Mangat-moord: Hof hoor gru-besonderhede oor liggaam

Die beskuldigdes staan agter regslui in die beskuldigingsbank. Van links is Estelle Ready, Gerhardus Pienaar Papenfus, Kevin Johnson en Ruvan Regionald Furst. Foto: Phillip Bruwer

Die beskuldigdes staan agter regslui in die beskuldigingsbank. Van links is Estelle Ready, Gerhardus Pienaar Papenfus, Kevin Johnson en Ruvan Regionald Furst. Foto: Phillip Bruwer

Die vier verdagtes wat in verband met die moord op Danie Dreyer (64), voormalige polisiebrigadier en sakeman van Pretoria, in hegtenis geneem is, het Woensdag weer gesamentlik in die stad se landdroshof verskyn vir die hervatting van hul formele borgtogaansoek.

Estelle Reddy (36), haar vriend Gerhardus Pienaar Papenfus (41), Kevin Johnson (29) en Ruvan Regionald Furst (42) staan tereg op aanklag van moord wat as ʼn skedule ses- misdaad aangehoor word.

Tydens hul eerste borgtogverskyning op 22 April het al vier in hul beëdigde verklarings aangedui dat hulle onskuldig gaan pleit. Die staat het die aansoek teengestaan. Die saak is daarna tot 26 April uitgestel aangesien die ondersoekbeampte, konst. Mokwena Mojapelo, weens werkverpligtinge nie vroeër in die hof kon verskyn om teen die aansoek te getuig nie.

Wyle Danie Dreyer. Foto: Facebook

Wyle Danie Dreyer. Foto: Facebook

Konst. Mojapelo het op 26 April in die hof getuig die staat het ʼn sterk saak en dat borgtog teengestaan moet word.

Hy het gesê Reddy het haarself op 4 April in die Villieria-polisiestasie oorgegee waarna sy aan die polisie uitgewys het waar Dreyer in sy kamer by sy huis in Villieria vermoor is. Mojapelo het aangedui dat Dreyer se kamer aan die brand gesteek is. Hy het nie gesê of dit heeltemal of gedeeltelik gebrand het nie. Hy het gesê Reddy het ook uitgewys waar Dreyer se liggaam in ʼn mangat in Capital Park gestort is, naby die huis in Flowerstraat waar Papenfus woon.

Volgens Mojapelo het dit die brandweer drie tot vier uur geneem om Dreyer se liggaam uit die mangat te verwyder. Dreyer se liggaam was glo in ʼn sak toegedraai en daar was chemikalieë oor hom gestort. Sy gesig was swart en onherkenbaar. Hy moes met behulp van tandrekords geïdentifiseer word.

Hy het gesê Reddy het ook Johnson en Furst se huise uitgewys. Mojapelo het getuig by verdere ondersoek is Dreyer se vuurwapen in ʼn kas in Papenfus se kamer gevind. Daar is ook twee plastieksakke met bebloede klere in sy kamer gevind. Papenfus het aangedui dat hy nie weet aan wie die klere behoort nie.

Die staat het aangevoer dat borgtog nie aan Reddy toegestaan moet word nie aangesien haar vrylating met die ondersoek kan inmeng. Die staat het ook gesê Papenfus moet nie borgtog kry nie aangesien mense bang is vir hom. Mojapelo het op hoorsê verneem dat Papenfus glo twee getuies met die dood gedreig het. Die staat het ook aangevoer dat Furst nie borgtog toegestaan moet word nie, aangesien hy ʼn vlugrisiko is en dat hy in sy borgtogaansoek gelieg het oor die hoeveelheid kinders wat hy het. Volgens die staat het hy net twee kinders en nie vier soos hy in sy aansoek genoem het nie. Een van sy kinders is ook dood en die ander kind bly by sy voormalige vrou in Nellmapius en nie saam met hom soos hy beweer het nie.

