Piet Byleveld: Nog talle praat hart uit; ‘Baasspeurder’ reageer

Die kompleks in Ruimsig, Roodepoort waar Byleveld woon.

Die kompleks in Ruimsig, Roodepoort waar Byleveld woon.

Nog talle van Piet Byleveld se beweerde slagoffers het na vore gekom, waaronder ʼn oud-polisiebeampte en ʼn man wat maande lank moes spaar om sy seun se verdwyning te laat ondersoek. Maroela Media het Byleveld intussen met die bewerings teen hom gekonfronteer.

Tydens ʼn verrassingsbesoek Dinsdag aan Byleveld se huis in Ruimsig aan die Wes-Rand het ʼn verslaggewer daarin geslaag om Byleveld voor te keer toe hy met sy motor by die hek uitry. Byleveld het gesê hy is nie bereid om nou kommentaar op die bewerings te lewer nie aangesien hy eers die saak met sy prokureur wil bespreek. Hy het gesê sy vrou is tans in ʼn hospitaal in Pretoria en dat hy min tuis is, aangesien hy haar in die hospitaal bystaan. Maroela Media het bevestig dat sy vrou, Elize, wel in ʼn Pretoriase hospitaal behandel word.

Nadat Maroela Media vir die eerste keer wenke ontvang het oor mense wat skynbaar deur Byleveld ingedoen is, het ʼn verslaggewer weke lank probeer om Byleveld in die hande te kry sodat hy daarop kan reageer. Oproepe, e-posse en SMS’e aan Byleveld het egter onbeantwoord gebly. ʼn Verrassingsbesoek aan Byleveld se kantore in Ruimsig, Roodepoort, het ook geen vrugte afgewerp nie aangesien Byleveld se kantoor blykbaar sonder enige kennisgewing ontruim is.

Byleveld wou nie Dinsdag sy regsverteenwoordiger se kontakbesonderhede aan Maroela Media se verslaggewer verskaf nie. Hy het onderneem om persoonlik of by monde van sy prokureur kommentaar te lewer sodra hul vergadering, wat later die middag sou plaasvind, afgehandel is. Byleveld het sedertdien nog nie weer oproepe of SMS’e van Maroela Media beantwoord nie.

Maroela Media het intussen ondersoek ingestel na nóg soortgelyke bewerings deur Byleveld se kliënte en voormalige kollegas.

‘Iets was nie pluis nie’

ʼn Oud-polisiebeampte wat ongeveer drie jaar gelede op kontrakbasis ondersoeke vir Piet Byleveld Crime and Commercial Investigations (PBCCI) gedoen het, en versoek het om anoniem te bly, het aan Maroela Media gesê hy het reeds met sy eerste ondersoek agtergekom iets is nie pluis nie. “Dit was ʼn moordsaak wat ek moes ondersoek en tydens my eerste ontmoeting met die slagoffer se familie was hulle sommer dadelik vyandig teenoor my. Die slagoffer se broer het vir my gesê ek is reeds die vyfde persoon wat hom kom sien om die saak namens PBCCI te ondersoek. Die res het almal verdwyn,” het hy gesê.

Hy vertel dat hy die vorige man wat die saak ondersoek het, gebel het om inligting oor die saak te kry. Dié het aan hom gesê hy het hom aan die saak onttrek omdat Byleveld hom nie vir sy dienste betaal het nie. “Ek het met die ondersoek begin, mense gaan sien en onderhoude gedoen en na die eerste maand my faktuur deurgestuur. Na ʼn maand is ek nie betaal nie. Na twee maande ook nog nie. Die derde maand ook niks.”

Hy vertel dat ʼn gedeelte van sy geld later aan hom betaal is nadat hy PBCCI gedreig het met siviele aksie, maar dat hy nooit sy volle betaling ontvang het nie. Hy het nooit die inligting wat hy tydens sy ondersoek na die moord ingesamel het, aan PBCCI oorhandig nie, aangesien hy steeds wag om ten volle betaal te word. “Ek het sedertdien nooit weer met Byleveld gepraat nie. Hy het opgehou om my oproepe te beantwoord en ek het naderhand opgehou om hom in die hande te probeer kry.”

