Polisie maak gru-vonds onder bed

Argieffoto

Argieffoto

ʼn Vrystaatse man sal Vrydag in die Wesselsbron-landdroshof verskyn nadat polisiebeamptes sy 29-jarige vriendin se lyk onder sy bed gevind het.

Kapt. Stephen Thakeng, woordvoerder van die polisie, het gesê Masepetlele Williams het Dinsdagmiddag sy suster, Maditaba Setsetse, as vermis by die polisie aangemeld. Volgens Thakeng het Setsetse se familie vermoed haar kêrel sal weet waar sy haar bevind.

“Die kêrel is deur polisiebeamptes by sy huis gaan haal en na die polisiestasie geneem vir ondervraging. Twee konstabels het daarna teruggery na sy plakkershuis in die Ithoballe informele nedersetting in Monyakeng om die huisie te deursoek,” het hy gesê.

Volgens Thakeng het die polisiebeamptes ʼn slegte reuk in die huis waargeneem en besluit om die bed te skuif. “Hulle het die mat onder die bed ook verwyder en daar ʼn vlak graf gesien. By nadere ondersoek is die liggaam van ʼn vrou, wat later deur familielede as Setsetse uitgeken is, in die graf gevind.”

Die man is in hegtenis geneem op ʼn aanklag van moord. Die motief vir die moord is nog nie bekend nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Hannelie ·

Deesdae is dit ‘n “hobby” om iemand te vermoor, want dit gebeur elke liewe dag. Hoop hy sit tot hy roes in die tronk.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.