Onderwys – veel meer as ʼn halfdagwerkie

onderwyser

Foto: Homeyesterday.com

Onderwysers moet deesdae nie net meer oor uitstekende vakkennis beskik nie, hulle moet ook kultureel sensitief, polities intelligent en sosiaal buigsaam wees.

Dit is omdat die skoolterrein ʼn mikrokosmos van die Suid-Afrikaanse samelewing is, ʼn smeltkroes van huishoudings waar verskillende verwysings en denkraamwerke bymekaarkom – en die onderwyser is dikwels die weerligafleier wat in die middel hiervan staan.

“Onderwys is deesdae ʼn moeilike beroep, en ʼn skool die plek waar botsende standpunte en verskillende menings versoen moet word,” sê Chris Klopper, die hoof van die Suid-Afrikaanse Onderwysersunie (SAOU).

Wêreldonderwysersdag word jaarliks internasionaal op 5 Oktober gevier, maar plaaslik word dit op die tweede Vrydag in Oktober gehou omdat die dag gewoonlik in ʼn skoolvakansie val. Vanjaar se tema vir dié dag is “Vrye onderrig, toegeruste onderwysers” met die fokus op institusionele outonomie en akademiese vryheid van onderwysers.

Kloppers reken die tema, wat deur Education International vasgestel is, is ook plaaslik relevant omdat onderwysers hier, maar ook wêreldwyd, toenemend onder druk van regerings en verskillende gemeenskappe kom. Die organisasie verteenwoordig sowat 34 miljoen onderwysers en die SAOU behoort ook aan hulle.

“Dink maar net plaaslik hoe iets op sosiale media verkeerd kan loop; elke kind het ʼn selfoon in die hand en tree soos die paparazzi op. Boonop word die Suid-Afrikaanse gemeenskap al meer gewelddadig en die skool is maar net ʼn toonbeeld van die gemeenskap,” sê Kloppers. Hy reken dit is die verklaring vir die groot getal gewelddadige en boelievoorvalle wat deesdae by skole gesien word.

Hugo Vermeulen van Helpende Hand se skoleondersteuningsentrum glo die oorvol leerplan beperk onderwysers se akademiese vryheid, veral in openbare skole, en lê dikwels onderwysers se kreatiwiteit aan bande. “Tog kan ek jou verseker dat talle Afrikaanse skole te midde hiervan die leiers op die gebied van innovering in die klaskamer is,” het hy bygevoeg.

onderwys-appel-pen-merkwerk

Argieffoto.

Onderwysers van goeie gehalte

Te midde van talle uitdagings presteer die onderwyssektor in Suid-Afrika eintlik steeds betreklik goed, en dit is veral Afrikaanse onderwysers en skole wat as die room van die plaaslike onderwysstelsel beskou word.

Carien Bloem, projekkoördineerder vir onderwys by die burgerregte-organisasie AfriForum, sê Afrikaanse onderwysers is veral bekend vir hul absolute toewyding tot hul vak en leerders. “Hierdie onderwysers is roepinggedrewe en lojaal.”

“Ek kan nou vir jou sê ʼn onderwyser van goeie gehalte het nie net ʼn goeie kwalifikasie nie, maar beskik eintlik oor ʼn reeks eienskappe wat hom of haar goed maak. Dit is ʼn kwessie van ʼn werklike besorgdheid vir kinders se wel en wee. Ek kan vir jou talle stories van onderwysers vertel wat baie verder gaan om kinders te help as wat van hulle in enige werkskontrak verwag word,” sê Kloppers.

Hy meen ook dit is ʼn saak wat deurlopend moet plaasvind. “Dit is wat die grootste verskil maak – daardie volgehoue pligsbesef van ʼn onderwyser, en jy kry dié soort onderwysers in die stede, op die platteland, in ryk en arm skole.”

aanlynstelsel-vir-dissipline

Argieffoto.

