Nog drie vas ná skietvoorval op kleinhoewe

Argieffoto (Foto: imgkid.com)

Nog drie verdagtes is in hegtenis geneem nadat ʼn vermeende inbreker Donderdag in die vroeë oggendure op ʼn kleinhoewe buite Potchefstroom geskiet is.

Lt.kol. Adéle Myburgh, woordvoerder van die polisie, het gesê die Klerksdorp-trio-taakspan het die verdagtes, almal tussen 20 en 40 jaar oud, in Soweto en die omliggende gebiede in hegtenis geneem. “Die inhegtenisneming volg nadat inligting oor die verdagtes ontvang is. Die verdagtes is nagespoor en uiteindelik vasgetrek,” het Myburgh gesê.

Daar is tydens die inhegtenisneming op vermoedelik gesteelde goedere, waaronder televisies, skootrekenaars, selfone en elektriese toerusting, met ʼn geraamde gesamentlike waarde van R30 000 beslag gelê.

Maroela Media het vroeër berig die eienaar van die kleinhoewe in die Vyfhoek-omgewing het omstreeks 01:00 gehoor hoe glas by ʼn ander huis op die kleinhoewe breek en gaan ondersoek instel. Hy het na bewering gesien hoe verdagtes goedere uit die huis uitdra en skote is afgevuur. Een verdagte wat gewond is, het op die toneel agtergebly, terwyl sy makkers gevlug het.

Die verdagte is later onder polisiebewaking na ʼn hospitaal geneem. Inhoud wat uit die huis gesteel is, is ook op die toneel gevind.

Volgens Myburgh is daar eers ná die ander drie verdagtes se inhegtenisneming vasgestel dat hulle ook gewond is, vermoedelik toe die kleinhoewe-eienaar skote in hul rigting afgevuur het. “Een van die verdagtes is in sy linkerbeen gewond, die ander in sy heup en nog een in sy boud. Hulle het mediese behandeling ontvang nadat hulle in hegtenis geneem is, maar is nie in die hospitaal opgeneem nie,” het Myburgh gesê.

Sy het gesê die verdagte wat eerste in hegtenis geneem is, word steeds in ʼn hospitaal behandel. Hy sal in die Potchefstroom-landdroshof verskyn op ʼn aanklag van huisbraak sodra hy uit die hospitaal ontslaan word.

Die ander drie verdagtes sal Maandag in die hof verskyn op aanklagte van huisbraak en die besit van gesteelde goedere.

Myburgh het bevestig die polisie ondersoek die moontlikheid dat die verdagtes moontlik by ander misdade betrokke kan wees.

ʼn Saak van poging tot moord is ook deur die polisie aanhangig gemaak en word ondersoek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Spiekeries ·

Ja nee, dit is voordelig as jy weet Hoe om ‘n vuurwapen te gebruik. 4 uit 4. Knap gedaan!!! Nie almal is weerloos nie!

Johnnie ·

Ja so werk dit maar in hierdie land jy beskerm jou goed maar as jy n inbreeker skiet en wond dan is dit nou poging tot moord, maar as hulle jou iets aandoen dan is dit niks net huisbraak wat sal die spul nou nog uitdink teen ons.

Veritas ·

Ek neem aan dat die’ poging tot moord’ -saak teen die eienaar gemaak is. Volgens die berig lyk dit nie asof sy lewe in gevaar was toe hy op hulle gevuur het nie. Wat in sy guns kan tel is die feit dat hy laag gemik het siende meeste wonde in die bene en heup was.

snoefie ·

hoekom dink jy gebeur dit? omdat ons dit toegelaat het. ons het nie voor die hof betoog waar persone wie vervolg word omdat hulle, hulle familie, eiendom en self beskerm het, onregverdig verhoor word nie. ons staan soos skape op die sylyn en toekyk. ns is vlytige naamlose vinger ninja’s, solank niemand ons herken nie.

Willem ·

Hierdie grondwet wat die wetteloses se regte beskerm is verdomp belaglik. Iemand wat homself willens en wetens buite die grense van die wet begeef (soos bv om inbraak te pleeg) se regte behoort nét daar opgeskort te word. Hierdie misdaadgolf gaan ons verswelg as die wetsgehoorsame burgers gedurig gekortwiek word deur ‘n grondwet wat die kriminele beskerm.

Luister ·

Dis reg, pot hulle!
Grappies op ‘n stokkie, …..ons moet onsself en ons eiendom beskerm.

Sputnik ·

Die eienaar en die huurder se lewens was baie beslis in gevaar. Daardie spul was sekerlik nie ongewapen nie. Hulle moes tog seker nie onder hul beddens bly lê het en luister het hoe die huis leeggedra word nie! So is ‘n kennis van my jare gelede een nag deur ‘n rampokker koelbloedig doodgeskiet op ‘n hoewe Oos van Pretoria toe hy gaan ondersoek instel het na ‘n “poging tot inbraak” by sy buurman, wie nie tuis was nie. Ek het ‘n vermoede die skurk is nooit gearresteer nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.