Oorsaak van Knysna-brande bekend

Foto: Reint Dykema

Die oorsaak van die verwoestende brande in Knysna en Plettenbergbaai in Junie, wat honderde eiendomme verwoes, en sewe lewens geëis en duisende hektaar grond afgebrand het, is Maandag bekend gemaak.

Die brand is as gevolg van menslike aktiwiteit en is aangevuur deur sterk winde en droogte, bergwinde, topografie en plantegroei, aldus die bevindings van die amptelike forensiese ondersoek oor die oorsaak van die brande.

Clinton Manual, hoof van Knysna-brandweer wat die ondersoek gelei het, het Maandag by die stadsraad ʼn verslag vrygestel oor sy bevindings.

Manual, wat al die afgelope 25 jaar betrokke was by ʼn aantal soortgelyke hoëprofielondersoeke, het gesê sy ondersoek is gebaseer op wetenskap en hy het duidelike bewyse gevind dat albei brande, wat in Elandskraal buite Knysna en Kruisfontein buite Plettenbergbaai op 7 Junie vanjaar begin het, die gevolg was van mensgemaakte vure.

Manual het gesê daar is duidelike bewyse dat die Knysna-brand begin het ná mense vuur gemaak het. Die bewyse sluit dennebolle in, wat waarskynlik gebruik is as aanstekers en planke wat op mekaar gestapel is.

“Die rede waarom ons sê die dennebolle is as aanstekers gebruik, is dat daar geen dennebome in die omgewing is wat ons as die oorsprong geïdentifiseer het nie,” het Manual bygevoeg.

Hy het gesê daar was ʼn toegangspad na die oorsprong en ander aanduidings dat mense in die gebied was, insluitend gebreekte erdeware, spykers en ander items.

Volgens Manual het die gebied, wat vermoedelik die oorsprong was, ook kenmerke van ʼn tipiese veldbrand, insluitend ʼn V-vormige brandmerk. Dit stem ooreen met die windpatrone op daardie dag, indien mens kyk na die verskillende rigtings waarheen die brand versprei het.

Sewe mense is dood, 700 huise en ander strukture is verwoes en tussen 10 000 ha en 15 000 ha is afgebrand. Ongeveer 5 000 persone is ontruim.

Manual het gesê die brand wat in Kruisfontein begin het, en tot die verwoesting in Plettenbergbaai gelei het, was waarskynlik ook as gevolg van menslike aktiwiteit, aangesien hulle bewyse gevind het van ʼn hawelose persoon wat in die gebied gebly het.

Die Elandskraal-brand het egter op privaat eiendom begin en Manual het gesê dié verslag sal aan die plaaslike polisie oorhandig word wat verder sal ondersoek instel.

Kam Chetty, munisipale bestuurder van Knysna wat ook deel was van die perskonferensie, het gesê die geraamde geldwaarde aan persoonlike verliese, wat eiendom betref, beloop ongeveer R5 miljard. Die infrastruktuur-skade beloop byna R500 miljoen.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

29 Kommentare

My 2c. ·

Van die begin af gese dis wat gebeur het.

Wat die oorhandiging aan die SAPolisie betref- “Quite honestly – dont waste your time”.

Hul stel nie eers in misdaad belang waar gaan hul n brand ondersoek waar professionele mense al klaar die harde en belangrike werk gedoen het. Dankie aan Clinton Manual vir sy puik ondersoek.

dom ·

Koekie vir jou ! Ek dink hulle kon al daai geld gespaar het en net vir jou gevra het wat gebeur het

Z ·

Daar was vanoggend n hartroerende dokumentêr op “Oggend op RSG”. Ek glo dat ons dit weer op Potgooi kan luister.

Elsabe Janse van Rensburg ·

Dit is uiters onstellend, ons ken mense persoonlik wat hierdeur geraak is, hul lewens soos hul dit geken het is onherroeplik verander en soveel kosbare dinge is vernietig wat nooit weer vevang kan word, mense het lewens verloor en ek wil nie eers dink aan al die dierjies en goggatjies wat elk ñ plekkie in Knysna se ekosisteem gehad het wat verbrand het, en tog moet ons dankbaar wees dat soveel se lewens gespaar gebly het.

