Moord op DA-raadslid: 6 hoor oor borgtog

Argieffoto

Argieffoto

Die ses verdagtes wat in hegtenis geneem is in verband met die moord op Johannes Baatjies (49), ʼn DA-raadslid van Daniëlskuil in die Noord-Kaap, en sy vennoot, het vandag in die Postmasburg-landdroshof om borgtog aansoek gedoen.

Kapt. Philani Nkwalase, woordvoerder van die Valke, het gesê Zonisele Magawu (29), Charles Thompson Mpondomisa (39), Matthews Legodu (49) Richard Hasana (33), Paullis Mvuleni Mgcera (50) en Tsame Frak Baxane (31) het almal verskyn op aanklagte wat verband hou met die moord op Baatjies en sy sakevennoot, Shuping Nose. Die hof het al ses verdagtes borgtog geweier.

Maroela Media het vroeër berig Baatjies is op 17 Augustus dood aangetref op die pad tussen Daniëlskuil en Postmasburg. Hy is twee keer in die kop en een keer in die bors geskiet. Nose is in ʼn kritieke toestand na ʼn hospitaal gehaas nadat hy ook geskiet is. Hy het later aan sy wonde beswyk.

Magawu, ʼn ANC-wykskandidaat in die afgelope munisipale verkiesing, is kort ná die voorval in hegtenis geneem, terwyl Mpondomisa, Legodu en Hasana in September vasgetrek is. Mgcera en Baxane is in Oktober in hegtenis geneem.

Volgens Nkwalase sal die ses verdagtes weer op 29 November in die hof verskyn.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.