Die groot uitdaging

Kloppers sê dat hierdie voorbeelde van uitnemende onderwysers egter nie altyd op hul eie sal kan bly funksioneer nie. Dit is ook tans een van die grootste uitdagings in die onderwysstelsel: om alle Suid-Afrikaanse skole op te trek na die hoogste gemene deler.

Bloem glo ook onderwysers se frustrasies word vererger deur swak dissipline van leerders, oorvol klasse, ʼn tekort aan leermateriaal en hulpmiddels terwyl veiligheid by skole en werksekuriteit toenemend ook kwessies by skole word.

“Ek glo egter hierdie uitdagings sal wel baie minder van ʼn probleem wees as die groot aantal disfunksionele skole in Suid-Afrika opgehef word,” het Bloem bygevoeg.

Hannie Viljoen van GeRat, ʼn organisasie van Helpende Hand wat Afrikaans-onderwysers (Huistaal) ondersteun, sê die groot hoeveelheid administrasie lê ook swaar op die skouers van pligsgetroue onderwysers. “Onderwysersunies en -vakverenigings moet krities hieroor besin en kyk na noodsaaklike administratiewe take teenoor rompslomp, en indien nodig, dit met die onderwysdepartement namens onderwysers opneem.”

Sy het ook haar kommer uitgespreek oor die deursnee-ouderdom van onderwysers wat tussen 45 en 50 jaar is. “Daar is steeds te min studente wat tot die onderwys toetree, veral in skaars vakke.”

Foto: Pixabay.com

Woorde van lof

Onderwyskenners het dit egter eens ʼn onderwyser het die geleentheid om elke dag ʼn verskil in ʼn kind se lewe te maak en hul invloed strek dikwels veel wyer as net die onmiddellike skoolomgewing. Dit wat hulle doen, raak ook ouers en die gemeenskappe waarin hulle werk.

“Daar is ʼn ongelooflike waardering vir wat onderwysers doen, maar dit word dalk nie elke dag op ʼn tasbare wyse erken nie. Tog, oral waar ek kom, hoor ek hoe mense sê hoe dankbaar hulle is dat onderwysvlakke steeds goed is en onderwysers steeds vir hul kinders omgee.

“Onderwysers moet hulself beskerm en nie aan die afbrekende gesprekke deelneem nie. Onthou, julle staan nie alleen in hierdie werk nie, daar is talle mense wat altyd bereid is om hand uit te steek en julle met die taak te help,” het Kloppers gesê.

Dié onderwyser was goed vir my

Maroela Media het lesers en onderwyskenners gevra watter onderwyser hulle altyd sal onthou:

  • Brendon Staniforth: “Karin Olls was een van my onderwyseresse van graad 10 af. As jy aangejaag het, kon sy jou vinnig regsien, maar sy het omgegee oor die mens wat ons op 16 begin word het. My koshuis-‘ma’ het ʼn groter invloed op my lewe gehad as wat sy ooit sou kon raai. Ek is haar ewig dankbaar.”
  • Carien Bloem, AfriForum se projekkoördineerder vir onderwys: “Ek was bevoorreg om twee onderwysers te hê wat nie net op skool nie, maar selfs vandag in my volwasse lewe nog vir my kosbaar is. Juffrou Suzette Malan, van Hoërskool Eldoraigne, was my Afrikaans-onderwyseres. Sy was nie net uitstekend in haar vak nie maar ook ʼn ongelooflike rolmodel en voorbeeld van hoe ʼn mens enigiets suksesvol in die lewe kan aanpak. Elsje van Zyl was my drama-onderwyseres vandat ek nege jaar oud was. Ek dink sy is die wonderlikste persoon wat my toegelaat het om net te kan wees.”
  • Chris Klopper van die SAOU: “Ek was ʼn leerder aan Hoërskool Hercules in Pretoria en daar was ongelooflike onderwysers. Veral twee van hulle, Eben Beukes en Johan Mulsen, wat ek later as dosente op universiteit weer raakgeloop, sal ek nooit vergeet nie.”
  • Hannie Viljoen van Helpende Hand se GeRat: “Juffrou Annalie Venter en juffrou Emma van der Ryst (nou Van der Merwe) by Hoërskool Delmas het ʼn liefde vir leer en leef onder leerders gekweek. ʼn Mens onthou mos nie wat hulle jou geleer het in ʼn vak nie, maar eerder hoe hulle jou geïnspireer het om jou potensiaal na te streef en uitnemend te leef.
  • Hugo Vermeulen van Helpende Hand se skoleondersteuningsentrum: “Meneer Gary Jordaan, my biologie-onderwyser van Paul Roos Gimnasium, het die liefdesaadjie vir onderwys by my geplant.”
  • Jhua-nine Wyrley-Birch: “My Afrikaans-onderwyseres by Affies, juffrou Dalene Visser. By haar was jy nie net ʼn nommer nie, sy het moeite gedoen om jou te leer ken. Sy het Afrikaans toeganklik en lekker gemaak. Te danke aan haar is ek lief vir poësie en het Fiela se kind nie soos ʼn voorgeskrewe boek gevoel nie.”
  • Mariska Ford: “Ons kunsjuffrou op laerskool het ʼn positiewe invloed op my gehad. Ek onthou hoe sy ons, op een been, bo-op ons tafels laat staan het en dan moes ons soos Halley se komeet skitter. Sy het my geleer dit is oukei om anders te wees en dat daar ʼn heel nuwe kleurryke wêreld ‘buite die boks’ bestaan.”
  • Renee Marais: “My graad 1-juffrou, Isabel van Niekerk, want sy het my laat lees.”