‘Ek moes maande spaar om my seun te probeer vind’

Nog een van Byleveld se “slagoffers” is John Mbongo, ʼn afgetrede man van Heidelberg, wat Byleveld in 2011 genader het om sy seun se verdwyning te ondersoek. Byleveld was toe nog deel van Sleuth Consulting Services, wat private ondersoeke gedoen het. Mbongo het maande lank gespaar voor hy die R8 325 wat nodig was om die ondersoek van stapel te stuur, aan Sleuth Consulting Services kon oorbetaal.

Piet Byleveld. Foto: Maroela Media

Piet Byleveld. Foto: Maroela Media

Mbongo het aan Maroela Media gesê dat hy na sy seun, Daniel, se twee kinders moet omsien nadat Daniel op 13 Januarie 2010 spoorloos verdwyn het, en daarom het dit hom lank geneem om die R8 325 bymekaar te skraap. Daniel, wat vir ʼn geldvervoermaatskappy gewerk het, is uit sy woonstel in Sunnyside in Pretoria ontvoer. Hy is nooit weer gevind nie.

ʼn Ander ondersoekbeampte van Sleuth Consulting Services het die saak ondersoek, maar na ʼn ruk het Mbongo gesukkel om hom in die hande te kry om terugvoer oor die saak te kry. Hy vertel die een verslag wat hy uiteindelik van die ondersoekbeampte ontvang het, het slegs die inligting bevat wat Mbongo tydens sy vergadering met Byleveld aan hom meegedeel het. Toe Mbongo uiteindelik vir Byleveld telefonies in die hande kry, het dié hom meegedeel dat hy weg is by Sleuth Consulting Services. Die maatskappy het aan die einde van 2012 sy deure gesluit.

Maroela Media verneem ʼn ander ondersoekmaatskappy het intussen Mbongo se saak oorgeneem. Mbongo het egter Donderdag gesê byna sewe jaar ná sy seun se verdwyning is hy geensins nader aan enige antwoorde nie.

‘Laaste hoop op antwoorde oor my dogter se moord’

Linda Lumsdale se dogter, Danielle, is in Oktober 2009 dood gevind. Die polisie het aanvanklik ʼn geregtelike doodsondersoek gedoen, maar die saak is later na moord verander, het sy aan Maroela Media vertel.

Die familie het PBCCI in 2015 genader om ondersoek na Danielle se dood in te stel. Linda moes R3 500 betaal vir haar eerste konsultasie met Byleveld en nadat hy die besonderhede rondom die saak aangehoor het, het hy ingestem om die saak te ondersoek. “Dit het aanvanklik gelyk asof hy wel die saak ondersoek. Hy het ʼn afskrif van die dossier by die hof gekry en gevra om na die toneel te gaan waar haar liggaam gevind is. Daar het hy ʼn paar foto’s geneem,” het Lumsdale gesê.

Volgens Lumsdale het die familie hom meer as R60 000 betaal om die saak te ondersoek. Maroela Media het betalingsbewyse vir die grootste gedeelte van die geld gesien. Lumsdale beweer dat hulle nooit ʼn bewys van betaling ontvang het vir ʼn deel van die geld wat kontant by PBCCI se kantore inbetaal is nie.

Byleveld het kort daarna opgehou om die familie se oproepe te beantwoord of op hul e-posse te reageer. “Ons het aanvanklik enkele e-posse van sy ontvangsdame terug ontvang met ʼn klomp storietjies. Hulle het in ʼn stadium vir ons gesê hy was in die hospitaal en sal terugkom na my toe, maar natuurlik het hy nie. Later het niemand meer op ons e-posse of oproepe gereageer nie. Al ons SMS-boodskappe is ook geïgnoreer. Hy was ons laaste hoop om antwoorde op my geliefde dogter se brutale moord te kry.”

Lumsdale het gesê hoewel die familie tot op hede nog geen regstappe geneem het nie weens die koste daaraan verbonde, beplan hulle om dit wel te doen sodra hulle geld daarvoor het.

‘Dit gaan nie oor geld nie – ons soek net die moordenaar’

Neil Sonnekus, ʼn Suid-Afrikaner wat nou in Nieu-Seeland woon, se pa is op 13 November 2007 in sy huis in Centurion vermoor. Sonnekus sê aangesien die polisie wat betrokke was by die ondersoek na die saak “ongeskik, onbehulpsaam en onprofessioneel” was, het hy besluit om PBCCI te nader om die saak te ondersoek.

