Die KwaZulu-Natalse polisie ondersoek ʼn voorval waarin ʼn man glo ʼn ander man Woensdagoggend langs ʼn straat met ʼn betonsteen doodgeslaan het.
Russel Meiring, woordvoerder van ER24, het aan Maroela Media gesê die voorval spruit glo uit ʼn geveg wat omstreeks 07:20 langs Boomstraat in Pietermaritzburg uitgebreek het.
“Sover ons wete strek, was die voorval nie verwant met padwoede nie. Twee mans het na bewering oor iets begin baklei; die rede is onbekend en sal deel vorm van die polisie se ondersoek. ʼn Derde man het vermoedelik tussenbeide probeer tree en is in die proses ook beseer,” het Meiring gesê.
Volgens Meiring was die polisie reeds op die toneel toe paramedici daar opgedaag het.
“Een persoon het op die grond gelê en twee mans was in die polisie se aanhouding. Die man op die grond het erge beserings aan sy gesig opgedoen en geen tekens van lewe getoon nie. Niks kon vir hom gedoen word nie en hy is op die toneel dood verklaar.”
Die ander twee mans het matige beserings opgedoen. Hulle is op die toneel behandel en onder polisiebewaking na die Edendale-hospitaal geneem vir verdere behandeling.
Laat hul maar hul geskille onderling oplos. As jy polisie toe gaan duur dit maande om die “skuldiges” op te spoor en wanneer hul vasgetrek word duur dit maande en baie belastingbetalers se geld om ‘n oordeel te fel. Laat staan hul dat hul hul eie ding doen.