9 Kommentare

Leonard van der Dussen ·

Die olifant in die kamer wat nie reguit genoem mag word nie, is die waarde van kultuureie onderwys waar onderwysers nie so besig hoef te wees om “kultureel sensitief, polities intelligent en sosiaal buigsaam” en hulle volle aandag aan die vakkundige onderrig kan wy. Onderwys wat gestrem word deur humanisme en kultuurvermenging is per definisie nie vrye onderwys nie, en laat nie ruimte vir institusionele nog akademiese vryheid nie. Die Christelike skool het die grootste dilemma, waar hy in ‘n wêreld wat gelykvormigheid en gelykmaking van gelowe vereis, die enigste ware God en Christus as enigste verlosser moet verkondig. Die noodsaak vir westers-gedrewe, Christelike Afrikaanse skole wat heeltemaal los van die staat staan, is hoog. En dis wensdenkery dat jy die staatskoolbestel – wat ‘n uitgesproke doelwit deur die staatskurrikulum het om gelykmaking te bevorder – na die “hoogste gemene deler” (grootste gemene deler) getrek gaan kry.

Eish ·

Uitstekende en insiggewende kommentaar. Verseker is die druk om aan die eienskappe soos in die artikel beskryf, te voldoen, se tol die grootste by Afrikaanse onderwysers in staatskole. Wat die fokus wegneem van die vakgebied. Verseker is Christelik Afrikaanse skole, gebou op Westerse waardes,los van die staat se verlammende gif, die antwoord. Ondersteuning daarvoor, ook finansieël, is n tameletjie in die omgewing van verarming. Mens sal moet nuut dink daaroor en met vernuftige oplossings vorendag moet kom.

Leonard van der Dussen ·

Die oplossings is aan die gang, maar die momentum moet verhoog. Die uitdaging is eerstens om breër erkenning te kry dat die Groot Trek na privaatonderwys sonder staatsgeriewe en -voorskrifte nou moet begin terwyl ons onderwys nog redelik sterk is, en tweedens die besef dat die lofwaardige goeie bedoelings met kapitaal ondersteun moet word. Daar moet stewige beleggings gemaak moet word in Christelike Afrikaanse privaatskole ASOOK in onafhanklike onderwysstelsels wat tot ‘n nuwe selfstandige eie onderwys ontwikkel word.