'n Verslaggewer van Maroela Media praat met Byleveld.

‘n Verslaggewer van Maroela Media praat met Byleveld.

“Ons is ná my pa se moord Nieu-Seeland toe, en toe ons vroeg in 2014 terug Suid-Afrika toe is vir vakansie, het ek Byleveld gaan sien. Dit was by ʼn restaurant in Roodepoort. Hy het my deeglik oor die saak ondervra en ek het hom geantwoord. Ek het hom R2 500 vir die konsultasie betaal, en hy het ingestem om die ondersoek te behartig. Ek is daarna terug Nieu-Seeland toe,” het Sonnekus gesê.

Sonnekus en sy suster het daarna ʼn paar betalings van altesaam R16 000 aan Byleveld gedoen. Hy sê hy het gesukkel om terugvoer oor die ondersoek van Byleveld af te kry en aangesien hy in Nieu-Seeland woon, kon hy slegs per e-pos met Byleveld se sekretaresse korrespondeer. Talle van sy e-posse het egter onbeantwoord gebly. “Byleveld se assistent het in ʼn stadium vir my ʼn verslag van die ondersoek gestuur nadat ek hulle half gedreig het dat ek koerante toe sal gaan, maar dit was ook die laaste. Ons het ophou betaal en niks verder gehoor nie.”

Volgens Sonnekus oorweeg hy nie om regstappe teen Byleveld te neem nie, aangesien hy in Nieu-Seeland woon en weens die finansiële implikasies daarvan. “Dit gaan in elk geval nie oor geld nie; dit gaan daaroor om ons pa se moordenaar te vind. Jy moet verstaan, elke keer wat ons hierdie goed moet doen, ontstel dit ons… Dis ʼn dubbele teleurstelling,” het hy gesê.

‘Die polisie kon niks uitrig nie’

Tracey Olivier vertel dat sy ook ʼn bloutjie geloop het met die ondersoek ná die moord op haar seun. Dit was in 2012, ook toe Byleveld nog deel was van Sleuth Consulting Services en voordat PBCCI tot stand gekom het. Olivier sê sy het Byleveld in 2012 in Polokwane ontmoet nadat sy ʼn geleentheid bygewoon het waar hy die spreker was. “My kind is in September 2008 by sy huis in ʼn veiligheidskompleks in Sandton doodgeskiet. Die polisieondersoek het niks opgelewer nie en ek het Byleveld gevra of hy die saak kan ondersoek. Ek het ʼn dagboek gehou van al die gebeure sedert my seun se dood en het dit vir Byleveld gegee. Hy het gesê ek moet vir hom ʼn e-pos stuur met die besonderhede en hy het later laat weet hy kan die saak ondersoek.”

Sy het R10 000 aan Sleuth Consulting Services oorbetaal sodat die ondersoek kon begin. Die saak is daarna deur ʼn ander ondersoekbeampte van dié maatskappy ondersoek, terwyl Byleveld as toesighouer in die saak opgetree het.

Olivier beweer sy het later geen terugvoer meer van die ondersoekbeampte of Byleveld ontvang nie en het gesukkel om hulle in die hande te kry om oor die vordering van die saak navraag te doen. Nadat sy op ʼn dag vir Byleveld telefonies bereik het, het hy haar meegedeel hy is weg by Sleuth Consulting Services en dat hy dus nie meer aanspreeklik gehou kan word vir die ondersoek nie.

Psira, die reguleringsowerheid vir die private veiligheidsbedryf, het intussen aan Maroela Media bevestig dat Byleveld wel by die owerheid geregistreer is en dat sy lidmaatskap binnekort hernu moet word.

Maroela Media het e-posse, boodskappe en oproepe van nog talle mense ontvang wat ook beweer dat hulle ʼn bloutjie geloop het met Byleveld se dienste. Dié bewerings word tans ondersoek, en Maroela Media poog steeds om met Byleveld kontak te maak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

83 Kommentare

Sêmaarnet ·

Ai-ai Piet, miskien moet jy maar belê in ‘n paar goeie hardloopskoene of uitkom met die waarheid!

