Molefe moet gaan ter wille van werkers, sê Solidariteit

Brian Molefe

Solidariteit het vandag ’n dringende hofaansoek beteken waarin die hof versoek word om verskeie besluite van die Eskom Raad van Trustees te hersien omdat dit ongrondwetlik en onwettig is.

Volgens Deon Reyneke, Solidariteit se adjunkhoofsekretaris van die energiebedryf, word omvattende regshulp versoek. “Ons versoek dat die hof die besluite om ’n beduidend groter pensioenuitbetaling aan Molefe goed te keur, sy voorstel vir vroeë pensioen te aanvaar en sy heraanstelling in sy pos as uitvoerende hoof van Eskom goed te keur, hersien word,” het Reyneke gesê.

Reyneke voeg by dat die Raad se onlangse optrede en die verdoemende implisering van Molefe in die onbehoorlike toekenning van kontrakte om die Gupta-familie te bevoordeel, werkers se moraal uiters negatief beïnvloed.

“Eskom-werkers wat uiters lojaal is teenoor Eskom, se moraal het goed verbeter nadat hulle hard gewerk het om Eskom vir eers uit die kragkrisis te kry. Die selfsugtige optrede van Molefe en die Raad dompel Eskom weereens in omstredenheid. Dit het ’n negatiewe impak op werkers se moraal. Die hersiening van die ‘heraanstelling’ van Molefe is die enigste manier om Eskom se geloofwaardigheid te herstel en om werkers weer positief te kry,” het Reyneke gesê.

Solidariteit versoek ook die hof om die Eskom Raad se trustees in hulle persoonlike hoedanigheid vir die koste van die aansoek verantwoordelik te hou en dat die hof gelas dat Molefe se optrede deur die Nasionale Vervolgingsgesag ondersoek word.

Solidariteit se aansoek sal gedurende Junie 2017 aangehoor word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

pieter ellis ·

Dit lyk maar ons voorland te wees; om met elke stupid besluit van die regering en die regeringsarms soos Eskom, SAA, SABC, SANRAL ens, die hof te nader om dit om te keer. Want self is die instansies nie instaat om gesonde, helder deurdenkte besluite te neem nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.