‘Polisie moet ingryp oor korrupsie by Prasa’

Prasa (Foto verskaf deur Untu)

Die Federation of Unions of South Africa (Fedusa) het Woensdag die waarnemende nasionale polisiekommissaris versoek om dringend in te gryp en die Valke te beveel om klaarheid te gee oor die vordering van die ondersoek oor beweerde korrupsie by die Passasierspooragentskap van Suid-Afrika (Prasa).

Dit volg nadat brig. Hangwani Mulaudzi, woordvoerder van die direktoraat vir prioriteitsmisdaadondersoeke (die Valke), na bewering skriftelik aan Fedusa se filiaal in die passasierspoorbedryf, die United National Transport Union (Untu), bevestig het dat die ondersoek oor bewerings wat met Prasa verband hou voortduur, maar dat die Valke nie verplig is om die besonderhede te gee nie.

Thuli Madonsela, voormalige openbare beskermer, het in 2015 bevind dat Prasa versuim het om te voldoen aan sy eie verskaffingsbeleid. Sy het bevind daar was wanadministrasie en onbehoorlike gedrag toe kontrakte ter waarde van R2,6 miljard toegeken is.

Die Pretoriase hooggeregshof het verlede maand Prasa se omstrede kontrak uit 2013 vir nuwe lokomotiewe met die onbekende maatskappy, Swifambo Rail Leasing, hersien en dit tersyde gestel. Die kontrak is in omstredenheid gehul nadat die Afro 4000 lokomotiese ongeskik verklaar is vir plaaslike treinspore.

Steve Harris, algemene sekretaris vir Untu, het gesê twee jaar het al verloop sedert Madonsela haar verslag, genaamd “Derailed”, vrygestel het waarin sy bewyse bevind het van wanadministrasie, onbehoorlike gedrag en nepotisme.

“Tot dusver het niemand nog in die hof verskyn nie,” het Harris in ʼn verklaring gesê. “Untu het op 6 Junie 2017 ʼn brief aan [waarnemende nasionale polisiekommissaris] lt.genl. Lesetja Mothiba gestuur en hom versoek om terugvoer te gee oor die Valke se ondersoek oor bewerings van bedrog en korrupsie by Prasa nadat die vorige Prasa-raad beweer het die Valke het geweier om die bewerings te ondersoek. Ondanks herhaaldelike herinneringe, het lt.genl. Mothiba nie reageer op Untu se brief nie.”

Popo Molefe, uittredende Prasa-voorsitter, het voormalige en huidige vervoerministers daarvan beskuldig dat hulle die raad se vermoë ondermyn om behoorlik ondersoek in te stel ná die “Derailed”-verslag.

Die Organisasie teen Belastingmisbruik (Outa) het ook Dinsdag ʼn aansoek by die Pretoriase hooggeregshof ingedien om in te gryp in ʼn saak wat ten doel het om diegene te vervolg wat R5,4 miljard bekom het deur spoorwegkontrakte by Prasa.

Fenton Gastin, Prasa se voormalige finansiële beampte, is reeds beveel om die meer as R8,2 miljoen terug te betaal wat hy ontvang het deur ongeldige kontrakte wat deur die agentskap se voormalige uitvoerende hoof, Lucky Montana, onderteken is.

“Dit was die raad van Prasa wat die hof genader het om die Swifambo-kontrak tersyde te stel,” het Harris gesê.

“Untu sal weereens die SAPD en die nasionale vervolgingsgesag versoek om nie die publiek se vertroue te ondermyn in die regstelsel in Suid-Afrika nie, deur bloot die oortreders in hegtenis te neem en te vervolg sonder dat die hof hulle beveel om dit te doen.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

jannas ·

Nou dat die plek klaar bankrot gesteel is nou wil moet daar ondersoek in gestel word. Die skelms is laaaaankal in Dubai maraai.

Alida ·

Die SAPD kan nie eers ‘n taxibestuurder wat ‘n Uber bestuurder aanrand vang nie hoe gaan hulle nou hierdie saak hanteer. Ook net staan en kyk? Moenie belaglik wees nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.