‘Net ʼn wonderwerk kan rommelstatus afweer’

Pres. Zuma en Gordhan. Die foto is in 2011 geneem. Foto: Flickr/GovernmentZA

Pres. Zuma en Gordhan. Die foto is in 2011 geneem. Foto: Flickr/GovernmentZA

Ekonome en politieke ontleders is dit eens dat daar veel meer skuil agter die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) se vervolging van Pravin Gordhan, die minister van finansies.

Die NVG het Dinsdag aangekondig dat Gordhan, Ivan Pillay, voormalige adjunk-kommissaris van die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) en Oupa Magashula, kommissaris van die SAID, op 2 November in ʼn Pretoriase hof moet verskyn. Hulle word van bedrog aangekla in verband met Pillay se vroeë aftrede.

Prof. Dirk Kotzé, politieke ontleder verbonde aan Unisa, meen dit is belangrik om te kyk na die konteks waarin die NVG se aankondiging gemaak is. “Dit kom nadat die grondwethof die NVG se aansoek om verlof tot appèl teen ’n vorige beslissing dat 783 klagtes van bedrog, rampokkery en korrupsie teen pres. Jacob Zuma heringestel moet word, van die hand gewys het. En dan is daar die openbare beskermer se verslag oor staatskaping wat in die pyplyn is.”

Volgens Kotzé probeer Zuma en die Guptas alles in hul vermoë om seker te maak dié verslag word nie bekend gemaak nie. “Gordhan en die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) word nou vir die soveelste keer gebruik om die aandag af te lei.” Volgens Kotzé was dit ook die geval met die Suid-Afrikaanse Lugdiens. “Zuma en Kie. se aksies laat dit lyk asof hul persoonlike belang van groter prioriteit is en dat dit bo nasionale belang geplaas word.”

Prof. Susan Booysen. Foto: Wits University Press

Prof. Susan Booysen. Foto: Wits University Press

Kort ná die NVG se aankondiging het die ANC in ʼn verklaring gereageer deur te sê die party ontken enige politieke inmenging in die vervolgingsproses. Prof. Susan Booysen, politieke ontleder aan die Universiteit van die Witwatersrand, het gesê ʼn mens kan nie help om agterdogtig te wees oor die verskuilde agenda agter Gordhan se vervolging nie. “Zuma is ʼn baie slim strateeg en daar is niks wat onder sy radar verbyglip nie. Ons weet Gordhan en sy medewerkers is vir baie van Zuma se vennote ʼn doring in die vlees en ek dink ʼn mens sal dom wees om nié agterdogtig te wees hieroor nie,” het Booysen gesê.

Booysen het genoem dat Gordhan onder protes deur Zuma weer as minister van finansies aangestel is, toe openbare druk en ʼn reuse-val in die rand hom gedwing het om Des van Rooyen se termyn as minister van finansies na net vier dae kort te knip. “Zuma was as’t ware as gyselaar aangehou deur die publiek en die ekonomie om vir Gordhan aan te stel. As hierdie [vervolging van Gordhan] nou ʼn negatiewe impak op die ekonomie het, kan Zuma net sê hy moet noodgedwonge vir Gordhan uit sy posisie verwyder omdat hy nou sleg is vir die ekonomie.”

Lullu Krugel, ekonoom by KPMG, het gesê hoewel sommiges meen die impak op die rand-dollar wisselkoers was nie so groot soos aanvanklik verwag is nie, kan daar duidelik in die aandelepryse gesien word dat die NVG se aankondiging groot onsekerheid veroorsaak het. Sy het gesê die feit dat almal nou al lank weet dat iets aan die kom is met die konflik tussen Gordhan en die Valke, kan dalk verduidelik waarom die nuus nie so groot impak op die rand gehad het as wat baie verwag het nie.

“Die realiteit is dat enige onsekerheid en onstabiliteit in die land glad nie goed vir ons ekonomie is nie. Die graderingsagentskappe let op elke klein dingetjie en die vervolging van ons minister van finansies is baie nadelig vir beleggersvertroue,” het sy gesê.