EvW ·

Daars nou niemand meer wat die werk vir hom kan doen nie……

Hiert Jou ·

Daar was destyds na sy aftrede van sy kollegas wat beweer het dat dit eintlik hulle was wat die sake opgelos het, maar Piet het altyd die krediet gekry. Dalk was hulle reg?

Shaun ·

Natuurlik is dit waar . Piet Byl was en is n regte ” jam stealer “

Asjas ·

Kan al hierdie mense nie saam een Prokureur kry en hom “nail” nie?
As ek die berig so lees klink dit asof die Polisie ook maar useless is. Eis alle gelde terug van regering, ons betaal mos belasting??

Donovan ·

Mors julle tyd en geld… Piet gaan n vrywillige sekwistrasie gaan en dan kan niks en niemand iets aan hom doen nie…

Cherokee ·

Piet Byleveld was so opgehemel in ondermeer hierdie selde forums dat hy dit self begin glo het. Toe hy daarmee begin het en agtergekom het sy ondersoeke is ‘n mislukking omdat die mense wat werklik die werk gedoen het, dit nie meer doen nie en hy self nou moet werk, het hy gehardloop. Enigste probleem is, hy het vergeet om die mense se geld terug te gee. Herinner hom daaraan wanneer julle hom weer sien.

M britz ·

Die spreekwoord se nie verniet die makste honde byt die seerste nie.

Amanda Booysen ·

Skandelik Piet Byleveld. Stille waters Diepe grond..onder draai die duiwel rond. Dit is n uiterse skande om mense so finansieel in te doen wat net antwoorde soek. Asof hul nie genoeg seer dra oor die verlies van n geliefde nie. Hoop hy word vervolg.

Rina ·

Skokkend en tragies – almal kon hom nie misverstaan het of hy vir hulle – gewoonlik mos maklikste manier om jou uit situasie te praat – ek twyfel of dit hierdie keer gewig gaan dra!

Barrie ·

Ek hoop PSIRA doen hulle werk en neem behoorlike aksie.Dit gee ons wat eerlik en hardwerkende Privaat Ondersoekers is n slegte naam.

ria ·

Het vir John Mbongo baie gehelp met oproepe hy is van Heilbron . Dus net soos hy vir die media gesê het. Geen reaksie

Marina ·

Ja Ria, dit is net so jammer dat die geld wat hy gespaar het nou in die water is.

Johann ·

Ek stem, wat ‘n klap in die gesig, die TV en akteurs het beter verdien. Ons het helde in die land nodig, ons veg in alle geval teen ‘n oormag kroeks soos dit is, nou dit!

Geregtigheid ·

Die enigste manier waarop die saak deur PSIRA ondersoek sal word is indien die klaers in die aangeleentheid ‘n formele klag indien. Indien nie gaan dit net ‘n storie in die koerant wees.

Jan ·

Ou bul jou ware kleure uiteindelik uit gekom. Al die ou boekies en TV programmetjies. Ons het ons gatte afgewerk dae en nagte. Jou verslag wat jy geskryf het vir jou rang springery het jy opgemaak. Die senior offisiere wat jou so vry bevorder het het jou ook opgehewe wetend dat Ander die Werk gedoen het.Ander storie nou my ou bul jy het so een of twee verduidelikkings om te gee.

Koeks ·

Oom Jan ek stem saam met Oom! My arme pa het hordes tonele gedoen en sodra die media daar opdaag spring Piet Skoonveld eweskielik in en dra sommer die lykpan, maar sodra die flitse verdwyn, gooi hy sommer die pan neer! Skandelik! Skaam jou Piet! Jam steler! Verwyder dadelik Die Byl van die kassie af! Dit is ‘n klap in die regte polisiemanne se gesigte! Swak! Vieslik! Skandelik! Laag!

Ouma mix ·

En Piet lewe soos n koning lekker dis hkm ek NIEMAND MAAR NIEMAND VERTROU NIE

wonder ·

Miskien het hy die geld nodig gehad vir sy siek vrou? En was dit n laaste uitweg?

