Patoloë dreig om nasionaal te staak

Dr. Aaron Motsoaledi. Foto: Flickr/GovernmentZA

Die DA het Dinsdag gesê hy het aan Aaron Motsoaledi, minister van gesondheid, geskryf en gevra dat die departement van gesondheid dringend ingryp om die dreigende staking van patoloë af te weer.

Patricia Kopane, DA LP, het gesê die staking volg nadat die nasionale gesondheidslaboratoriumdienste (NHLS) aangedui het hulle gaan nie die 7,3% salarisverhoging wat deur die patoloë en hul unies geëis word kan bybring nie.

“Hulle kon net 3% aanbied,” het Kopane gesê.

Kopane meen dit is van kardinale belang dat reëlings vooraf met private laboratoriums getref word omdat ʼn staking by die NHLS nadelig vir pasiënte wat wag op MIV/vigs-, malaria-, kanker- en ander siektes se toetsuitlae kan wees.

Die DA sê die gevolge van so ʼn staking kan rampspoedig wees omdat die NHLS verantwoordelik is vir meer as 80% van die land se patologiese diagnostiese dienste.

“Meeste van die pasiënte het nie ʼn ander opsie as om op die openbare gesondheidsektor staat te maak vir patologiese dienste wat aandui of ʼn pasiënt ʼn lewensbedreigende of hoogs aansteeklike siekte het of nie het nie.”

Die DA het die minister versoek om ʼn noukeurige plan van aksie te verskaf wat verduidelik hoe die gevolge van só ʼn staking versag sal word.

“Tragedies wat hulle in die verlede al afgespeel het, het getoon dat die departement se gebrek aan aksie die kern is van die talle krisisse in die gesondheidsektor,” het Kopane gesê.

“Die stakings, soos die lykshuisstakings in Gauteng, het ʼn verlammende effek op die gesondheidsektor. Ons mag nie weer ʼn Life Esidimeni- of onkologie-krisis soos in KwaZulu-Natal hê nie. Die DA sal aanhou om druk op die minister te plaas om te verseker dat hierdie pasiënte met waardigheid behandel word.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

marous ·

Dis die stuiptrekkings van ‘n gebreekte land…aan die hand van die leiers.

Eish ·

Ek kan aan geen, hoegenaamd geen staatsdepartement, semi staatsinstelling, projekte of planne van die regerende party dink wat suksesvol bestuur word nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.