Man se liggaam in vlak graf gevind: Verdagte op vrye voet

Jan Minnaar. Foto: Verskaf.

Die 28-jarige man wat skuld beken het vir die gewelddadige moord op ʼn 43-jarige man van Piet Retief in Mpumalanga is tans op vrye voet nadat hy vroeër in hegtenis geneem is.

Jan Minnaar se liggaam is op 29 Augustus in ʼn vlak graf in ʼn plantasie buite Piet Retief in Mpumalanga gevind. Kol. Mtsholi Bhembe, woordvoerder van die polisie, het aan Maroela Media gesê werkers het ʼn hand by die grond sien uitsteek en het die polisie in kennis gestel.

Bennie Potgieter, die broer van Annemarie Lindeque, Minnaar se verloofde, het aan Maroela Media gesê die familie was op Maandag 28 Augustus by ʼn troue waarna hulle na Annemarie en Minnaar se huis is om saam te kuier.

Annemarie en Minnaar sou volgende maand in die huwelik getree het. Annemarie het ook twee dogters oor wie Minnaar as wettige voog aangestel is.

Potgieter vertel dat Minnaar vroeër vanjaar regstappe gedoen het nadat ʼn saketransaksie skeef geloop het. Die uiteinde van die hofgeding was dat die ander party vir Minnaar ʼn motorfiets verskuldig was. “Jan is teen 18:30 na die ander man toe om die motorfiets te gaan oplaai. Dit is die laaste wat ons hom gesien het,” het Potgieter gesê.

Volgens Potgieter het die familie hom teen Dinsdagoggend gebel om hom in kennis te stel Minnaar is nog nie tuis nie. Hulle het ook mense gevra om op die uitkyk te wees vir hom.

Bhembe het gesê Annemarie was die oggend ook by die polisie om ʼn vermistepersoonsaak aanhangig te maak. “Ons het toe later uitgevind die polisie het sy liggaam reeds vroeër die oggend opgespoor.”

ʼn Man wat lank saam met Minnaar gewerk het, het volgens Potgieter Dinsdagaand by die huis opgedaag en na Minnaar gevra. “My sussie het toe agterdogtig geraak en die polisie gekontak. Toe hy hoor sy praat met die polisie het hy onmiddellik in die straat begin op hardloop,” het Potgieter gesê.

Die man is aangekeer en ingeneem vir ondervraging. “Hy het teen Woensdagoggend erken hy het Jan doodgemaak en ook aan die polisie gaan uitwys waar hy sy liggaam in ʼn vlak graf begrawe het.”

Volgens Bhembe is die verdagte dieselfde man by wie Minnaar die motorfiets wou gaan haal. Bhembe het gesê Minnaar het Maandag na die verdagte se huis gery waar ʼn rusie ontstaan het. “Dit is toe dat Minnaar doodgemaak is.”

Minnaar is glo met ’n kabelbinder verwurg en 20 keer met ʼn mes gesteek. “Die laaste wond was in sy nek, waarna hy gesterf het,” het Potgieter gesê. Bhembe het aan Maroela Media bevestig daar is eiendom van Minnaar in die verdagte se besit gevind.

Die saak het Vrydagoggend vir die eerste keer in die Piet Retief-landdroshof voorgekom waarna die landdros gesê het dit het meer as 48 uur geneem om die saak voor die hof te bring. Die verdagte is toe vrygelaat.

Volgens Bhembe was die polisie Donderdagmiddag nog besig om verklarings af te neem by die verdagte. Potgieter het gesê ʼn speurder wat by die ondersoek betrokke is, is nou besig om bewysstukke bymekaar te maak en die saak verder te ondersoek en moontlik die man weer vas te trek.

Bhembe het gesê die polisie is nie van plan om die saak net daar te laat nie. “Die verdagte sal aangekeer word en gedagvaar word om in die hof te verskyn.”

Minnaar was ʼn werker in die lykshuis in die Piet Retief-hospitaal. Hy sal veras word en ʼn gedenkdiens word Woensdag om 11:00 in die Ou Apostoliese kerk in Piet Retief gehou.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

17 Kommentare

Theresa B ·

Ek stem. Hy erken hy het die man vermoor en hulle laat hom vry. Groter sirkus as hier in SA kry jy nie. Dis lagwekkend man!!

Lee ·

Die landdros is seker ‘n ander ras want dis al wanneer ‘n wit vermoorde man se saak uit ‘n hof gegooi sal word omdat dit kamstig 48uur gevat het. Twak man!!!

Charmaine ·

Dis amazing! Vermoor iemand en erken dit en jy loop vry. Verdedig jouself en jy word toegesluit. Hoe op dees aarde maak dit sin?!

Chris Ws ·

Daar moet ‘n klag van onbevoegdheid teen die betrokke polisie lede en ondersoek beampte gele word.Sulke onbevoegdhede deur “opgeleide” polisie gebeur te veel.

Adriaan ·

Hoekom is hy nie onmiddelik na vrylating herarresteer nie?

alida ·

Die SAPD het hulle werk gedoen. Lê ‘n klag teen die Landdros wat hom vrygelaat het.

Genieve ·

Vrylating??????..en hy erken hy het die man doodgemaak.Sirkus SA.Gaan hulle hom weer opgespoor kry.?

Pieter ·

Die …… gebeur net in SA. Sal nils van komi. Was dit anders om gewees wad hy toegesluit gewees. (Witbank voorval)

Koos B ·

Nou weet die KFC manne hoe om uit te kom sonder borg.Pleit net skuldig dan is julle vry.HA HA HA vir die land wat al hoe meer donker Afrika word.

Tanya ·

Dis vir my ongelooflik. Jy erken jy het iemand vermoor maar jy word vrygelaat.

snoefie ·

Hoeveel van hierdie landroste het die nodige opleiding gehad? moordsake verjaar mos nooit nie. wataak dit saak as dit meer as 48 ure later eers aangemeld was?

anna ·

Nou as hy op vrye voet is hoekom moet die manne wat die man nie eerz vermoor het nie en net sjrik gemaak het in die kus dan tronkstraf uitdien

Dina ·

Ja, Suid-Afrika… Moordenaarsparadys. Maar mense kry stuipe oor die KFC en doodskisgevalle waarin niemand eens naastenby dood is nie.

Yolie ·

Jan Minaar was ‘n man wat hard gewerk het. Baie aangename man. Het altyd uit sy pad gegaan om mense te help. Rus in Vrede Jan. Sterkte aan familie en vriende van Jan.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.