Louise E. ·

Hy hoef nie steel nie. Hy kan sy Huis, voertuie en wat ookal verkoop. Soos miljoene ander al moes doen. Dis geen versioning…

Gerhard Byleveld ·

Ek is skaam om dieselfde van as jy te dra Piet! (Maar my van dra ek met trots en integriteit!)
Indien hierdie vertellinge waar is, is dit uiters teleurstellend en ek stem saam dat jy seker op onderdane se rug gery het en die glamour vir hul harde werk gekry het! Om uit andere se ellende onregmatig munt te slaan is sekerlik die laagste wat mens kan daal. Verander dan jou van asseblief indien die stories waar is!!

Weet ·

Julle gaan niks uit hom kry nie. Alles is in sy vrou se naam. Die besigheid, huis en karre. Glo my ek weet!

Liz de Bruin ·

My seun het onder Piet Beyleveld gewerk vir Jare. My seun is wel bekende Kaptein met sy kollegas en het nagte in en dag uit sake opgevolg en gevang maar wie het krediet gekry Die einste Piet Beyleveld. Bevordering is beloween my seun het vorms ingevul hulle was geprys vir die wonderlike werk maar toe die dag toe Piet Beyleveld sy kantoor skoonmaak wat is in sy laai gevind al die vorms vir bevordering wat hy moes inhandig dat die Kapteine moes bevorder word. Piet Beyleveld het nie een moordsaak gevang ni hy was ook nie die baas speurder nie sy werkers nl kapteine het die werk gedoen en niks erkenning gekry. Na miljoen rande se sake van drug huise wat hy gevang het is my seun vandag nog kaptein en nog so jolaal teenoor die polisie! sonder bevordering

dankbaar ·

Aai , altyd gedink n skelm kan n skelm vang maar lyk my ek het n fout gemaak.

Max ·

Hoekom het Jackie Selebe persoonlik hom tot brigadier bevorder ?

jaco ·

Ons bly in die land met die hoogste misdaadsyfer in die wêreld. Dis amper alles tipiese moor en steel sake. Daars duisende moordenaars wat dit doen en dan in die townships verdwyn. Selfs ‘n privaatspeurder wat 10 maal meer geld as Piet Byleveld vra, gaan hulle nie gevang kry nie.

Positive ·

Is hier iemand wat my kan help met die moord op my seun, eerlike speurders, Piet Byleveld het niks gedoen nie, heeltemaal niks net ons geld gevat en misbruik gemaak van ons. Ek het hom vertrou, hoe kan hy hartseer mense so misbruik. Die wiel sal draai mr byleveld, sy secretaresse is die dogter van sy vrou, ook sy is deel van hierdie bedrieg praktyke. Gaan byleveld hierdie naweek guest speaker speel in Sandton ?
Moet ons nie alman saamstaan nie en vir piet byleveld n regsaak maak. Dit is so hartseer. Shame piet byleveld.

Karma ·

Hoekom bring al die klaers in PvB se sake nie klasaksie teen hom in nie? As hy onskuldig is, sal dit mos so bewys word, as hy skuldig is ook!

SNEL ·

Swak dat hy skaamteloos mense wat reeds deur hel gaan en verpletter is se hardverdiende geld vat en weet hy gaan nie eers aan die saak werk nie. Dis laer as die laagste wat mens kan gaan om op iemand te trap wat reeds lê. Swak van hom ook as mens hoor hoe hy krediet gevat het vir werk wat hy nie eers gedoen het nie. As ek die man reg opsom, pla dit hom ook nie eers nie. Hy is nou n regte jakkals in skaapsklere. Kry almal baie jammer wat so ingedoen is, mens het nie geld om rond te gooi nie, en verwerk nog die seer van n geliefde en nou is julle nog beroof. Baie sterkte.

Stuiwertjie ·

Miskien moet ons vir Adv Thuli Madonsela kry om Piet Byleveld te ondersoek…

Joe ·

Ai ai ai , wat is fout met ons Suid Afrikaners???? Ek hoop hulle sluit jou toe en gooi die sleutels weg as jy skuldig is!!!!!!!!!!

hugo ·

ek was baie beindruk deur die “baasspeuder” se “ondersoekvermoens”, homself bewonder en geld spandeer om sy lewensverhaal gelees. Dis toe dat ek verneem van al die roem/glamour wat hy al die jare gesteel het. Was baie teleurgesteld, sies vir jou Piet !!!

