Nog ʼn kind (3) dood in Wes-Kaap-brande

Foto: Koos Britz/WVS Wildfires/Twitter

Die Wes-Kaapse regering het Donderdag gesê die dodetal van vandeesweek se verwoestende storm en brande in die Wes-Kaap het tot nege gestyg nadat ʼn driejarige seuntjie se liggaam gevind is.

Maroela Media het vroeër berig ʼn 60-jarige man is Woensdag dood nadat ʼn behuisingstruktuur in Lavender Hill ineengestort het. Daar is ook vier mense in Kraaifontein dood nadat ʼn brand ontstaan het wat vermoedelik deur ʼn weerligstraal veroorsaak is. In Rheenendal is ʼn egpaar en hul seuntjie dood nadat hulle van ʼn reusebrand in die gebied probeer vlug het en deur die rook en vlamme verswelg is.

James-Brent Styan, woordvoerder van die minister van plaaslike regering en omgewingsake, Anton Bredell, het Donderdagoggend gesê nog ʼn driejarige seuntjie se liggaam is in ʼn uitgebrande gebou in Welbedacht gevind.

Noodhulpverlening moet aan duisende inwoners in die Wes-Kaap gebied word nadat talle huise en ander geboue deur die storm en brande verwoes of beskadig is. Styan het gesê in die Eden-distrik moes 10 000 inwoners hul huise ontruim namate brande deur ongeveer 20 woonbuurte in Knysna en die omliggende omgewing gewoed het. Minstens 300 strukture is deur die brande verwoes.

Die Big Bay-strand is vir die publiek gesluit. Foto: Verskaf

Die Wes-Kaapse rampbestuursentrum koördineer die rampverligtingspoging in samewerking met verskeie strukture van die regering en die private sektor. Al die brandweerstasies in Kaapstad dien as aflaaipunte waar skenkings vir die ontwrigte families afgelaai kan word. Styan het gesê die logistieke maatskappy, DHL, het aangebied om alle skenkings na die gesamentlike operasiesentrum in Knysna te vervoer waar dit aan die slagoffers van die brande versprei sal word.

Ivan Meyer, LUR vir finansies in die Wes-Kaap, het gesê noodfondse sal beskikbaar gestel word om rampverligtingpogings te finansier. “Ons evalueer tans die omvang [van die skade] en ek sal voorleggings aan die Wes-Kaapse kabinet doen sodra ons die volle omvang van die situasie begryp,” het hy gesê.

Styan het gesê brandbestryders het teen vroegmiddag steeds teen die brande in die gebied geveg. Weens die sterk winde in die provinsie is dit nie moontlik om lugondersteuning aan die brandbestryders te bied nie. Teen vroegmiddag het die brand in die rigting van Plettenbergbaai versprei en minstens 100 mense is uit die Robberg- en Piesang Valley-gebied na veiligheid geneem.

Die Big Bay-strand is vir die publiek gesluit. Foto: Verskaf

Bonginkosi Madikizela, LUR vir menslike nedersettings, het gesê 827 informele strukture in die Skiereiland is verwoes, terwyl minstens 2 500 mense ontwrig is.

Suzette Little, burgemeesterskomiteelid in Kaapstad, het gesê die Stad Kaapstad het intussen Big Bay-strand vir die publiek gesluit weens die onstabiliteit van die duine op die strand. Dit volg nadat ʼn beampte van die stad Donderdagoggend in die hospitaal opgeneem moes word nadat ʼn duin waarop hy gestaan het, ineengestort het.

“Big Bay-strand het uitgebreide skade gely en erge erosie is deur die storm veroorsaak. Die gebied is onstabiel en onveilig. Ons doen daarom ʼn beroep op die publiek om gehoor te gee aan die sluiting van die strand ter wille van hul eie veiligheid,” het Little gesê.

Sy het gesê die owerhede is op die toneel om die stabiliteit van die kuslyn in die gebied te ondersoek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Nettie ·

You rock, DHL!!!!!!!!!!!!!!!!! Mense, skenk wat en waar julle kan – DHL het aangebied om die skenkings te vervoer na waar dit nodig is.

Alwyna Holtzhausen ·

Hoop net die skenkings word wel afgelewer. Met die huidige korrupsie hoop ek DHL doen sy huiswerk!

adriana ·

Shame die arme seuntjie. Het julle meer nuus oor die die ou dingetjie Maroela?
Dankie DHL!!!
En die ander gesinnetjie – dit is te vreeslik vir my – kan nie daaroor kom nie. Die vrees en die angs van die ouers om hulle kindjie en ongebore baba te beskerm.
Dit is te veel vir my.
En die arme diere en die arme mense sonder huise.
Ek kry almal jammer.

Ai ·

Dankie DHL!!!!

My hart is stukkend vir die mense en kinders wat hul lewens verloor het.

Ek sien jy kan deur Pick n Pay se online shopping kos en water koop en laat aflewer vir die mense. Dink aan die diere ook asb hulle kort hondekos en Melk en dinge vir babas.

Kom Suid Afrika, ons moet help.

Alida ·

My hart bloei vir die mense wat dakloos gelaat is. Dankie DHL. Kom Builders en al die groot maatskappye en skenk mildelik bou materiaal sodat die dakloses net weer n bly plekkie kan kry. JZ en kie weet 10@1 nie een nie eers wat aangaan nie het nog nie aangebied om n sent te skenk nie. As elke minister R20000 skenk van dit wat gesteel is kan BAiE mense gehelp word. Kom ons bid vir reen in Knysna asb.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.