Mkhwebane beplan veranderinge vir OB-kantoor

Adv. Busisiwe Mkhwebane

Adv. Busisiwe Mkhwebane

Adv. Busisiwe Mkhwebane, openbare beskermer, het Donderdag volgehou dat haar kantoor nie meer enige buitelandse donasies sal aanvaar nie, en dat die sogenaamde staatskapingsverslag eers bekend gemaak sal word sodra dit nie meer sub judice is nie.

“Ek is nie gemaklik met buitelandse skenkers nie, en ons sal dit nie meer aanvaar nie. Dit is algemene kennis dat daar soms ʼn neiging is om beïnvloed te word indien daar iets is waarmee jy nie saamstem nie, wanneer jy donsasies ontvang,” het sy gesê.

Mkhwebane het tydens haar eerste perskonferensie dit benadruk dat daar talle veranderinge in die OB-kantoor aangebring sal word, insluitend om van konsultante ontslae te raak, ʼn moratorium op internasionale reis te plaas en eenvoudiger titels in haar verslae.

“Die spanning oor name is bespreek toe ons met bestuur vergader het. Dit gaan nie oor parlementêre persepsie nie. Ons wil die name van verslae verander om spanning met die staat te voorkom.”

Mkhwebane het gesê sy sal haar ondersoek oor die misbruik van mag sonder vrees of voordeel doen, kragtens die wet, en sy het gesê sy word nie geraak deur gerugte dat sy ʼn spioen is nie.

“Adv. Madonsela kon ons konstitusionele demokrasie versterk en sy het sonder vrees of vooroordeel opgetree. Ek is ook daarvan beskuldig dat ek ʼn spioen is, net soos Madonsela. Dit is ʼn persepsie en mense sal hul eie gevolgtrekkings maak.”

Sy het bygevoeg sy wil nie kommentaar lewer of spekuleer of Madonsela gejaag het om die verslag bekend te maak nie, aangesien sy nie weet of dit ʼn voorlopige of finale verslag is nie. Mkhwebane het nog nie die verslag gesien nie, aangesien dit nog onder slot en grendel is.

“Die prioritisering van die staatskapingsverslag hang af van die besluit van die hof. Ek sal met ons regspan vergader om te bepaal of ons by die hooggeregshofbesluit sal volstaan en of ons dit sal teenstaan.”

Sy het gesê die verslag word vir eers bewaar. “Ek het dit van die speaker van die parlement ontvang in ʼn geseëlde koevert en dit is in ʼn kluis van die hoof van ons regsdienste toegesluit. Ons sal dit hou totdat ons dit kan bespreek.”

Die sogenaamde staatskapingsverslag is ʼn ondersoek of die Gupta-familie enige invloed oor pres. Jacob Zuma gehad het om kabinetministers te verwyder of aan te stel en is deur Mkhwebane se voorganger, Thuli Madonsela, opgestel.

Madonsela het besluit om nie die verslag bekend te maak nie, nadat Zuma verlede week ʼn hofaansoek teen haar ingedien het om ʼn interdik te bekom om haar te verhoed om die verslag bekend te maak.

Des van Rooyen, minister van samewerkende regering, het ʼn afsonderlike aansoek van stapel gestuur waarin Madonsela se reg, om hom te dagvaar, uitgedaag word.

Die aansoeke word vroeg in November aangehoor.

Mkhwebane het ook gesê haar kantoor sal seker maak dat die parlement en die regering genoeg hulpbronne verskaf om die werk te doen. Sy het die parlement se ondersteuning versoek om die instansie se uitdagings aan te spreek wat finansiering, menslike hulpbronne en kantoorspasie betref. Sy het gesê een van die uitdagings in die kantoor van die OB is personeel se lae moraal. “Ek moet nog die personeel in die nege kantore in die nege streke waar ons kantoor geleë is ontmoet, en die kwessies oor werknemers se moraal aanspreek. Maar ek dink sommige van die kwessies hou verband met die feit dat juniors byvoorbeeld meer verdien as bestuurders.”

Mkhwebane het ook gesê sy sal daaraan werk om die agterstand van sake in haar kantoor in te haal en haar kantoor het ʼn verpligting om sake te ondersoek en binne 80 dae terug te rapporteer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

22 Kommentare

Leendert ·

Ek ken haar nie, lees net die afgelope dag of so haar byte na die vorige OB. Sy is ‘n regte gifappeltjie. Of die media maak dit op, of sy praat uit die huis uit. As ‘n nuwe president van ‘n land of ‘n maatskappy se nuwe uitvoerende hoof moet kwytraak ook hul voorgangers soos wat sy oor die vorige OB te sê het…… jig.

joekie ·

En ek dink hierdie berig verdien nie om kommentaar te kry nie. Boikot dit net.