Maria van Dieweeck ·

Piet, hoe gaan jy die ding verduidelik aan die Een wat alles sien en weet? Het jy nie n hart nie?

foxi ·

Goed….goed….ek sal dit beter stel. Piet blye skooneveld, jy het bedrog gepleeg en mense wat hul geliefdes verloor het, onder die wanindruk gebring dat jy hul sake sal oplos. Jy het hul swaar verdiende geld gevat, sonder om in ag te neem, hoe desperaat hierdie mense was wat hul geliefdes wou vind. Hierdie mense loop jou met n geweldige leemte in hul hart. Dit maak seer, baie seer. Jy het die eer gevat wat jou nie toegekom het nie. Hoe leef jy met daardie gewete? Jy bly in n gerieflike huis en het n duursame motor. Jy kan mediese sorg bekostig. Nou
laat jy almal wonder……waar kry jy die fondse en hoe kan jy al die weelde bekostig? Nee mnr Piet, n gewete is n vreeslike ding, dit jaag en Spook by jou. Moet nooit aan ander doen, wat jy NIE aan jouself gedoen wil hê nie. Miskien het jy n verhaal om te vertel, maar hoekom wegkruip mnr Piet skoonveld?

Ahooy ·

SAPS IS pateties!! Bedrogklagte – Ondersoekbeampte het NA N JAAR nog slegs twee van vier verklarings afgeneem. Na verskeie klagtes tot by die Nasionale Kommisaris is die saak nou so half ondersoek na die Staatsaanklaer verwys vir beslissing. Ek hoef nie te raai wat DIT sal wees nie! Weereens. PATETIES!!! En daai beamptes word elke maand BETAAL. – DIT is DIEFSTAL!!

Ook n speurder ·

Wil net graag sê: die Polisie IS NIE pateties nie. Daar is BAIE lede wie trots is op hul loopbaan en dit as n roeping beskou. Sommige lede kon nie n ander “job” kry nie. Moet asb nie almal oor dieselfde kam skeer nie. Ek is trots om te kan sê ek was 33 jaar en 3 maande deel van hierdie groot familir. ???????

Annie ·

Ek het lankal ongemaklik oor die mens gevoel…..veral nadat hy so geesdriftig vuil wasgoed oor sy vorige vrou in sy boek gewas het. Swak smaak.

Alida ·

Wat ‘n skande !!!! Mens het hom altyd gesien as ‘n eerlike en gerespekteerde lid van die SAPD. Nou wonder mens hoekom is ons skepties oor die SAPD se geloofwaardigheid. Die man het geen maar geen integriteit nie. ‘n Skande op die SAPD se naam. Hy beter teruggaan na die SAPD toe en die mense wat al die jare sy werk vir hom gedoen het se eer wat hulle toekom aan die owerhede uitwys sodat hulle beloon en bevorder kan word. Hy behoort sy uittredingspakket terug te betaal want hy het dit nie verdien nie. Spyt ek het ooit sy boek gelees want dit was ook seker alles leuens.

Anoniem ·

Ek se nie dit wat Piet Byleveld nou doen is reg nie……..Vir my net baie snaaks, dat al wat n ouer van n persoon wat saam met Piet Byleveld gewerk het nou eers uitkom en se hy het nie die werk gedoen nie, maar eerder hul kind of hulself. Hoekom nie iets gese toe hul aan n saak gewerk het nie?

Jan ·

Dit is nie snaaks nie, daar is van die begin af gekla oor dit. En almal het nie saam hom gewerk nie, hy het ingestap en Dan net sake oorgeneem . Polisie lede het gekla by die bestuur maar niks was gedoen.

