hy het gereageer op ʼn LP se vraag oor of dit voordelig sou wees vir Suid-Afrika om nuwe kernkragstasies te bou.

“Daar is absoluut geen behoefte aan [nuwe] kernkrag … ons het dit nie nodig nie. Tweedens, ek dink nie ons kan dit bekostig nie,” het hy gesê.

Nic von Wielligh het in 2014 tydens die bekendstelling van sy boek, Die Bom, wat handel oor Suid-Afrika se kernwapenprogram, op ʼn vraag uit die gehoor gesê hy weet nie waarom die regering weer met ʼn kernkragbouprogram sou wou begin nie. Von Wielligh het toe gesê die kerntegnologie word as verouderd beskou en bykans niemand word daarin opgelei nie.

Von Wielligh skryf in sy boek: “Daar is tans wêreldwyd ʼn tekort aan kernkundiges. Selfs in Frankryk, waar sowat 78% van die elektrisiteit deur kernkragstasies opgewek word, is daar ʼn ernstige tekort aan belangstelling. Die Franse beraam dat 500 nuwe ingenieurs jaarliks in die veld opgelei moet word. Tans haal hulle nouliks 350.

“Selfs al word al die kernkragstasies in ʼn land afgeskakel, kan kernkundiges nog dekades lank nodig wees om die reaktors uit diens te stel en veilig af te skakel, asook kernafval veilig te hanteer en te berg. Die probleem hoe om kernbegrafnisondernemers op te lei en gemotiveerd te hou, is ʼn tameletjie vir menige lande.”

Von Wielligh meen behalwe die tegniese en finansieringstruikelbokke is daar ook nog die hoë politieke hekke wat oorkom moet word. “As die kernprogram beskou gaan word as ʼn middel om aansien en mag te verwerf en nie om in ʼn arm land duur maar noodsaaklike energie te lewer nie, wag daar groot probleme. Daar lê interessante tye vir Suid-Afrika voor.”

Die sonkragaanleg in De Aar in die Noord-Kaap (Foto: @eskom_sa, Twitter)

Wat kan jy doen?

Dit laat ʼn mens vra: Wat kan gewone Suid-Afrikaners tog doen ten opsigte van ʼn kernkragplan wat lyk of dit eenvoudig oor die land se ekonomie gaan stoomroller?

Suid-Afrikaners kan organisasies soos Outa, die Suider-Afrikaanse geloofsgemeenskappe se Omgewingsinstituut (Safcei) en Earthlife Africa ondersteun in hulle deurlopende stryd teen die planne se instelling.

Verder kan gewone landsburgers ook in hulle elektrisiteitsbehoeftes begin voorsien deur te belê in hernubare energiebronne. “Verbruikers kan die kaping van energievoorsiening stuit deur gedeeltelik aan hulle eie energiebehoeftes te voldoen. Verbruikers mag tans tot 1 megawatt opwekkingsvermoë vir eie gebruik ontwikkel,” het dr. Wynand Boshoff, die VF Plus se provinsiale leier in die Noord-Kaap, gesê.

“Dit lyk dus of dit vir die huidige ANC nie genoeg is om die staat te kaap nie, hulle kaap nou die burgers ook. Suid-Afrikaners kan dit afweer deur, terwyl dit nog nie gereguleer word nie, soveel moontlik hernubare krag te installeer,” het hy bygevoeg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

dolphin ·

ai tog as die minister wat die goedgekering gevra word vir zuma en zuma se jaja dink nie geld vir suid afrika nie .as die minister se nee vir dit dan zuma kwaad word afgedank vir die minister dit werk nie so nie .dis baie geld om te doen as dit wil toekoms herbou moet die seker maak om dit bevestig

Eish ·

Die keiser se tyd raak min en n benoude bok maak benoude sponge. Ek dink ons kan nog n vuurwerkvertoning verwag tot tyd en wyl die keiser ontruim.

Jacobus ·

Paragraaf 11 – Staatskuld R3 Biljoen ons kan moes nog dan baie leen, dit moet seker R3 Triljoen wees.

Paragraaf 16 – R1 Biljoen vir ‘n kern aanleg, bou asb. vir my 10, dit moet seker lees R1 Triljoen.

Groete,

Cyril Blackburn ·

Dagsê Jacobus
Dankie vir jou kommentaar! Triljoen in Afrikaans verwys na ʼn “miljoen miljoen miljoen” (18 nulle). Dié is volgens Skryf Afrikaans van A tot Z (bladsy 640): “Wat die Amerikaners [VSA] ‘trillion’ noem is in Afrikaans biljoen.”
Ek hoop dit bring klarigheid!
Groetnis
Cyril van Maroela Media

Gerhardt ·

Dit is seker die kern- ramp wat Siener oor geskryf het.Het gese daar gaan niks oorbly nie.

Lance ·

Hoekom wag hulle nie vir Medupi om klaar gebou te word en daarvan kyk na die aanvrag na krag.Ek dink hier word dom en oorhaastige besluite geneem of is daar iets meer daaar agter,want ń klomp kragstasies is weer in bedryf en nuwes is gebou.Iets maak nie sin nie.

Wouter ·

1 Trillion het 12 nulle USA
1 Billion het 12 nulle Brits
1 Biljoen het 12 nulle SA

Freud ·

Terwyl die hele wêreld probeer om van kernkrag ontslae te raak trek hierdie land se prez die slim truuk om gou ñ kabinet skommeling te maak en dit deur te drum. Ek wonder maar net wat is st persentasie wins…..

Kat ·

Groot maatjie van Putin op die oomblik maar Putin gaan jou so deur die ore loer dit is net nie waar nie.Jy kan nie n Meester met n pre school vergelyk nie en Putin is die meester.Rusland was nog altyd agter ons minerale aan en nou is dit maklik want hulle kan met pre school onderhandel.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.