Plaaswerkers met wapens betrap

Een van die vuurwapens wat teruggevind is. Foto: Verskaf

Vier voormalige plaaswerkers is in hegtenis geneem nadat ʼn aantal vuurwapens wat vroeër die maand op ʼn Limpopo-plaas gesteel is, in hul besit gevind is.

Brig. Motlafela Mojapelo, polisiewoordvoerder, het Donderdag gesê die sukses is te danke aan die vasberadenheid en volgehoue pogings deur lede van die Lephalale (Ellisras)-speurtak en Bela-Bela-opsporingseenheid.

“Die spanne het ʼn groot deurbraak gemaak wat Woensdag tot die verdagtes se inhegtenisnemings gelei het binne twee weke nadat daar by ʼn huis op ʼn plaas in die Tomburke-omgewing ingebreek is. Vier vuurwapens is tydens die huisbraak gesteel en is tydens die inhegtenisnemings teruggevind,” het Mojapelo gesê.

Maroela Media het vroeër berig die huisbraak het die naweek van 8 en 9 Julie plaasgevind. “Daar is aanvanklik vermoed drie verdagtes het op die plaas toegeslaan, maar daar is later vasgestel vier verdagtes was glo betrokke. Die eienaar van die plaas was tydens die voorval nie by die huis nie.”

Mojapelo het gesê die verdagtes het by die huis ingebreek en vermoedelik ʼn hoekslyper gebruik om die kluis oop te sny waarna hulle weg is met waardevolle besittings, ʼn bedrag Amerikaanse dollar, die vuurwapens en ʼn Isuzu-bakkie. Hulle het vier jaggewere wat ook in die kluis was op een van die beddens in die huis gelos.

“ʼn Taakspan is vinnig saamgestel nadat die inbraak aangemeld is en hulle het dadelik begin om leidrade op te volg. Die bakkie en vier plasmatelevisies is vinnig teruggevind.”

Die verdagtes, tussen 20 en 50 jaar oud, is deur die taakspan in die Phagameng-nedersetting in Modimolle (Nylstroom) in hegtenis geneem. Volgens Mojapelo is al vier verdagtes voormalige werkers op die plaas waar die inbraak plaasgevind het.

Die verdagtes moet binnekort in die Tomburke-landdroshof verskyn.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

16 Kommentare

Johan. H. ·

Dankie Saps , sien wat gebeur as julle dadelik n taakspannetjie by mekaar kry,,, Bells vir almal..

Cherokee ·

Julle ouens deel net digitale Bells uit. Dit is niks werd nie.

Anoniem ·

DERDUISENDE DANKIES aan almal wat saamgewerk het om hierdie mense vas te trek. Julle het beslis daardeur lewens gered, want ek is oortuig daarvan dat hierdie wapens gebruik sou word vir verdere plaasaanvalle.

Ek is baie trots op julle goeie werk.

Andre ·

Weereens ” voormalige” werknemers ……hulle is betrokke by die meeste voorvalle.

REGVERDIG ·

Fantasties, uitstekende werk SAPS. Julle sal verstaan hoe ons hierdie harde werk van julle waardeer.

Scalla ·

Hoop jul kry erkenning vir jul uitstekende werk, wys net dit kan gedoen word, baie dankie.

cor ·

Dankie SAPS vir julle goeie werk en dat julle ge”commit” is in die uitvoering van julle pligte. Ek sien voormallige werknemers, wys net sommige is net daar op uit om die hand te byt wat hulle voed. Let wel ek se sommige en nie almal nie , daar is ook goeie en betroubare werkers op plase.

Pieter Ellis ·

Die eerste 8 kommentare lewer 7 positiewe uitsprake vir SAPS, met net een bitterbek wat net die negatiewe sien. Ja ek stem saam, voormalige of huidige werkers is nie te vertrou nie, maar genugtig mens, SAPS het goeie werk gedoen. Se minstens so.

Ek se ook wel gedaan.

Ruiklont ·

Ek is seker jou “bitterbek” is ook dankbaar vir die inhegtenisneming!!!!!!!

Cherokee ·

Maar jy waag dit nie om van die bitterbek te verskil nie want jy weet hy praat bes moontlik die waarheid.

LMF ·

Amen Amen en weer Amen dit is hoe dit gedoen word well done saps

Tiger ·

Ja dis knap gedaan deur die SAPS in die’ geval.Maar ongelukkig gaan die hof hulle harde werk afwater.Ek wil sien of enige van daai 4 beskuldigdes 2 jaar agter tralies gaan wees.Waarskynlik vry na 10 maande vir goeie gedrag en dan beroof hulle net weer iemand anders.

Danie ·

Ek bedank die HPG vir die wonderlike werk wat hulle gedoen het tot arrestasie. Sonder hulle was die manne nie vas getrek nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.