Modelbaas vra uitstel vir vonnis weens geldtekort

Dawie de Villiers in die hof Foto: ANA

Dawie de Villiers in die hof Foto: ANA

Dawie de Villiers, ʼn modelagentskapbaas van Kempton Park, het Woensdag aan die Johannesburgse hooggeregshof gesê hy het ʼn tekort aan geld en benodig tyd om dit in te samel om sy private voorvonnisverslag op te stel.

De Villiers, die stigter van Modelling South Africa, is verlede maand skuldig bevind aan verkragting, seksuele aanranding, seksuele gereedmaking, bedrog, die blootstelling van pornografie aan kinders en die toegang tot kinderpornografie. Sy borgtog is verleng, maar die borgtogbedrag is met R5 000 verhoog tot R15 000.

Staatsaanklaer Arveena Persad het aan regter Carla van Veenendal gesê sy is van mening De Villiers beoefen vertragingstaktiek aangesien hy die opsie gegun is om van regshulp gebruik te maak toe sy regspan van die saak onttrek het.

“Ek stel voor De Villiers doen aansoek om regshulp en dat sy borgtog verleng word tot Dinsdag.”

Adv. Annade Theart, wat vir De Villiers opgetree het, het aan die hof gesê dat hy Dinsdag onverteenwoordig gaan wees. Volgens Theart is hulle opdrag gegee om te onttrek aangesien geld nie betaal is om met die verhoor voort te gaan nie.

De Villiers het vanuit die beskuldigdebank aan regter Van Veenendal gesê dat hy vir homself werk en eers Woensdagoggend sy prokureur in kennis gestel het dat hy nie genoeg geld het nie.

“Ek werk vir myself en met alles wat gebeur het en die gepaardgaande media-aandag, is my inkomste geraak,” het hy gesê. Hy benodig ʼn verdere drie maande om genoeg geld in te samel vir die voorvonnisverrigtinge.

Persad bestempel De Villiers se versoek as onredelik. Sy het gesê die verdedigingspan het haar ʼn week gelede in kennis gestel dat daar nie geld is nie en dat hulle van die saak gaan onttrek.

Regter Van Veenendal het aan De Villiers gesê sy verstaan sy geldprobleem, maar dit beteken nie dat hy die hofprosesse kan manipuleer nie.

“Dink daaraan om die vonnisversagting deur die staat te laat opstel. Ek stel voor jy nader die regshulpraad direk,” het sy gesê.

Die saak is tot 14 Maart uitgestel.

Lees alle vorige berigte oor die saak op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Magda ·

Nee wat – dit is net vertragings taktiek – Maak van Regshulp gebruik, en ‘MAN UP” vir jou dade – Tronk toe met jou

Nê? ·

Sowaar??? Hoe verwaand, asof die beskuldigde nie besef dat wat hy gedoen het, verkeerd is nie!

Justice ·

Werk hy nog steeds vir homself ? Hy behoort deur die hof belet te word om enige kamera te besit of te leen – selfs in die tronk.

w ·

Vergeet van tyd om geld te maak. Sluit hom toe. Ander se lewens verwoes. Zero simpatie vir hom. Vuilgoed

Voorlaaier ·

Hy speel vir tyd!…..Sy plan is om pad te vat!… Hy is klaar skuldig bevind en hy weet dit is tronk toe vir hom!..

SARIE VAN HEERDEN ·

de Villiers het geweet hy fouteer met al die goetertjies wat hy aangevang het en nou het hy die vermetelheid om daardie dinge te probeer verdedig in die hof! Het die man sy varkies verloor? As hy nie geld het vir wat ookal nie, dan is dit tot daarnatoe en moet hy hom verlaat op die uitspraak van die hof en gaan sit …………………. op belastingbetalers se geld.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.