Jani ·

Ek stem saam. Waarom kom dit nou skielik uit. Geen mens wat duisende rande vir iets betaal en niks terug kry bly stil daaroor nie. Ek ruik n rot…

Jani ·

My mond hang oop. Waar kom hierdie goed skielik vandaan?? En wie in sy right mind betaal duisende rande en bly stil as hy niks vir dit kry nie en nou kom almal skielik uit. Ek sien ook driekwart van die kommentaar is oordeel. Het hy sy saak al gestel?
As die bewerings waar is sal dit my hart breek. Sy vrou is pragtig en ekt hulle laasjaar Julie ontmoet. As hy mense inloop met geld dan verdien hy wat na sy kant kom, dit sal soos n ton bakstene op sy kop val. Dit sal ongelooflik jammer wees as hy skuldig gevind word aan iets. Dis n hoë boom wat gaan seer val. Ek voel vere vir die suur poliesmanne wat nou na al die jare claim hy kry eer vir hulle werk. Jyt n bek gekry om mee te praat. Jy moes hom roer pa!. Nou klink dit soos suur druiwe. Ai Piet, my respek vir jou hang aan floiings..ek hoop dis maar net n klomp sensasie soekery soos met Oscar

Karen van Zyl ·

Dankie tog jy is niks meer deel van my of my familie nie.

RK ·

Wat ‘n jammerte. Soveel talent wat verkeerd aangewend is. Is niemand meer betroubaar nie?

Meraai ·

Lyk my jy moet soos ‘n skelm kan dink en werk om een te vang! Dis jammer dat hy net nog ‘n held met voete van klei is….

Positive ·

Is daar iemand wat ons verder kan help, hulle het piet byleveld vir ons aanbeveel…..1 jaar terug…. hy het niks gedoen nie….net dit geld gevat….ons wil die moord op ons seun oplos, piet byleveld was die oplossing …..ai tog, hoe kan hy homself so verneder…. iemand wat goei betroubaar investigator ken ? Ek sal dit wardeer ,

Joe ·

Probeer een in die Kaap, hy was betrokke by die Tolla Wiehahn moord, ook een van die ouens wie ook verbonde was aan die Brixtonse Moord-en-Roof. Google die saak

E.K. ·

Bedrog=tronstraf. Staat vs Byleveld – laat dit gebeur mense asb! Hierdie tipe onreg moet uitgeroei word. SKAAM jou Byleveld.

Nicolaas ·

Dis ‘n feit dat Byleveld ‘n span speurders gehad het wat al die ondersoekwerk gedoen het. Omdat hy ‘n superintendent (lt kol) was, was hy die senior maar van ondersoek weet hy bitter min. Ek was nie self in sy span nie maar was 27 jaar ‘n speurder en het gereeld kontak met van hulle gehad, hulle het op ‘n stadium in Jacob Maré Straat in Pta kantore gehad. Dit was algemeen bekend dat Byleveld se span, en nie hy nie, die werk gedoen het, maar die media het hom opgehemel. Soos almal weet het die korrupte Jacki Selebi hom bevorder van ‘n supt tot ‘n direkteur (Brig), want hy (Byleveld) het Selebi ge-bulls… Ek weet va baie polisiemanne wat dit eerder verdien het om ‘n rang te spring as hy maar hulle het nie so gekruip by Selebi nie. Ek is eintlik bly dat sy ware kleure nou uitkom en die publiek begin besef watse nar hy is. Gee hom eerder ‘n winkeldiefstal of besit v dagga om te ondersoek…

Connie ·

Eish oneerlikheid kom altyd uit. Waar gaan die skelmgeit stop? Hy was dan so betroubaar?

Sandra ·

Jare terug het ouens wat onder Piet gewerk het gesê hulle doen die werk en hy pluk die vrugte.
Jammer ouens ek was onder die indruk julle is net jaloers, maar julle het toe al die tyd die waarheid gepraat. so kom alles wat in die donker is tog na die lig.

RvZ ·

Moenie vir Mike Bolhuis weggooi nie. Lyk my hy en Beyleveld kan lekker saambraai. Voëls van eenderse vere. Ek weet van ‘n saak waar Mike meer as R100k geneem het sonder om ‘n steek werk te doen. Ek voel vir privaatspeurders. Hierdie twee knape gee die industrie ‘n swak naam. Skandalig!!!!

pikkie ·

Ek moet beeam. Mike Bolhuis mag dalk n bespotting op almal se lippe wees, maar toe ek hom kontak omdat ons verneem het my man se broer probeer mense werf om hom leed aan te doen, was Mike geweldig behulpsaam en sonder vergoeding. Hy mag dalk jonk wees maar hy het n hart van goud

Johanna ·

Sies Piet, skaam jou!! A nee a man. so baie mense het opgekyk na jou! Maak reg met hierdie mense asseblief.