Pieter ·

So paar van ons mense het dit onomwonde gestel dat die brande deur branstigtig oftewel sabotasie gestig is. Ons is beskree en vertel hoe verkeerd ons dink om onskuldiges te beswadder want die brand is begin deur ‘n “onderbos brand” diep in die bos wat toe al maande woed, wat dit ookal mag beteken het. Die toeval was net een te groot dat brandstigters nie daarvoor verantwoordelik sou wees nie. Die naam BLF kom onwillekeurig in my gedagtes op.

Stellie ·

Wonder wat gaan die versekeringsmaatskappye nou gebruik as verskoning… Dis nou nie juis n act of God nie?

Swartkat ·

Verskeie brande het ook op George en Mosselbaai gelyke tyd met Knysna brande gewoed en is afgemaak as toeval , laat mens wonder

popeye ·

Kan ons dan aflei dat “armoede het ‘n prys vir almal?” dis baie hartseer, die lewens verlies eerstens en onomwonde. Tweedens dat armoede ons almal raak, durf ek sê.

Ouvrou ·

Popeye, waarvan praat jy mens. Armoede het niks te doen met dennebolle aanry en vuur stook nie. Ons het almal ons vermoedens maar sjuuuut is ook beter, veral in vandag se tye. En al vang hulle die skuldige gaan dit boggerol help.

Daan Erasmus ·

Maak nie saak wat die oorsaak was nie. Die REDE hoekom dit versprei het is dat die brand aangemeld is maar die brandweer het dit geïgnoreer toe dit aangemeld is.

Johannes Meintjes ·

Jammer oor die skade in Knysna en elders. Die kleinhoewe omgewing waar ek tans woon het hierdie winterseisoen tot datum ook heelwat veldbrande wat deur “menslike aktiwiteite” begin is, beleef. Wat armoede betref is my terloopse vraag waarom is SA as een van die rykste lande ter wereld se mense so verarm? (Onlangse grafiek dui aan dat ons mense, wit, bruin en swart, in 1990 11% ryker was as die gemiddelde “world citizen”. Nou is ons 18% armer as die gemiddeld, – die super-selfsugtige rykes nou buite rekening gelaat.)

John ·

Die bevolking van Knysna gaan meer as verdubbel en nie minder nie as paleise het mos bo-op die heuwels gepryk… wat beteken… Die ramp word ‘n heerlike geleentheid. ‘Vuur’ is ‘n magtige wapen. En met die powere bestuur van die dorp wat stotterend die oorsake aanmeld en oplossings aanbeveel, lyk dit of die inwoners maar self sal moet opsnork en betyds verhoed dat soiets weer gebeur. Is dit ‘n DA-setel?

Yvonne ·

Hoekom het hulle dit gedoen? Ons was n tyd gelede in Knysna en het gaan kyk na die gebiede wat deur die brande geraak is. Dit was hartverskeurend om dit te aanskou. Die persone wat hiervoor verantwoordelik is, is onmenslik en sal beslis baie swaar gestraf moet word!

Linette ·

Goed ……. So, daar is nou bevestiging van die oorsaak van die brand(e) – iets wat die meeste mense al lánkal al vermoed het en selfs hardop geuiter het (net om iets-allervreesliks gekritiseer en selfs persoonlik aangeval te word). Die brand(e) is mens-gestig. Dit is brandstigting. Nou wanneer gaan die mens(e) wat die brand(e) gestig het opgespoor en aangekla word van brandstigting deur die Polisie? En kan daardie mens(e) verantwoordelik gehou word en siviele eise ingestel word deur die mense wie se huise, eiendom, diere ens. alles in die brand tot niet is of omgekom het?

Hendrik ·

Onthou net, hulle het nie gesê dis brandstigting nie. Dit kan agterlosigheid wees en dat die vuur nie doodgemaak is na die tyd nie, dus moet ons nie sommer aanvaar dis kwaadwillige brandstigting nie. Dis ook snaaks dat die verslag nie veel sê van die weerlig wat maande vantevore die goed onder die grond aan die brand gesteek het nie en dat dit al lank smeul en ‘n paar maal gerapporteer is, maar dat daar niks aan gedoen is nie.

