Panayiotou-verhoor: Aanklagte voorlopig teen getuie teruggetrek

Christopher Panayiotou, Sinethemba Nenembe en Zolani Sibeko (met sy gesig bedek) in die hooggeregshof in Port Elizabeth (12 Oktober 2016). Foto: ANA/Raahil Sain

Christopher Panayiotou, Sinethemba Nenembe en Zolani Sibeko (met sy gesig bedek) in die hooggeregshof in Port Elizabeth (12 Oktober 2016). Foto: ANA/Raahil Sain

Alle aanklagte is voorlopig teruggetrek teen die meisie van die man wat na bewering ʼn huurmoordenaar gekry het om Jayde Panayiotou te ontvoer en vermoor.

Babalwa Breakfast was Vrydag weer in die beskuldigdebank in die Port Elizabeth-landdroshof op aanklagte van meineed en dwarsboming van die gereg. Die aanklagte is egter voorlopig teen haar teruggetrek hangende die uitspraak in die moordverhoor van Christopher Panayiotou en sy medebeskuldigdes.

Panayiotou en sy medebeskuldigdes, Sinethembe Nenembe en Zolani Sibeko, word aangekla van die moord op die sakeman se vrou, Jayde (29).

Breakfast se kêrel, Luthando Siyoni, was Vrydag saam met haar en haar regsverteenwoordiger, Ryno Scholtz, by die hof. Breakfast is in Oktober verlede jaar in hegtenis geneem nadat sy tot ʼn vyandige getuie verklaar is en gevra is om die getuiebank te verlaat waar sy in die moordverhoor getuig het.

Breakfast het histeries aan die huil gegaan toe sy in hegtenis geneem is. Siyoni, wat staatsgetuie geword het, is ook tot ʼn vyandige getuie verklaar tydens sy beurt in die getuiebank.

Tydens die moordverhoor het Breakfast aan die hof vertel hoe sy geld, wat Siyoni aan haar gegee het, in haar ou skoolsokkies versteek en eers die kontant getel het nadat haar kêrel haar aangesê het om dit te doen. Sy het gesê Siyoni het aan haar gesê die geld was vir opknappingswerk by die gimnasium wat hy in Zwide bestuur.

Haar getuienis het egter haar verklarings weerspreek. ʼn Uittreksel uit Breakfast se eerste verklaring wat sy op 27 April 2015 aan die polisie gemaak het, lui: “Volgens Thando wou Chris gehad het hy moet sy vrou doodmaak en hy [Thando] het vir hom gesê hy kan dit nie doen nie, maar hy kan mense reël wat dit vir hom kan doen.

“In April, ek is nie seker van die datum nie, het Thando vir my gesê hy het ʼn ou gekry met die naam Sizwe wat vir hom gesê het hy kan die vrou vir hom doodmaak. Volgens Thando sou die persoon wat die taak vir Chris suksesvol kon uitvoer ʼn bedrag van R50 000 betaal word.”

Jayde Panayiotou en haar man Christopher. Foto: Facebook

Jayde Panayiotou en haar man Christopher. Foto: Facebook

Breakfast het egter tydens haar getuienis in die hof die inhoud van haar verklaring aan die polisie ontken. Haar antwoorde aan die staatsaanklaer was deurentyd, “ek weet nie”, “ek kan nie onthou nie” en “nee, ek het dit nooit gesê nie”.

Die staat glo dat Breakfast onder eed gelieg het en daarom is sy op ʼn aanklag van meineed in hegtenis geneem.

Panayiotou, Nenembe en Sibeko staan tereg op aanklagte van sameswering, ontvoering, roof en moord. Hulle het skuld op die aanklagte teen hulle ontken. Die beweerde huurmoordenaar, Sizwe Vumazonke, is in September oorlede.

Jayde is in April 2015 buite haar meenthuiskompleks in Kabega Park ontvoer terwyl sy vir ʼn saamrygeleentheid gewag het na Riebeeck High School waar sy gewerk het. Haar liggaam is op 22 April 2015 in ʼn veld buite die KwaNobuhle-nedersetting gevind. Sy is doodgeskiet.

Die moordverhoor sal na verwagting op 19 April in die hooggeregshof in Port Elizabeth hervat word.

Lees alle vorige berigte oor Christopher Panayiotou op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.