Speedguard ·

Twee van my dogters is opvoeders, dit is hulle lewe en hul passie, soms huil hulle saam oor die omstandighede maar meesal lag hulle en ruil planne uit, hulle geniet dit vreeslik en blom my kinders, al wat hul onder kry is die Politiek nie soos anc en da nie maar werks politiek, gelukkig reken ek myself as ‘n goeie enkel ouer en beskik ek, dink ek oor die vermoe om met hul te kan gesels en te verduidelik hoe die werklikheid werk ens, Vir alle opvoeders, hou moed ,staan sterk, moet nie toelaat dat niemand jou ontneem van jou drome en passie nie. DANKIE vir julle goeie werk !!

Meraai ·

Ek dink persoonlik dit gaan beter in groot stedelike skole, waar skole groter is en ouers weens afstand en verpligtinge nie so betrokke is by die skole soos op die platteland nie. Ook moet die dissipline daar beter wees, want daar is groter mededinging tussen skole en dinge moet eenvoudig glad verloop. Op die platteland laat die onderwys veel te wense oor. Ouers het te min om te doen en meng heeltemal te veel in en onderwysers en skoolhoofde word vreeslik onder druk gesit deur intimiderende ouers in plaas daarvan om hulle werk te doen en te fokus op hulle passie. Jy sal lank en diep soek na karakter en morele waardes onder onderwysers, skoolfhoofde, ouers en kinders. Hartseer maar waar!!

Karin Espag ·

Dit lyk asof studente met onderwysgrade dalk moeiliker werk kry as Aros-studente, of is die speelvlak gelyk?
Ongelukkig gebeur dit ook dat nie alle studente by skoolaktiwiteite betrokke raak en werklik ‘n verskil probeer maak nie.
Ek is trots op my (aanstaande) skoondogter wat vanjaar gradueer aan Tuks, wat gek is oor grondslagfase-onderrig, wat onmiddellik by netbal en revueoptredes ingeskakel het en wat hierdie jaar besonder baie moeite met al haar lesvoorbereidings gedoen het. Ek hoop sy kry gou werk by ‘n skool wat haar passie vir skoolhou waardeer en tot die kleintjies se voordeel wil aanwend.

Johan Neuteman ·

Ek sukkel om te verstaan hoekom juis gereformeerde onderwysers so dikwels hulleself as “opvoeders” beskryf, terwyl ons gereformeerde uitgangspunt tog is dat die opvoeding tuis – in die gesin – plaasvind. Die gesin is die hoeksteen van die samelewing, word gesê. As die onderwysers en die skool die opvoeder word, is dit ook maar net so sosialisties as die humanistiese gemeenskap wat alles aan stelsels en die staat oorgee?

Moeg geonderwys ·

Ek is al vanaf 2012 in die onderwys. Ek het begin by ‘n baie vooruitstrewende engelse hoërskool en het aanbeweeg na n middelklas laerskool en nou is ek in die Kaapse vlakte by ‘n laerskool in een van díé armste areas in ons land en ek is SIELSONGELUKKIG vandat ek voor my eerste klas gestaan het in 2012.

In my hart is ek besig om die onderwys te verlaat. Elke tipe skool, elke area het sy goeie en sterkpunte. Selfs die “ryk” skole kom met sy eie stel probleme, maar waar ek nou is, is nie vir sussies nie. Jou kinders stap ELKE dag honger in jou klas in. Jou klas het ongeveer 45 tot 50 leerders in, waar daar net sitplek is vir so 30. Hulle het absoluut niks behalwe die klere op hul lyf nie. Die pa is in die bendegroep (wat daagliks rondom die skool skiet) en die ma maak 5+ kinders groot want ons kry mos “all pay”. Van daardie kinders het so lanklaas gebad dat hulle groeisels op hul velle kry. Die bendes wat al meer as een keer in my klas ingekom het en geweer op my gerig het en my wou skiet omdat ek ‘n “whitey” is. Ek word daagliks gevloek en ek is al talle keer fisies aangeval. En nou sit ek by die huis met erge PTSD en bipolêre depressie.

Nee wat, swot jy maar onderwys, maar wees net seker dit is ABSOLUUT wat jy wil doen.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.