Nuwe vakbondfederasie ingehuldig

 

Saftu-ondersteuners

Minstens 24 vakbonde het Vrydag in Boksburg bymekaargekom vir die inhuldiging van ʼn nuwe vakbondfederasie, onder leiding van die voormalige hoof van Cosatu, Zwelinzima Vavi en die vakbond Numsa.

Afgevaardigdes was in ʼn ligte luim toe hulle by die geleentheid opgedaag het en het revolusie-liedjies gesing vir die stigting van die South African Federation of Trade Unions (Saftu). Hulle het in busse en motors opgedaag, geklee in rooi T-hemde.

“Die stigting van die nuwe vakbondfederasie is die begin van ʼn nuwe era vir ʼn nie-polities geaffilieerde federasie,” het Vavi gesê.

Die organiseerders het gesê alle sektore was by die bekendstelling, met Numsa en die Food and Allied Workers Union (Fawu) wat merkbaar meer afgevaardigdes het as die ander vakbonde.

Fawu het verlede jaar besluit om Cosatu te verlaat. Die vakbond stamp al sedert 2015 koppe met Cosatu nadat Numsa uitgeskop is. Fawu beskuldig Cosatu-leiers daarvan dat hulle bevooroordeeld is teen Numsa en Vavi.

“Ons het 1 394 stemgeregtigde afgevaardigdes. Tien afgevaardigdes is afwesig, so ons het 1 384 stemgeregtigde afgevaardigdes wat by die vergadering teenwoordig is,” het Vavi gesê. Die afgevaardigdes sal tydens die drie dag lange vergadering leiers kies en die logo en naam van die federasie finaliseer.

Zwelinzima Vavi tydens die Saftu-byeenkoms

Die nuwe organisasie sal die land se vierde vakbondfederasie wees naas Cosatu, die Federation of Unions of South Africa (Fedusa) en die National Council of Trade Unions (Nactu). Cosatu is die grootste van die land se vakbondfederasies.

Fedusa (Federation of Unions of South Africa) het beswaar aangeteken teen Saftu (South African Federation of Trade Unions) se naam en versoek dat ʼn ander naam gekies word. Fedusa meen die nuwe vakbondfederasie se naam lyk soos hulle sʼn.

Saftu het egter gesê hy bly by sy naam en gesê hy is gereed om Fedusa in die hof te daag.

Raymond Mnguni, voorsitter van Saftu se bestuurskomitee, het vroeër verduidelik afgevaardigdes sal egter kan kies indien hulle die naam wil verander. Afgevaardigdes het Saterdag besluit dat hulle die naam Saftu gaan behou.

Gaste by die byeenkoms sluit voormalige Cosatu-leiers Jay Naidoo en Mbazima Shilowa in, asook studente-aktiviste Bonginkosi Khanyile en Mcebo Dlamini. Hulle sal almal die vergadering toespreek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Weet nou nie? ·

Beteken “inhuldig” nie om iemand byv. in sy/haar amp te bevestig. Sou die woord “stig/stigting/gestig” nie eerder hier pas?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.