“Die een goeie ding is dat dinge darem nou tot ʼn punt kom. Daar was lank die verwagting dat iets van hierdie saak tussen Gordhan en Valke sal kom en hopelik kan dit nou vinnig beweeg sodat dit afgehandel kan word. Dit is net jammer dat hierdie hele saak so in die publiek moet afspeel, eerder as dat dit agter geslote deure hanteer word.”

Volgens Krugel is ekonomiese groei die enigste faktor wat die land van rommelstatus kan red. “Die grootste faktor wat rommelstatus sal verhoed is nie wie die minister van finansies is nie, maar of die ekonomie gaan groei of nie. Die vervolging van Gordhan beïnvloed natuurlik beleggersvertroue, maar al het dit nie gebeur nie, is die realiteit dat Suid-Afrika in elk geval baie naby aan rommelstatus is omdat ons ekonomie nie groei nie. Hierdie Gordhan-aankondiging vat amper die fokus van die werklike kwessies af, waaraan dringend aandag gegee moet word.”

Dawie Roodt. Foto: Efficient Group

Dawie Roodt. Foto: Efficient Group

Dawie Roodt, hoofekonoom by die Efficient Groep, meen slegs ʼn “klein” wonderwerk kan Suid-Afrika van rommelstatus red. “Dit is net nóg ʼn spyker in die doodskis. As ons afgradeer word sal dit beteken ons gaan ʼn baie meer wisselvallige geldeenheid hê. Dit beteken egter nie net dat die rand verder gaan verswak nie aangesien die rand reeds baie swak is.”

Volgens Roodt betaal Suid-Afrikaners reeds ʼn groot prys vir die regering se onbevoegdheid. “Dit is baie duidelik dat Zuma die organe van die staat, in dié geval die NVG, misbruik. Instellings wat behoorlik funksioneer is seker die belangrikste aspek van ʼn werkende demokrasie.”

Roodt meen dit is nie ʼn krisis indien ʼn minister van finansies van bedrog aangekla word nie. “Dit is ʼn teken van ʼn funksionerende demokrasie wat wys alles werk reg en dat niemand verhewe is bo die reg nie. En as Gordhan iets verkeerd gedoen het moet hy pa staan daarvoor, maar ons almal weet dit is nie waaroor dit hier gaan nie. Dit gaan oor staatskaping. Die NVG is daargestel om ernstige misdade te ondersoek. Waar is die ernstige misdaad? Dis dalk eerder iets wat deur die polisie moes ondersoek word.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

20 Kommentare

CAV ·

Ja nèè kyk, – Hierdie ANC administrasie het nou behoorlik ons land tot op sy kniee

Raymond Bastone ·

Hahaha gedink dit is maklik om n land te regeer kyk nou die gemors wat SA nou in is die een is meer korrup as die ander dan nog die studente ook frot frot SA

Jakkalas ·

Ons is spreekwoordelik die padda in warm water en ons kan niks meer daaraan doen nie. Mits iemand die pot van die stoof stamp of die beurtkrag inskop. Niemand het die politieke wil om die plaat by die skakelaar af te sit nie.

christine ·

Hy sit alles aanmekaar hol dan die land uit, hy is n lafaard. So gemaak met Madikana ook. Nou wonder ek wie is die kamptige derde mag. Wie neem nou die skuld

bobbo ·

Ag zumpies, wil jy nie maar jou tasse pak nie. Niemand hou meer van jou nie. Daar is ‘n groot wereld daar buite. Dubai wag vir jou

Ou Bosvark ·

Ons geagte Staatspresident verdien onverwyld ere-ere-ere doktorsgrade van elke universiteit in Suid-Afrika!

