Man wat gasontploffing oorleef, sterf skielik

Faan Schutte. Foto: Verskaf

ʼn Man van Vanderbijlpark wat twee jaar gelede wonderbaarlik oorleef het nadat hy erge brandwonde opgedoen het toe ʼn gasbottel in sy gesig ontplof het, is verlede week onverwags in sy huis dood.

Faan Schutte (65) is Woensdagmiddag dood in sy rolstoel in sy huis aangetref. Carla Schutte, Faan se vrou, het aan Maroela Media gesê hy is dood as gevolg van ʼn bloedklont deur sy hart. “Hy sou onmiddellik gesterf het en nie eens geweet het wat gebeur nie. Hy het geen pyn gehad nie,” het Carla hartseer gesê.

Maroela Media het vroeër berig Faan, wat vroeër voltyds skool- en universiteitsrugbyspanne afgerig het, het op 17 Augustus 2015 by ʼn vriend in Vanderbijlpark gekuier toe die ongeluk gebeur het. Die gasbottel van ʼn gasverwarmer het ʼn vreemde geluid gemaak en Faan wou die gasbottel toedraai toe dit skielik in sy gesig ontplof het.

Faan het erge brandwonde aan sy gesig, bolyf, bene, arms en hande opgedoen en is lank in die waakeenheid van die Mediclinic Emfuleni-hospitaal en later die Netcare Milpark-hospitaal behandel. Volgens Carla moes Faan later ʼn operasie ondergaan aangesien die are in sy bene baie beskadig is weens die brandwonde. Dit het veroorsaak dat hy bloedklonte in sy bene gekry het.

In November verlede jaar is sy regterbeen tot onder sy knie geamputeer nadat hy gangreen in sy been ontwikkel het. Volgens Carla het hy wel ʼn prostese gekry, maar het hy baie gesukkel om met die prostese te loop en het hy erge pyn in sy rug gehad weens ou rugbybeserings.

In Februarie het die egpaar en hul 17-jarige seun, JP, teruggetrek Parys toe waar hulle voorheen tien jaar lank gewoon het en in Maart het Carla haar werk bedank om voltyds na Faan om te sien.

“Woensdagoggend het ek en JP gery om sy ID-kaart by binnelande sake te gaan afhaal en ʼn vriend sou by Faan by die huis kom kuier het. Faan het ons nog aangejaag om vinnig te maak, want hy het gesê hy wou graag sien hoe sy seun se eerste ID-kaart lyk,” het Carla vertel. Sy het dit nie daardie dag geweet nie, maar Faan se vriend het hom die oggend laat weet dat hy weens ander verpligtinge nie die dag sou kom kuier nie.

“Toe ons by binnelande sake aankom, het ek besluit om sommer ook vir my ID-kaart aansoek te doen terwyl ons nou daar is. Ek het huis toe gebel om Faan te laat weet ons gaan ʼn bietjie langer wees, maar die telefoon was beset. Ek het vir hom ʼn WhatsApp gestuur, maar hy het dit nie gelees nie. Elke keer as ek huis toe bel, het die lyn beset gebly,” het Carla gesê.

Sy het gesê sy het gedink Faan se vriend is by hom, maar het later bekommerd geraak omdat Faan nie op haar boodskappe reageer nie. Carla het haar seun, wat by ʼn plaaslike veiligheidsmaatskappy werk, gevra om te gaan ondersoek instel.

“Stephan [Carla se seun] het by die huis ingekom en Faan in sy rolstoel in die gang gesien met sy kop agteroor. Sy selfoon het op die grond gelê en sy hondjie het onder die rolstoel gelê. Hy was reeds dood.”

Volgens Carla moes Faan tussen 11:00 en 13:25 gesterf het. Paramedici is na die huis ontbied en hulle het hom amptelik dood verklaar.

Faan Schutte soos hy gelyk het in die hospitaal kort nadat hy erge brandwonde opgedoen het. Foto: Facebook

“Sy dood is so ʼn verskriklike skok. Daardie tyd met die gasbottelontploffing het ons gedink ons gaan hom verloor, maar hy het dit oorleef. Nou was daar niks fout met hom nie. Hy was nie siek nie en sy brandwonde het so mooi herstel. Maar nou is hy net weg,” het sy hartseer gesê.

“Ek voel bitter kwaad. Kwaad dat hy weggevat is en kwaad dat hy my en JP agtergelaat het. Ek mis hom so baie. Dit maak nog steeds nie vir my sin nie. Ek soek hom oral. Hy het alewig sport op die televisie gekyk en dan het ek maar in die kamer gaan TV kyk, want ek het wragtig nie kans gesien om heeldag sport te kyk nie. Nou is die TV af en die huis is stil en ek wens met my hele hart dat hy net hier kan sit en sport kyk.”

Sy sê sy is egter baie dankbaar vir die laaste vier maande van Faan se lewe omdat sy en JP soveel kwaliteittyd saam met hom gehad het. “Toe Faan so rugby afgerig het, het ons hom min gesien en half verby mekaar gelewe. Hierdie laaste vier maande kon ons heeltyd by mekaar wees en vir hierdie rukkie was hy net my en JP sʼn. En daarvoor is ek so dankbaar. Ek sal altyd aan daardie oomblikke vashou.”

Faan word oorleef deur Carla en JP, asook ʼn seun en dogter uit ʼn vorige huwelik en ʼn stiefseun en stiefdogter uit Carla se vorige huwelik. Begrafnisreëlings is nog nie bekend nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

DIRK JONKER ·

Daar was maar net een Faan Schutte. Was saam op skool en het saam by Yskor gewerk. Sy humor en grapgatgeit het ons baie vermaak. Sal jou altyd onthou, Faan! RIV.

Annarjie ·

Dirk my broer het alles genoem van Faan soos ons hom onthou – ook saam op skool en by Yskor gewerk. Dit was by verre die stoutes mens wat ek geken het.
Simpatie aan sy vrou en kinders.

Hanna ·

Sjoe! Maroela, ek dink die plasing van die foto van die arme man, wat in verbande verbind is, is ongevoelig en onnodig sensasioneel!

Leon ·

Baie tragies en hartseer.
Baie sterkte vir die gesin en familie. Ons mag kwaad wees oor sulke gebeure, maar ons moet ook weet SY planne is altyd vir ons beplan, op die regte tyd en op die regte plek.

SARIE VAN HEERDEN ·

Beslis ‘n besonderse mens, as jy die kommentare lees. RIV Faan, en sterkte aan die familie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.