Johannes Meintjes ·

Dit is na mening noemenswaardig dat Maroela Media hierdie saak rondom bewerings van swak of geen diens so doelgerig opvolg. Dit is in my beskeie entrepreneurs ondervinding moontlik heeltemal waar dat Afrikaners geneig is om slordige en swak besigheid of diens aan mekaar te lewer, selfs in die kerk en welsyns projekte. Ons kulturele integriteit het myns insiens ‘n dringende en ernstige behoefte aan introspeksie en ‘n instansie wat klagtes oor slegte besigheidspraktyd objektief ondersoek.

Albert ·

Kry vir jou Piet. Ek weet van baie offisiere wat rang gekry her agv gatkruip end eerste span rugby.

tw ·

wil net graag n regstelling doen, “Die Byl ” was n uitmintende tv reeks en NIE op Byleveld gebasseer nie. Sal bitter graag n tweede reeks wou sien.

Wendy ·

Ek dink dis bitter gemeen van ou Piet om sy kollegas se bevorderings vorms in sy laai weg te steek. Hy kry n hewige bevordering, wat natuurlik sy pensioen n geweldige hupstoot gee. Hy tree af eis al die erkenning en waar is sy kollegas,swak sakaris,swak pensioen. Ai nou my vraag hoe GEMEEN kan een mens wees. So n DUIWEL!!!

Albert ·

Wendy in die ou bedeling was dit nie wie jy is of hoe goed jou werk is. Dit was hoeveel tyd jy saam met hul drink in die kantien en hul op hemel maw gatkruip. Ek het nooit en sal nooit gatkruip vir erkenning. So is daar baie goeie ou manne wat nooit bevorder is. Haal my hoed af vir hul wat nog in die mag is

Andre ·

Die ou mense het gese as jy niks goeds het om oor iemand te se het nie, moet jy liewers stilbly….

proppie ·

Ek verwonder my aan hierdie openbare hofsitting….
1. Toe dit gegons het van hoe goed hy is…. toe is daar hope kolegas wat sy beeld poets… ek kan onmoontlik se dat niemand iewers negatief gereageer het nie…. maar nerens het ek gelees van negatiewe dinge nie….
2. Ek is n besonders goeie speurder myself…. maar sal nooit hierdie werk kan doen nie,want die koste daarvan is ver buite die bereik van publiek…. die bedraggies wat hier genoem is… dek nie n ondersoek baie ver nie…. Dit is ook n saak van onmoontlikheid om iemand te se ek sal vir jou die skuldige kan kry teen x bedrag…… veral as jy maande na die tyd betrokke raak…. met geen toegang na florensies of enige ander spesialis spanne tot jou beskiking nie. Ek wil op hierdie aspek mense aanraai dat as jy n private speurder wil aanstel…. doen dit dadelik…. dan het die man n kans….
3. Wat my opval is dat niemand iets goeds van die man se nie…. Ek ken hom nie….. polisiemanne oor die algemeen het by my min punte…. veral hoe ek gesien het hoe hulle met die Boeremagsaak en die Renosterstropery eintlik agter die gemors sit…
Piet, spoor my op dan help ek jou om van die goed af te handel….

sarie van heerden ·

Na ‘n tv opname ‘n paar jaar gelede het ek Byleveld baie jammer gekry omdat hy hierdie onaanvaarbare dowe (?) vrou gehad het en so bitter eensaam in sy huwelik met die vrou met haar gebrek gehad het. Wonder hoekom sy nooit gereageer het om sy onderhoud met die media nie.

john ·

Wel ek weet nie wat gaan aan nie.
Ek was saam met Piet op skool en ek onthou hom as nederig, beskeie, hoflik, goedgemanierd en hy was altyd netjies aangetrek. Hy was basies n ‘nice guy’.

Mossie ·

Sies Piet! jou vrou was voorheen met so ‘skelm’ getroud en nou weer!! Mammon …..

Jan ·

Piet het baie te sê gehad oor Oscar Pistorius op Jacaranda FM. Lyk my hy gaan een van die dae plekke ruil met Oscar!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.