Hy is ‘n rolmodel staatspresident. Hy is ‘n politieke strateeg van die hoogste orde! Hy is ‘n ware leier en staatsman. Daar is diegene wat selfs sal moor om hom te beskerm. Hy is veel berese en het blad geskud met haas elke staatspresident en koning. En hy het die visie vir kernkragstasies vir ons waterarm land.

Sy naam en nalatenskap sal in alle Suid-Afrikaanse geskiedenisboeke en Afrikana verskyn.

Daar is seker nie ‘n enkele Suid-Afrikaanse leier waaroor die pers so oneindig baie gepubliseer het nie. Ek, Ou Bosvark, kyk uit na ‘n salige, rustige en rooskleurige toekoms. Sela.

FH ·

Ek weet nie wat Abrahams makeer om so groot “fool” van homself te maak nie. As hy enige kwalifikasie in die regte het, behoort hy dit self te besef. Maar dit wys net hoe amptenare misbruik word en as hulle uitgewys word, dan moet hulle maar self sien en kom klaar. In alle geval, hier is geen saak nie. Kyk na die berig http://constitutionallyspeaking.co.za/gordhan-is-there-any-case-to-answer/#more-9563 en ook die een http://www.biznews.com/sa-investing/2016/10/12/proof-in-pictures-that-npa-charges-against-gordhan-trumped-up-political/?utm_medium=Social&utm_campaign=Echobox&utm_source=Twitter&utm_term=Autofeed#link_time=1476243705

m ·

Hierdie land sit in n groot gemors danksy die ANC. Rommelstatus voorspel niks goed vir ons nie.

Dina de Meillon ·

Ek kannie glo dat daar niemand, maat niemand is wat die man kan stuit nie? Wanneer het hy so magtig geword? As ons in ‘n demokrasie lewe moet ons mos inspraak kan lewer, dan nie?

Columbiana ·

Die enigste wonderwerk sal wees as Zuma en sy trawante die eerbare ding doen en die pad vat.

Lance ·

Wel ek dink ons almal weet dat ons dit verdien want wat kan SA nou nog aanbied …byna niks …dankie zuma en anc julle het nou alles vir almal opgemors ..kom van as jy dink jy kan maar net n std 3 het …daar het ons dit nou !

anton ·

Nou soo verveeld. Lus n brand n bus in Braamfontein. A nee a. Geen leiers in di land van ons mt soveel hoop. Soveel potensiaal. Soveel stunning mense. Wanneer sal dit verander?

Rapes ·

Die NVG is ook maar net Zuma se pione en hy is so skelm soos die houtjie van die galg. Ek kan nie insien dat daar soveel leiers in die parlement sit wat nie die probleme kan raaksien nie, of is almal van hulle ook net geldwolwe.

Klaas ·

Dit gaan my verstand te bowe lat hulle nie oom zumpie kan verwyder nie. Ons het nou n abrahumpie ook nou.

Tonginniekies ·

Dis die settelaars wat kolonies in Afrika gestig het en die kulturele rykdomme geplunder het. Teerpaaie gebou oor stofpaadjies, hutte gesloop en beton geboue opgerig. Hulle het met hulle medisyne en tegnologie die lewensverwagting van die mense verdubbel, houtvure met elektriese vure vervang. Die hele Afrika was onverhoeds betrap deur die duiwelse goed wat die weste hier aangebring het. Gee kans hulle gaan alles weer mooi dekoloniseer en dan sal dit weer goed gaan in Afrika. Maak solank krale en blink goed bymekaar as ruilmiddels.

John ·

…’n slim strateeg? As almal telkens deur die plannetjies sien? In Afrikaans is die term, slinkse, dan eerder gepas. Strateeg is ook ‘n meer verhewe vorm wanneer planmatigheid darem sigbaar is. Hierdie is ‘n skorrie-morrie-agtige gekamoefleerde gekokery waarvan die stank die reuk van ‘n goeie boud vleis wat in die hoogoond vergeet is, by verre oortref veral ook nadat dit goed gekerrie en in Oosterse kruie gesoteer is…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.