Paramedikus sterf op ongelukstoneel

Jacqline Coetzee. Foto: Facebook

Boodskappe van medelye het oor die naweek op sosiale media ingestroom nadat twee mense, een ʼn paramedikus, op ʼn ongelukstoneel in Centurion gesterf het.

Jacqline Coetzee, ʼn paramedikus van Emer-G-Med, en Howard Dickinson, ʼn pa van Pretoria, is Vrydagaand dood in ʼn botsing tussen ʼn bakkie en ʼn ambulans op die hoek van Lenchen- en John Vorsterrylaan. Coetzee was een van die paramedici op die toneel van ‘n ander ongeluk toe die botsing gebeur het.

Emer-G-Med het in ʼn verklaring gesê nog ʼn Emer-G-Med-paramedikus en ʼn vrywillige paramedikus van Emer-G-Med wat ook op die toneel was, is in die botsing beseer en na ʼn Johannesburgse hospitaal gehaas. Volgens Braam Kruger, woordvoerder van Emer-G-Med, was een van die beseerdes teen Maandagmiddag steeds in ʼn kritieke toestand, terwyl die ander persoon se toestand stabiel was.

Howard Dickinson. Foto: Facebook

Kruger wou nie verdere inligting oor die botsing verskaf nie en het gesê die presiese gebeure sal ondersoek word.

Emer-G-Med het intussen die oorhoofse foto van sy amptelike Facebook-blad na ʼn rouband verander ter nagedagtenis aan Coetzee. Verskeie boodskappe van medelye is op die blad gedeel, onder meer deur ander ambulans- en veiligheidsdienste soos Monitor Net, Londoloza Protection Group en Emergency and Response Equipment CC.

Maroela Media het verlede week berig nóg ʼn paramedikus, Vicky Govender van ER24, is dood toe hy in ʼn ernstige motorongeluk betrokke was terwyl hy op ʼn noodgeval te midde van die hewige storm in Durban, KwaZulu-Natal, gereageer het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Hoe? ·

Hoe werk die assuransies van hierdie ‘engele’ wat so onbaatsugtig diens lewer aan die gemeenskap en dan ook, soos hier, te sterwe kom? Wat word van die afhanklikes van so ‘n persoon?

Derick Ward ·

Ons was saam in Laerskool en Hoërskool. Sy was altyd vriendelik en altyd met daai pragtige glimlag gespog. Rus sag vriendin. My gebede gaan uit na haar familie en almal wie haar ken.

Lil ·

Rus sag Jackie! Ons gaan jou mis girl… jy was en sal altyd n Queen bly!

Anna ·

Howard en Jaqline, al het ek julle nie geken nie, wil ek net sê ons harte huil saam met julle gesinne oor julle. Ons sal doen wat ons kan om hulle in Jesus Liefde toe te vou in hierdie tyd.

Howard ek hoop jy en jou pa vind mekaar daar bo.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.