Oos-Londen-staking verby

Lede van Samwu, werkers van die Buffalo City-munisipaliteit, het tydens die staking paaie in Oos-Londen met brandende bande versper Foto: Nombulelo Damba, GroundUp http://www.groundup.org.za/article/buffalo-city-workers-block-roads-burning-tyres/)

Lede van Samwu, werkers van die Buffalo City-munisipaliteit, het tydens die staking paaie in Oos-Londen met brandende bande versper Foto: Nombulelo Damba, GroundUp http://www.groundup.org.za/article/buffalo-city-workers-block-roads-burning-tyres/)

Buffalo City-munisipaliteit in Oos-Londen het Vrydag gesê hy het ʼn ooreenkoms met werkers bereik wat die staking tot ʼn einde bring.

Honderde lede van die munisipalewerkersvakbond Samwu het Donderdag na die stadsaal opgeruk oor salarisgeskille. Die werkers het twee weke gelede begin staak.

ʼn Groep werkers tydens die staking glo vullisdromme in dele van Oos-Londen en King William’s Town omgegooi en na bewering ook paaie met brandende bande versper. Die werkers eis ʼn maandelikse salarisverhoging van R2 000 en dat die verhoging terugwerkend sedert 2011 betaalbaar moet wees, toe die munisipaliteit ʼn metro geword het.

Alfred Mtsi, uitvoerende burgemeester, het Vrydag gesê die munisipaliteit het ʼn ooreenkoms met die werkers aangegaan. Volgens hom het die Kommissie vir Versoening, Bemiddeling en Arbitrasie (KVBA) gehelp om die ooreenkoms op te stel en dat die verhoging terugwerkend vir twee jaar betaalbaar sal wees weens vertragings in die posevalueringsproses.

“Buffalo City Metropolitaanse Munisipaliteit kom ooreen om die werkers hul posevalueringswysigingstoelaag te betaal as ʼn eenmalige bedrag van R15 000 vir elke werknemer soos volg: R9 838 binne 14 dae en die oorblywende bedrag van R5 162 so gou as moontlik binne die volgende finansiële jaar.”

Mtsi het gesê die werkgewer onttrek ook onmiddellik met koste sy aansoek om ʼn interdik te bekom nadat die vakbonde die staking opgeskort het.

Hy het om verskoning gevra aan die inwoners van Oos-Londen vir enige ongerief wat deur die staking veroorsaak is.

Sibusiso Pindi, woordvoerder vir die burgemeester, het gewaarsku dat ʼn ondersoek ingestel word oor werkers wat geboue gevandaliseer en toerusting gebreek het. PIndi het gesê selfs die vakbonde keur nie sulke gedrag goed nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.