OG moet betaling van R81 miljoen aan Zuma-vriend ondersoek

Pres. Jacob Zuma en Philani Mavundla tydens die opening van Mavundla Square-winkelsentrum in Greytown, KwaZulu-Natal (Junie 2015) Foto: GCIS

Die minister van water en sanitasie, moet verduidelik waarom pres. Jacob Zuma se nabye vriend, Philani Mavundla, na bewering onreëlmatig ʼn vooruitbetaling van R81 miljoen ontvang het, het die DA Sondag gesê.

Die DA sal die ouditeur-generaal Kimi Makwetu versoek om ondersoek in te stel waarom die “welgestelde” Mavundla die vooruitbetaling ontvang het vir ʼn tender wat suur mynwaterdreinering aanspreek, het Leon Basson, woordvoerder van die DA, gesê.

“Alhoewel bemagtigingsooreenkomste soms ʼn vooruitbetaling insluit, aangesien talle maatskappye wat die tender ontvang nie die nodige kapitaal het nie, is die bevoordeelde in hierdie geval ʼn welgestelde vriend van Zuma wat nie ʼn vooruitbetaling benodig of verdien nie,” het hy gesê.

City Press het Sondag berig Mavundla (49), ʼn konstruksiemagnaat wat in ʼn stadium aangebied het om Zuma se deel van die opgraderings by sy huis in Nkandla te betaal, was betrokke in ʼn gesamentlike onderneming wat ʼn kontrak van R1 miljard ontvang het om ʼn suurmynwaterdreineringsaanleg in Springs, oos van Johannesburg, te bou.

“Dokumente wat City Press bekom het, wys dat die gesamentlike maatskappy [CMC-PG Mavundla EB JV] ʼn vooruitbetaling van R81 miljoen ontvang het nog voordat hy eers ʼn graaf in die grond gedruk het – dit word uitdruklik verbied deur die Wet op die Bestuur van Openbare Finansies,” het die koerant berig.

Die Trans-Caledon Tonnelowerheid (TCTA) het die kontrak aan Mavundla, voormalige burgemeester van Greytown in KwaZulu-Natal, toegeken. Die TCTA is deel van die departement van water en sanitasie wat grootmaat watertoevoerprojekte oor die land heen beheer, het City Press berig.

Basson het gesê Mavundla se verbintenis met Zuma en sy publieke aanbod om die president se Nkandla-skuld te betaal, “werp lig op die omvang van staatskaping van staatsondernemings deur Zuma se vriende om Nommer Een te bevoordeel”.

“As die politieke hoof van die departement van water en sanitasie, moet minister Nomvula Mokonyane verduidelik wat sy weet en watter magtiging gegee is om die vooruitbetaling goed te keur.

“Die DA sien uit na ʼn spoedige afhandeling van die OG se ondersoek en die moontlike vervolging van almal wat staatsregulasies oortree het. Sy bevindings en aanbevelings sal toekomstige tenderprosesse beskerm teen korrupte neigings van diegene wat politieke dekking geniet wat Nommer Een verskaf,” het Basson bygevoeg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

o ·

Die ‘Bermuda triangle’ waarin al ons swaarverdiende belastinggeld verdwyn het geen perke nie. Ons weet net van die tippie van die ysberg, Skokkend

Stoffel ·

Ai.. ek sal net bly wees as 1 0f 2 miljoen my kant toe kom, hoekom hulle sulke groot bedrae na mekaar oordra wat duidelik aandag gaan trek weet nugter aleen..

al ·

Ons staatskoffers word leeg gedra! Hoeveel van daardie werk met gehalte uitgevoer, en hoeveel enorme wins word gemaak?

Ja nee ·

Ja nee Al, dit kan jy nog n keer se. Wens net die wat so vir hul stem kan die insig kry en besef, hul leef in totale armoede en die vir wie hul so getrou stem gee niks vir hul om nie.

snoefie ·

aangesien daar ondersoek word, laat n onafhanklike ouditeur (soos deur die opposisie partye aangewys) sommer ondersoek instel na die (geldelike) waarde van die werk wat gedoen was.

STOKIE ·

Man kom ek verklaar gou gou die antwoord. Die vriend het so 1 uur in die tuin gewerk en toe skuld Zumpie hom ongeveer R81. 00c en toe kon Zumpie, net One Umm Eighty, umm, E… one 80 and 000000 lees, en toe skryf hy maar so cheque uit?

ken benoni ·

Groot bedrae word gesteel en groot is die druk op belastingbetalers. Ons moet elke sent tel en omdraai, dit verklaar sodat hulle lekker kan steel!!!
Wonder of daar belasting op daardie bedrag betaalbaar was!!!?

Ondersoekspan ·

OG is sy vriendin, dit is hoekom hy die vorige een uitgehaal het. Hulle sal dit ondersoek en ondersoek en later sal die saak stil word. Selfs al vind hulle iets gaan NIKS gebeur nie. Ek kan maar net lag vir almal wat altyd so positief is oor opskrifte .. ZUma se vriend word ONDERSOEK en Zuma se vriend is VAS na ‘n tender .. blah blah .hulle betaal nooit die geld terug nie, hy is R81 miljoen sterker en lag te heerlik vir die wittetjies wat moes werk vir hulle geld ..

Cherokee ·

Die ondersoekspan se ondersoekwerk is power. Die vorige OG se kontrak was verstreke.

stofile ·

dis die politieke korrektheid wat hierdie land in n piesang republiek verander het. steeds stilte oor me mokonyane se poging om CMG-PC MAVUNDA EB JV en TCTA saam te smelt tot n praat swt sonder mening met n eie direksie en (seker) vrye toegang tot staatskoffers nie. moet darem toegee sover het nie een van Zuma se kinders uit die houtwerk gepeul nie.

Francois le Cochon ·

Maroela Media – Weereens stem jul berig se opskrif nie ooreen met die inhoud nie. Die opskrif noem dat die OG die betaling moet ondersoek, Die berig noem dan weer die DA se^ dat die OG die betaling moet ondersoek. Groolt verskil. Die opskrif moes eerder gelees het: “Die DA versoek dat die OG ……..”

moedeloos ·

Sy deel geld uit of dit van bome gepluk word. Intussen sit n hele klomp personeel van DWS sonder enige werk, bid elke dag dat die begrotings toegeken moet word. Ons stres oor ons pensioene, want hier is personeel wat 35 jaar + jare diens het by die Dept. Ons staar afleggings inni oog, wat gaan van ons word? Maar min van Dws het n saak met ons. Solank hul sakke volgestop word….is die saak reg. 8n die Wes Kaap gaan als tot niet met die droogte. Syt nog geen poging aangewend om iets daadwerkliks aan die saak te doen nie……

MANIE ·

Steel maar lekker voort. Toe Eugene Terreblanche dit vir FW en sy linkse trawante destyds gese het is hulle as die onnosele ver regses uitgekruit. Ek dink hulle lag nou lekker vir die onnnosele afrikaner wat homself elke keer met n slapriem laat vang

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.