Pieter ·

Ons moet asb tog nie nog steeds naiwe verontskuldigings versprei dat dit nie brandstigting was nie. Die groot brande het nie in die bos ontstaan waar daar na bewering ‘n smeulende onderbos was nie. Vure ontstaan nie spontaan op 26 plekke agv weerlig nie, die brandstigters was vasberade om soveel moontlik skade te berokken en behoort permanent uit die samelewing verwyder te word. Ek kan nie glo dat daar steeds mense is wat ander redes soek as die ooglopende en nou ook bewese rede vir die ramp nie. Moenie van skurke engeltjies probeer maak nie, dit is tog onmoontlik.

Tina du Toit ·

Elandskraal, met 2 aa`s en nie 3 nie. Dog ek sê maar net. Baie tragies dat mense so onverantwoordelik kan wees. Party kan net nie dink nie.

Dalene de Vente ·

Dagsê Tina

Dankie vir jou valkoog. Ons vra om verskoning vir die oorsig, die berig is reeds gewysig.

Groetnis
Dalene nms. Maroela Media

martin cilliers ·

dankie vir die wetenskap wat nie raai nie volpunte

AP ·

Van die begin af geweet dit was kriminele wat betrokke was , gebeur elke keer as daar winde is , ek hoop hulle slaap rustig , met verlies van lewens , huise diere , dis n skande

Theresa ·

Enige moontlikheid dat die skuldiges opgespoor kan word met ewe suksesvolle speurwerk? Die skade is reusagtig en kan hierdie mense nie net wegstap na so ‘n misdaad nie! Al was dit ‘n klein stukkie wat gebrand het en skuldiges het die vuur begin, is dit tyd dat daar van diesulkes ‘n voorbeeld gemaak word. Dis ‘n misdaad met repurkussies en kan nie net so gelaat word nie.

Sê maar net ·

Ek het nêrens raakgelees dat hulle ondersoek bewys dit was brandstigting (doelbewus en krimineel) nie, die oorsaak was as gevolg van menslike aktiwiteit. Kon ook gewees het dat iemand ‘n vuur gemaak het om warm te bly.

Wessel ·

Daar het hittegolf toestande geheers toe die brande ontstaan het.

Joggie ·

Wessel daar is nie n manier wat daar in Junie maand hittegolf toestande in Knysna sal heers nie. Ek dink die punt is dat die verslag glad nie gepraat het van brandstigting nie.

Knysna Bewoner ·

Joggie, jy bly heel duidelik nie en ken ook nie die weer in die Suid Kaap nie. Die weer kan in n enkele dag al 4 seisoene verteenwoordig.

Daar was n hittegolf, warm bergwinde en daarna n vreeslike stormwind. Ek bly in Knysna en het dit self ondervind.

jennefer ·

die laaste paar naweke word daar tot 3 plekke gelyktydig aan die brand gesteek op die N1 tussen Pretoria en Pholokwane! Daar is nie meer iets soos n rustige sondag.

Pieter kemp ·

Dit is duidelik dat julle geen idee het waarvan julle praat nie. Knysna kry baie maklik bergwind toestande in die middel van die winter. Dit is ook alombekend op wie se eiendom en waarom die brand ontstaan het. Hoekom sal enige iemand dennebolle en planke aandra na n plek waar baie brandbare materiaal is? Vir wie werk die forensiese ondersoeker? Hou op om kommentaar te lewer as julle nie oot die feite beskik nie. Daar is genoeg hartseer en smart in die omgewing sonder enige bog wat nog kwytgeraak word.

Chris van George ·

Ek dink dit is ONMOONTLIK om te se wat die brand begin het. Die tekens kan verskillende manieregeinterpreteer word. Die feid dat ons gereelde brande in die george omgewing kry en die feid dat die tuinroete ‘n bome plantasie gebied is, laat my wonder hoekom almal so verbaas is en aangaan oor die stigting van die brand. Die kaapse natuurlike Flora (protea’s bv.) moet elke paar jaar gebrand word anders groei hul nie. Ek se: hou op energie mors op blaam stel. Liewers spandeer jou energie op versigtig herbou en die infrastruktuur so opbou dat die VOLGENDE brand (natuurlik of on natuurlik) nie soveel skade veroorsaak nie. Ons bly in ‘n brand gevaar gebied – Skrik wakker asb mense. Daar is baie wat gedoen kan word om brande wat uitbreek te verhoed om mense dood te maak, kom ons gaan doen ‘n bietjie huiswerk.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.