Leendert ·

Dit klink of sy bagasie saam met haar sleep. Sy het net ‘n té iets teen haar voorganger.

Bob ·

En hoekom gebruik die OB nie die geld wat geskenk word deur die buiteland vir ander projekte nie??

Johanna Botha ·

Ek wens die verslag lek uit soos al so baie keer gebeur het

Johann ·

Ek sien Madonsela sê dat hulle geen buitelandse fondse of donasies ontvang en gebruik het nie. Sy sê as die nuwe OB dit gesê het, lieg sy.

E ·

Geen fondse van buiteland?
Nader aan staatskaping as wat ons dink.

snoefie ·

sy soekmiljoene rande om die ob kantoor reg te ruk maar sy gaan nie skenkings uit die buiteland aanvaarbaar nie. gaan die belastingbetaler nou daarvoor ook moet pa staan?

Johann ·

Dit lyk my hierdie vrou is gif, as ek lees wat sy in die parlement gesê het en dat Thuli nou vandag in die openbaar beduie het dat sy blatant lieg.

pieter ·

Sy is nie net gif nie. Ons sal die staatskapingverslag nooit sien nie. Sy is duidelik in die Zuma en dalk ook nog in die Gupta span. Bewys my verkeerd.

Lance ·

Hoekom wil sy nie fondse van die buiteland aanvaar nie .. .daar is juis n tekort aan gelde om sekere ondersoeke te doen …ek verstaan nie ….asb se vir my dis nie nou ook skelmstreke die

Johann ·

Sien gerus my kommentare hierbo. Madonsela het gister gesê dat sy nooit buitelandse fondse gebruik het, of van konsultante gebruik gemaak het nie. Sy het verder gesê dat die nuwe OB het deur dit te sê vir die parlement gelieg.

E ·

Gerugte wat die rondte doen dat Rsa van die internationale hof gaan afstand doen (geluk Zuma).
Staatskaping: geen int. hof, menseregte word opgehemel (of is dit nou teenoor sekere rasse?) bee was natuurlik stap no. 1. en ag daar is nog baie wat by die lysie kan bygevoeg word.

John ·

‘n Magtige PR-poging word deur die ANC geloods om skadebeheer toe te pas om hul posisie te versterk. Hulle het ‘n nuwe Eerste Minister, genaamd Busi…, aangestel. Ons gaan haar nou elke dag op tv sien, glo my. Radio-, tv- en persgroepe word opgepomp om alle kritiek jeens die president en vriende af te skiet. Die kantoor van die OB en die vervolgingsgesag gaan vervloei tot ‘n diaboliese kgb-tipe vervolgingsnetwerk…. Die siel van Raka het ‘n liggaam gekry… Mefistofilis is sy oervader.

Krulletjie ·

Ek wil nou nie snaaks wees nie, maar die anti is kamtig net TE op die regte pad….syt groot skoene om vol te staan……

Hasie ·

Hierdie staatskapingverslag gaan nooit bekend gemaak word nie. Zuma is te slinks en uitgeslape om homself te beskerm.

Theuns ·

Die arrogansie straal uit haar uit! Skaars in die “office”, dan lieg sy , volgens Madonsela oor Buitelandse Donasies, ongelukkigheid met die personeel en die samestelling van die Staatskaping eskapade! En moenie praat van die Gupta Tv Kanaal wat sy die heeltyd in haar kantoor wil aan he nie? Dit is nou nie meer net by die Kango Grotte waar daar voorsiening gemaak word vir gatkruipers nie maar ook in haar kantoor!!Nou bly nog net die Tesourie en die regstelse, wat ook gedeeltelik oorgeneem is, oor dan hetZuma die Staatskaping voltooi

Leendert ·

Nou vra ek julle met trane in my oë, hoe kry Julius en sy span dit net nie reg nie? Eers is hy man alleen verantwoordelik dat Zuma president word. Nou is hy, aan die spits van die EFF, weer verantwoordelik dat hierdie dame as die nuwe OB aangestel is. Almal het die rooier as rooi ligte voor die tyd al sien flikker.

Jean ·

EK vertrou haar klaar NIKS nie .. sy is nie ‘n skaduwee van Thuli Madonsela nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.