Polisie ontken Kaapstad-busse is aan die brand gesteek

Polisiebeamptes in Delft, Kaapstad Foto: @SAPoliceService, Twitter

Polisiebeamptes in Delft, Kaapstad Foto: @SAPoliceService, Twitter

Die polisie in die Wes-Kaap het in ʼn verklaring gesê gerugte op sosiale media dat busse en voertuie aan die brand gesteek is of dat skote gevuur is, is onwaar.

“Alhoewel die polisie ʼn sterk teenwoordigheid in Delft en Nyanga handhaaf, was daar geen voorvalle aangemeld dat voertuie of busse aan die brand gesteek is nie,” het kapt. FC van Wyk, woordvoerder van die polisie, gesê. “Slegs een voorval waar klippe gegooi is, is vanoggend aangemeld en die omstandighede word ondersoek.”

Van Wyk het gesê as deel van hul operasie in Delft is 14 taxi-operateurs ondervra nadat hulle met drie vuurwapens betrap is. Hulle is daarna vrygelaat.

“Ons versoek die publiek om nie misleidende kommentaar op sosialemediaplatforms te publiseer wat onnodige paniek kan saai nie. Ons neem met kommer kennis van die foto’s van busse wat aan die brand gesteek is wat op sosiale media gedeel word wat nie verbind word met die huidige situasie nie. Dit het ʼn geruime tyd gelede gebeur.”

Donald Grant, LUR van die departement van vervoer en openbare werke, het intussen gesê sy departement werk nou saam met die polisie, verkeersowerhede en die Stad Kaapstad om die huidige situasie in Delft aan te spreek.

“Ek sal ook ʼn kennisgewing in die staatskoerant publiseer oor my voorneme om die Delft-gebied as ʼn hoërisikogebied te verklaar vir openbare vervoer. Indien die gebied as ʼn hoërisikogebied verklaar word, sal die provinsiale regulerende entiteit bemagtig word om bedryfslisensies op te skort en bedrywighede deur minibustaxi’s op sekere roetes op te skort,” het hy verduidelik.

“Om dié drastiese maatreëls te voorkom, het my departement intussen ʼn groep ervare, onafhanklike bemiddellaars aangestel om alle partye wat by die konflik in Delft betrokke is, na die tafel te bring, om saam te werk aan ʼn vreedsame oplossing.”

Grant het gesê sy departement bedank die polisie vir die verdere ontplooiing van beamptes in die gebied en vinnige inhegtenisnemings wat ná misdade volg.

Nagenoeg 50 taxi’s is reeds gekonfiskeer in Delft en by Kaapstad-stasie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

huggy bear ·

As Namawhan met misleidende aansprake kan kom oor sogenaamde wit-op- swart massamoorde, dan is dit seker ook maar goed dat ander ook misleidende aansprake kan maak

Cheers ·

Ons glo in elk geval niemand meer nie, nie die statistieke nie, nie die polisie nie, nie die Ministers nie, nie die President nie, so sê maar wat julle wil, daar sal wel weer ‘n videotjie of twee erens feature oor die busse wat aan die brand gesteek is, hou maar aan in DENIAL leef, who cares anyway.?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.