Onwettige myners skuldig aan honderde aanklagte

Argieffoto van onwettige mynbedrywighede (Foto: Jennifer Bruce/ZUMA)

Argieffoto van onwettige mynbedrywighede (Foto: Jennifer Bruce/ZUMA)

Altesaam 22 onwettige myners is Maandag in die hooggeregshof in Virginia in die Vrystaat aan honderde aanklagte van onder meer geldwassery, rampokkery, betreding en oortreding van die Wet op Immigrasie skuldig bevind.

Kapt. Philani Nkwalase, woordvoerder van die Valke, het gesê die skuldigbevinding spruit uit ʼn voorval in April 2014, toe die Valke, in samewerking met ʼn sekuriteitsmaatskappy, op ʼn onwettige myn by die Masimong-myn in Welkom toegeslaan het.

Volgens Nkwalase het die onwettige myners die geslote myn sedert Augustus 2012 beset. Die beskuldigdes het aanvanklik op 843 aanklagte tereggestaan, maar is op 577 aanklagte skuldig bevind.

Die talle aanklagte teen hulle sluit in rampokkery, geldwassery, betreding, oortreding van die Wet op Immigrasie en die Wet op Edelmetale, asook diefstal van meer as R120 miljoen. Die hof sal vandeesweek versagtende en verswarende omstandighede aanhoor voordat die beskuldigdes gevonnis sal word.

Lt.genl. Mthandazo Ntlemeza, die nasionale hoof van die Valke, het die skuldigbevinding verwelkom en dit as ʼn “grensverskuiwende oomblik” in die stryd teen onwettige mynbedrywighede beskryf.

“Dit is ʼn welkome presedent wat deur die howe gestel is en sal ons pogings om onwettige mynaktiwiteite hok te slaan, ʼn hupstoot gee. Ons is trots op ons span wat gehelp het om ʼn suksesvolle skuldigbevinding in die saak te bewerkstellig,” het Ntlemeza gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Jem ·

Die regering sal regtig plan moet maak met die toeloop van onwettige imigrante. Dit is ook grotendeels deel van die land se krimenele statistieke. Weereens wel gedaan Valke

Johan II ·

Al die wette om hoofsaaklik hardwerkende mense se geld in SARS se sak te hou. Op die ou end is dit maar net nog aardbewoners wat met dit tot hul beskikking probeer oorleef…ek het tog empathie met die mense…al is hul verkeerd…ek kan dink aan groter skelms wat meer skade aanrig, vry rondloop en die gereg uitlag.

Wonder maar net ·

Wonder maar net wat sou gebeur het indien die myn in ‘n mielieland was . . . ?

DeWaal ·

Stem saam Johan – die myn is nie winsgewend nie, laat die mense die beste maak van ‘n slegte saak. Daar is nie werk nie soos dit is nie, en wat is die alternatief?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.