Oscar-fliek: ‘Ons weet van niks’

‘n Skermskoot uit die lokprent.

Barry en June Steenkamp, ouers van Reeva Steenkamp, het geen kennis gedra van die rolprent Oscar Pistorius: Blade Runner Killer wat eersdaags bekend gestel word nie.

Tania Koen, die Steenkamps se prokureur, het in ʼn verklaring gesê June en Barry rou steeds oor die dood van hul dogter. “Hulle is geskok en ontsteld om te verneem van berigte ‘dat die rolprent uit [Reeva] Steenkamp en haar ma se oogpunt vertel word’. June is nie deur Lifetime genader om deel te neem, insette te gee of enigsins betrokke te wees nie.”

Volgens Koen is enige indruk dat die rolprent deur die Steenkamp-familie onderskryf word onwaar.

Maroela Media het vroeër berig die lokprent vir die rolprent oor die wêreldbekende paralimpiese atleet, Oscar Pistorius, en die moord op sy meisie, Reeva, is Vrydag bekend gestel.

Die rolprent handel oor die tragiese gebeure van 14 Februarie 2013 toe Steenkamp in ʼn badkamer van Pistorius se huis in Silver Lakes in Pretoria doodgeskiet is.

Pistorius is vir die moord op Steenkamp aangekla en het tydens die hofverrigtinge, wat wêreldwyd uitgesaai is, aangevoer hy het Steenkamp deur die badkamerdeur geskiet omdat hy haar vir ʼn inbreker aangesien het. Pistorius is aanvanklik aan strafbare manslag skuldig bevind, maar sy skuldigbevinding is later na moord verander en hy is ʼn vonnis van ses jaar tronkstraf opgelê.

Die staat se appèl teen Pistorius se vonnis sal op 3 November aangehoor word, net ʼn week voor die bekendstelling van Oscar Pistorius: Blade Runner Killer wat op 11 November op die Amerikaanse televisiekanaal Lifetime vertoon sal word.

Daar is nog geen datum bekendgemaak wanneer die rolprent in Suid-Afrika uitgereik sal word nie.

Andreas Damm, ʼn Suid-Afrikaanse akteur wat in New York in die VSA woon, vertolk die rol van Pistorius, terwyl die rol van Steenkamp deur Toni Garrn vertolk word. Die rolprent is deur Eric Tomosunas vir Thinkfactory Media vervaardig met Norman Stone as regisseur.

Kyk die lokprent hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Celeste ·

Dis siek. Boikot die fliek. Laat Reeva in vrede rus en laat haar familie in vrede. Regtig is dit reg om geld uit ander se hartseer te maak

Stoffel ·

Ons is te simpel om unieke stories te skryf so kom ons maak maar n fliek oor n hofsaak waaroor verveelde housvrouens nie genoeg kan kry nie.. sigh, ek mis vir Willie Esterhuizen en Leon Schuster

Alida ·

Stoffel ek stem. Gatvol vir die storie van Oscar. Die Steenkamps kan dit mos stop as hulle wil en die filmmakers dagvaar vir miljoene of is die storie dalk verkoop? Hoe sal ons weet.

Cherokee ·

Nee Alida, jou ‘hoe sal ons weet’ dui op verdagmaking. En om ‘die filmmakers te dagvaar vir miljoene’ kan dalk miljoene kos. Daar word nie net ‘n ‘n prokureur op die hoek ingestap en hy skryf ‘n dagvaarding en miljoene word uitbetaal nie. Dit werk nie so nie. En moet nie met ‘n nuwe storie begin waar die twee seniors van dinge beskuldig word terwyl hulle niks daarvan weet nie.

Lcom ·

Om van te hiul.Is hierdie fliek gemaak on mense te oortuig ons goue seun was onskuldig. Reva ons harte hiul nog oor jou geweldadige dood. Ons bid vir die Steenkamps

Ruben ·

Wat pla dit enige iemand jy hoef nie die fliek te kyk ek gaan beslis nie lyk soos n goedkoop fliek wat nie deur veel gesien sal word

Wouter ·

Dit is nie Silwer Lakes nie dis Silwer Woods. Groot verskil. Die een is ‘n Golflandgoed en die ander is slegs behuising landgoed.

Wouter ·

As jy nie die fliek wil kyk nie. Moet dan nie. Maar almal wat so mond uitspoel hier gaan 10 teen 1 voor staan vir kaartjies.

Boet Fasie ·

Los Reeva dat sy in vrede rus, het ook genoeg van Oscar gesien. Hoekom maak hulle nie ‘n fliek oor Zuma en sy skelmstreke nie en ook die moord op plaas boere nie, dan doen hulle iets nuttig ver SA

LBS ·

Glo my, die Zuma fliek sal nog kom, dit is ‘n ongelooflike storie!

Jo-Anne ·

Want wie wil nou n fliek oor Zuma sien. Dis elke dag in die nuus. En so terloops, hulle sê dit word uit die Steenkamps se oogpunt vertel so ek twyfel daar sal so n mooi prentjie van ons “goue seun” geverf word. Ek sal ook maar my persoonlike opienie oor die Steenkamps vir my self hou. Laastens. Kan ons tog net end kry met al hierdie boikot dit en boikot dat regtig. As jy nie iets wil kyk of iewers wil eet of by n seker winkel wil koop nie moet net eenvoudig nie. Daars geen rede vir jou om soos n twee jarige n vloer-moer te gooi nie. Regtig waar.

Pieter K. ·

Dis nie nuus nie, …regtig?
Styg bo dit uit asseblief.

G ·

Plaas hulle ‘n rolprent maak van al die wreedaardige plaasmoorde, dan het hul ten minste iets goeds gedoen en ander lande bewus gemaak van wat in ons land aangaan. Wat gaan ‘n film van Oscar bereik?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.