Mojapelo het getuig dat die polisie Furst se huis vyf keer ná Reddy en Papenfus se inhegtenisneming besoek het, en dat hy nooit tuis was nie. Die polisie het boodskappe gelaat dat Furst hom by die polisie moet aanmeld. Volgens Mojapelo het Furst homself uiteindelik op 12 April aan die Villieria-polisie oorgegee omdat “die oorledene ʼn geraas in sy ore gemaak het om homself oor te gee”. Furst het vroeër aangedui dat hy ʼn psigiatriese pasiënt is. Hy het ook genoem hy het ʼn wond aan sy hand opgedoen wat mediese behandeling benodig. Mojapelo het gesê die wond is vermoedelik ʼn bytmerk. Die wond was septies tydens sy inhegtenisneming en die polisie het hom na ʼn kliniek in Eersterust geneem waar Furst glo aan die dokter gesê het dat die oorledene hom gebyt het. Furst het egter aan sy familie gesê hy het die besering tydens ʼn kaping opgedoen. Hy wou nie sy wond aan die hof wys nie.

Die saak is toe tot Woensdag 4 Mei vir kruisondervraging uitgestel. Die beskuldigdes het egter net vlugtig in die hof verskyn aangesien hul voormalige regshulpraadprokureur, Timothy Ramabulana, weens “tegniese redes” vervang is met sy kollega, Martin Botha. Botha het die hof versoek om die saak uit te stel om hom die geleentheid te bied om die saak te bestudeer.

Landdros Mogi Naidoo het die aansoek toegestaan. Die saak is tot Donderdagoggend 5 Mei uitgestel. Die beskuldigdes bly in aanhouding.

Familie van die oorledene en die beskuldigdes het weer die hofverrigtinge bygewoon.

Maroela Media het vroeër berig Dreyer se liggaam is op 4 April in ʼn mangat in Capital Park aangetref nadat Reddy haar aan die Villieria-polisie oorgegee en Dreyer se dood aangemeld het. Sy het Dreyer se liggaam aan die polisie uitgewys waar hy glo met behulp van Papenfus, Johnson en Furst in die mangat gestort is.

Dreyer is vermoedelik op 28 Maart tydens ʼn geskil oor geld by sy huis vermoor.

Papenfus is kort nadat Dreyer se liggaam gevind is, in hegtenis geneem. Johnson is op 6 April in Eersterust in hegtenis geneem. Furst is op 12 April in hegtenis geneem nadat hy hom aan die polisie oorgegee het.

Dreyer laat twee broers, ʼn suster, drie seuns en ʼn dogter agter. Hy het ná 20 jaar in die polisie uitgetree en sy eie onderneming, Jakaranda Grafstene, begin.

Lees alle vorige berigte oor die Villieria-moord op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Bets Bothma ·

Ek hoop hul word die swaarste straf moontlik opgelê. Danie het nog so baie gehad om voor te lewe. Hy is vermoor omdat hy wou help. Hoe moet jy n Christen bly – jy weet nie meer wat jou Christelike plig is nie! Danie was n gesonde mens, hy kon DV nog lank lewe vir sy kinders en kleinkinders!

Estelle ·

Bets dis so wreed en onnodig. Mag hy saggies rus im Jesus se arms….maar 15 jaar waarvan 6-7 jaar gedien moet word. Maar kan ook na n jaar of twee aansoek doen vir parool….dis siek. Vandag is moord en verkragting NIE n groot misdaad nie. Hulle beweeg vrylik rond in gevangenis…

wynand ·

Klomp sonder waardes en onopgevoed..Jy kan dit n myl ver sien.

Tiger ·

As die regters net bietjie van hulle verstand sou gebruik sal sulke monsters NIE borg kry nie.Maar in hierdie piesang republiek is als een groot grap.

wendy ·

Ek het nie vir Danie persoonlik geken nie maar ken wel sy ex vrou Elize. Van wat sy my vertel het was hy n wonderlike man. Dis so hartseer as so iets gebeur. Ex polisie en alles. Vir wat het hulle dit gedoen? Waars die motief? Sinneloos.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.