‘MIV-piesangs’ het mense op hol

Die foto wat by die berig versprei word.

Die foto wat by die berig versprei word.

Die departement van gesondheid het bewerings ontken dat MIV-besmette piesangs in Suid-Afrikaanse winkels verkoop het nadat berigte daaroor sommige mense op hol het.

ʼn Berig getiteld “BREAKING: Cheap HIV Infected Bananas Flood South African Supermarkets” word tans wyd op sosialemedia-platforms, soos Facebook en Twitter, sowel as die boodskapdiens, WhatsApp, gedeel.

In die berig op die webtuiste imzansi.co.za word beweer dit is nie veilig om piesangs wat in Durban, Johannesburg en Pretoria verkoop word, te eet nie, aangesien dit met MIV besmet is. Die berig beweer verder die inligting is deur die departement van gesondheid bekend gemaak.

Joe Maila, woordvoerder van die departement, het egter in ʼn verklaring gesê die bewering is “onwaar, kwaadwillig en boos”. Volgens Maila wil mense met die bewering onnodige paniek onder die publiek saai.

“Ons wil dit duidelik stel daar was nooit so ʼn waarskuwing op ons webtuiste nie. Prosedures is in plek om te verseker inligting wat op ons webtuiste gelaai word, is akkuraat en geverifieer deur beamptes van die departement. Sake van sulke openbare gesondheidsomvang word ook nie hanteer deur net ʼn mediaverklaring uit te reik nie. Die departement sal in so geval ʼn mediakonferensie reël om die publiek deeglik in te lig oor ʼn risiko.”

Die berig het ook beweer die ‘bose komplot’ is deur die Valke aan die lig gebring is en dit is die werk van “dr. Robert Galo, die Amerikaanse dokter wat oorspronklik die dodelike virus geskep het” en dat agt Suid-Afrikaanse dokters ook hierby betrokke was en reeds in hegtenis geneem is. Volgens die berig is die piesangs met bloed, wat MIV-positief getoets het, ingespuit.

Die webtuiste IMZANZI het al verskeie bogstories versprei, soos dat Oscar Pistorius presidensiële kwytskelding ontvang het en dat regter Thokozile Masipa se motor met ʼn petrolbom bestook is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Ludwig ·

Dit is satiriese webwerf.

http://imzansi.co.za/disclaimer/
Disclaimer
Imzansi is a news and political satire web publication, which may or may not use real names, often in semi-real or mostly fictitious ways. Some of the news articles contained within iMzansi.co.za are fiction, and sometimes fake news.

Helga naude ·

Miv kan nie lank buite die liggaam oorleef nie. Dis n pot snot..

Marelise ·

Ek stel voor dat mense die dr Robert Galo gaan Google. Hy het cigs ontdek en nie geskep nie.

Katerien ·

Binnekort word piesangs teen R2.99 ‘n kilo verkoop. Ha-ha.

Daleen ·

R2.99 per kg? Ja dan bak ons weer baie piesangbrood vir die vrieskas. ♫

Thea Gerber ·

En wie ly onder sulke sotlike berigte? Die arme verdomde boere. Een groep wil ons plase sommer net vat en die ander maak seker dat die prys wat die boere kry tuimel. Ek wens so mense wil dink voordat hulle alle sotlike berigte aanstuur.

foxi ·

Magtig man………hoe kinderagtig en goedkoop sensasie is die storie net nie! Wie gaan nou ELKE piesang gaan inspuit met n virus. Ons land is in so n gemors…….dit lyk of die mensdom se verstand ook nou aangetas is……….goeie genade tog!

danie ·

Dis baie eenvoudig, maak jou facebook blad toe. 99% op faceboek is in elke geval n pot …………
En hou op om nonsens te copy en paste, of the share. Ons is ons eie probleem.en dan wonder ons wat het nou gebeur. Hoe slimmer die tegnologie word hoe dommer word die mensdom.

SkarrelKind ·

danie – niemand kon sosiale media vandag beter as jy aan gevat het nie – well done!

t ·

Vreemd danie, jy braak gal oor sosiale media op, (wag vir dit), SOSIALE MEDIA! Duh!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.