Opvolg: Randburg-skietery: Stukwerker skiet egpaar
ʼn Man en ʼn vrou is dood en nog iemand is ernstig beseer in ʼn skietvoorval by ʼn huis in Randburg.
Russel Meiring, woordvoerder van ER24, het gesê paramedici is na die huis in Witdoringweg ontbied waar talle beamptes van gemeenskappolisiëringsforums en die polisie reeds op die toneel was.
“Die liggaam van ʼn vrou is op die perseel gevind, maar sy het reeds aan haar beserings beswyk. Twee mans is ook op die toneel gevind. Een van hulle is kritiek beseer, terwyl die ander man ernstige beserings opgedoen het.”
Volgens Meiring het paramedici die mans op die toneel behandel voordat hulle na nabygeleë hospitale geneem is vir verdere mediese sorg. “Die kritiek beseerde man is egter kort na sy aankoms by die hospitaal, dood verklaar.”
Die presiese omstandighede rondom die voorval is nog nie duidelik nie en word ondersoek.