Polisieman vas oor gewapende roof

Foto: SAPD, Facebook

Foto: SAPD, Facebook

ʼn Polisiekonstabel is in hegtenis geneem kort nadat hy en vyf medepligtiges na bewering ʼn transitovoertuig Dinsdagaand in Kraaifontein naby Kaapstad beroof het.

Maj. Robert Netshiunda, woordvoerder van die Valke, het gesê twee verdagtes in polisie-uniforms het die voertuig omstreeks 20:00 op die Wabrugpad afgetrek. Die verdagtes het vuurwapens op die veiligheidswagte in die voertuig gerig en hulle van ʼn onbekende bedrag kontant beroof.

ʼn Voorlopige ondersoek het die Valke na Khayelitsha tot by die huis van ʼn 33-jarige konstabel, wat by die Nyanga-polisiestasie gestasioneer is, gelei. Een van die sakke kontant wat uit die transitovoertuig gesteel is, is in sy besit gevind.

Die ander vyf verdagtes is steeds op vrye voet. Dit is nie in dié stadium duidelik of hulle ook aan die polisiemag verbonde is nie.

Die konstabel sal Vrydag in die Kuilsrivier-landdroshof verskyn op aanklag van gewapende roof.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Jannie ·

Skande SAP…. Hoe word die mense gekeur? Julle word deur die publiek betaal en vertrou!
Kry julle huis in orde!

Darty ·

Jannie, jy behoort darem teen hierdie tyd al die antwoord te ken!!

Wat-ek-lees ·

Ek wonder wie is verantwoordelik vir die siftingsproses van die aanstellings en van rekrute?
Neewat, dis hierdie vrot appels wat werklik onnodig is.

Tiger ·

‘n Korrupte polisieman moet dubbel die vonnis van ‘n landsburger kry want hy is in ‘n vertrouens posisie en misbruik sy uniform.

Mike ·

Die drywer van geldwa moet ondersoek word,hulle is veronderstel om na die naaste polisie stasie toe te ry……………

Theresa B ·

Kan jy dit nou oorvertel??!! Ek dink hierdie spul sluit by die SAP aan met voorbedagte rade. Net om info te kry ens. Goeie vrek. Sal hulle ooit regkom?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.