Polisie van nalatigheid beskuldig tydens Panayiotou-verhoor

Christopher Panayiotou (heel regs met sy rug na die kamera) en sy twee medebeskuldigdes, Sinethemba Nenembe en Zolani Sibeko in die beskuldigdebank in die hooggeregshof in Port Elizabeth (17 Oktober 2016) Foto: ANA

Christopher Panayiotou (heel regs met sy rug na die kamera) en sy twee medebeskuldigdes, Sinethemba Nenembe en Zolani Sibeko in die beskuldigdebank in die hooggeregshof in Port Elizabeth (17 Oktober 2016) Foto: ANA

Die polisie se metodes was Dinsdag onder die vergrootglas in die hooggeregshof in Port-Elizabeth tydens die moordverhoor van Christopher Panayiotou en sy twee medebeskuldigdes, Sinethemba Nenembe en Zolani Sibeko.

Panayiotou word daarvan beskuldig dat hy die meesterbrein agter sy vrou, Jayde Panayiotou, se ontvoering en moord was. Die staat voer aan hy het Luthando Siyoni, ʼn uitsmyter by sy Infinity-nagklub, betaal om Sizwezakhe Vumazonke as sluipmoordenaar te huur. Vumazonke is glo deur Nenembe bygestaan om die ontvoering en moord uit te voer.

Siyoni het intussen staatsgetuie geword en Vumazonke is vroeër vanjaar in aanhouding dood.

Vumazonke is in Mei 2015 by Kwanobuhle in hegtenis geneem waarna hy na die Kabega Park-polisiestasie geneem is en vir ten minste drie uur lank ondervra is. Daarna is hy eers na die Despatch-polisiestasie geneem.

Tydens kruisondervraging het ao. Johannes Botes, wat by die polisie se voertuigtak werksaam is, beweer toe Vumazonke in hegtenis geneem is, het hy gehoor hoe kapt. Willie Mayi sy regte vir hom in isiXhosa voorgelees het. Botes het toegegee dat hy nie vaardig is in dié taal nie.

Adv. Terry Price vir die verdediging het egter gesê dat Mayi, wat Vumazonke in hegtenis geneem het, in ʼn verklaring beweer het dat hy sy regte vir hom in Engels voorgelees het. “Omdat ek nie taalvaardig in isiXhosa is nie, kan ek nie met sekerheid sê wat deur Mayi aan Vumazonke gesê is nie,” het Botes gesê.

Die staat voer aan dat Jayde twee keer in haar rug en een keer in die kop geskiet is, nadat sy in April verlede jaar buite die Stellen Glen-kompleks in Port Elizabeth ontvoer is.

Adv. Peter Daubermann, Nenembe en Sibeko se regsverteenwoordiger, het verwys na ʼn inskrywing in ʼn polisieverslagboek wat gemaak is in die tyd toe Siyoni in April aangekla is. Polisierekords wat in die hof getoon is, dui aan dat Botes Siyoni aangekla het en ʼn dokument onderteken het wat aangedui het dat Siyoni geen beserings gehad het nie.

Botes het egter Dinsdag in die hof toegegee dat hy ʼn fout gemaak het. “As iemand hierdie inskrywing lees, sal hy dink dat [Siyoni] geen beserings gehad het nie, maar toe hy by die Kabega Park-polisiestasie ingeboek is, het hy ʼn besering gehad. Wat ek in die inskrywing bedoel het, is dat Siyoni geen nuwe beserings gehad het nie,” het Botes gesê. Hy het gesê toe Siyoni sy verklaring afgelê het, het hy opgemerk dat sy regteroog geswel was.

“Ek het net die eerste deel van die verslag gelees en vluglees toegepas op die res van die verslag. Ek het ʼn fout gemaak deur dit te onderteken. My rol was om die verdagte in te boek.”

Die verdediging het aangevoer dat Botes nalatig was, maar hy het dit ontken en gesê dat hy lang ure moes werk.

Die verhoor duur voort.

Lees alle vorige berigte oor Christopher Panayiotou op Maroela Media.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Alida ·

Ek hoop hierdie man sit baie baie lank vir sy wrede en barbaarse opdragte wat hy uitgedeel het omdat hy te sleg was om sy eie vuilwerk te doen. Hy is afskuwelik.

Columbiana ·

O genade hoekom begin dit al hoe meer klink of hierdie saak gaan draai om polisie se swak werk?

Zulu ·

Sover ek dit het, is daar ‘n moord gepleeg, hoekom nou die polisie in die spotlight sit oor wat aangeteken is of nie, dit lyk so of die skuldiges nou beskerm word??

Netso ·

Netso, dan word daar oor tronk lewe gekla, maar hy is rondom vet!

jaco ·

ALLES in hierdie land word verander na Engels, ten koste van die oorlewing van inheemse tale.

Rina Vermeulen ·

Jys eers onskuldig en dan skuldig as dit so bewys kan word. My agterdog in die saak is oor veskeie redes swak polisie ondersoek,korrupsie,verlaagde standaarde in ons reg regsverydeling,verlaagde vertroue in ons regstelsel Dink maar net aan die Dewani saak en ander. Is hierdie man werklik skuldig indien wel verdien hy wat na sy kant toe kom en as hy dalk onskuldig is? Hoop net dat dit ñ regverdige verhoor sal wees.

Yster74 ·

Vir advokate om op ditse en datse prosedure te fokus en te hamer vat nie die feit weg dat Jayde koelbloedig doodgeskiet is nie. Maar die Here slaap nie en julle sal aan die pen ry vir Wat julle gedoen het. Julle sal sit in St Albans.

wilma ·

Hoop hul almal volg Vumazonke na die hel. God is in beheer.

Yster74 ·

Stem saam jou. Hy is klaar bokveld toe. Hulle sal hul moses teekom. Die Here slaap nie.

Alida ·

Die walglike man het die barbaarse opdrag gegee dan is hy mos skuldig. Wat is daar om oor te stry.

Nita ·

Dewani kom weg, Henning kom weg. Nou lyk dit my Mnr P gaan ook wegkom met die moord op sy vrou. Onskuldig tot jy skuldig bewys is?? Met slim advokate kom jy weg met moord.

jaco ·

Swak polisiewerk is so min of meer die gevolg van regstellende aksie. ALLES in hierdie land gaan nog tot n val kom NET omdat mense werk kry suiwer oor hulle regte velkleur en geen opleiding of ondervinding in ag geneem word nie.

C ·

Ek is dalk nou verkeerd maar is dit nie dieselfde Botha wat reg in die begin betrokke wat met Oscar se storie en forensiese ondersoeke nie wat toe nou ook op geskrew het met die ondersoeke?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.