Minister onthul konflik van belange by Prasa

Argieffoto

Joe Maswanganyi, minister van vervoer, het onthul dat vier werknemers van die Passasierspooragentskap van Suid-Afrika (Prasa) geïdentifiseer is dat hulle kontrakte van meer as R100 miljoen aan maatskappye toegeken het waarvan hulle verbintenisse met die direkteure het.

Maswanganyi het in ʼn parlementêre antwoord, wat Maandag gepubliseer is, gesê die vier werknemers was direk betrokke by die verkryging van dienste terwyl daar konflik van belange by die saketransaksies was. Hierdie werknemers is Sonwabile Kondlo, ʼn senior ingenieur by Prasa Tech, Maishe Bopape, ʼn senior bestuurder by die voorsieningskettingbestuur by Prasa Rail, Nongabisaya Mareko, ʼn uitvoerende bestuurder, en Carol Shabalala, ʼn senior bestuurder.

“Prasa het ontdek daar was ʼn konflik van belange met sekere werknemers met betrekking tot sekere kontrakte,” het die minister gesê.

In Kondlo se geval is daar ʼn kontrak van R8,6 miljoen in die 2014/15 finansiële jaar aan Batalala Construction CCC toegestaan om “nuwe dreinering by die Pretoria- en Barrack-stasies aan te bring”. Kondlo en die direkteurs van Batalala is vennote by ʼn ander maatskappy, Tenemane Engineers CC. Volgens Maswanganyi se parlementêre antwoord was Kondlo betrokke by die evaluering van die toekenning van die kontrak.

Bopape het aanbeveel dat ʼn kontrak ter waarde van R50 miljoen aan Mabule Rail and Infrastructure (PTY) LTD toegeken word om ad hoc-herstelwerk en tegniese ondersteuning vir spoorlyninfrastruktuur te doen. Bopape en die diensverskaffers was saam direkteure van Taboo Trading 154.

Mareko was betrokke by die aanstelling van die maatskappy Mbokodo om herstelwerk en tegniese ondersteuning aan Prasa Rail en Shosholoza Meyl te bied. Die kontrak was ter waarde van R22 miljoen. Mareko en die direkteur van Mbokodo is saam direkteure van BNM Funerals.

Shabalala was betrokke by die evaluering van voorleggings vir die ontwikkeling van die Women in Rail-databasis. ʼn Kontrak van R20 miljoen is aan Women in Motion Investments (PTY) LTD toegeken. Volgens Maswanganyi was Shabalala in ʼn vennootskap met Women in Motion Investments se direkteur by Evilox 372.

Beide Mbokodo en Women in Motion Investments se kontrakte is in die 2015/16 finansiële jaar aan hulle toegeken.

Die DA, wat die parlementêre vraag ingedien het, het die onthullings as “ʼn growwe misbruik van mag” beskryf. DA-LP Manny de Freitas het gesê die party sal daarop aandring dat daar dringend dissiplinêre stappe teen die betrokke Prasa-werknemers gedoen word.

“Meer as R100 miljoen is as gevolg hiervan onregmatig toegeken. Hierdie kontrakte moet onmiddellik gekanselleer word en alle moontlike pogings moet aangewend word om die geld terug te kry,” het De Freitas gesê.

“Openbare fondse wat gebruik kon word om miljoene arm Suid-Afrikaners te help, is skandelik aan staatsamptenare uitbetaal wat sommer self by die tenderprosesse betrokke was. Dit is onaanvaarbaar en ʼn skreiende misbruik van die publieke vertroue wat in amptenare van die staat geplaas word.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

hasie ·

Dit gebeur in alle staats departemente…niks nuuts nie…as jy moet optel hoeveel by al hierdie intansies gesteel saam gesteel word per jaar …KOMMERWEKKEND! AFSKUWELIK!WALGLIK!

Eish ·

Sjoe, baie waaghalsige optrede in n land waar jy n minderheid is wat met passie gehaat word! Dankbaar niemand het in die proses seergekry nie buiten die vertoonstuk. Tien uit tien vir heldhaftigheid.

JEANET JORDAAN ·

Wat van Transnet Pensioenaris, hulle wag nog steeds vir hulle agterstalige Pensioen . Dit lyk my hulle geld is ook weg. Dis skandelik baie van die Pensioenaris is al oorlede en ons wag geduldig vir ons geldjies.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.