Poppie, meisie, seun glo ook aangerand

Kobus en Louisa Koekemoer in die hof (28 Maart 2017). Foto: Verskaf

Louisa en Kobus Koekemoer, Poppie se ma en stiefpa, word daarvan beskuldig dat hulle nie net vir Poppie se dood verantwoordelik was nie, maar ook ʼn vyfjarige seun en 15-jarige meisie aangerand het.

Die Koekemoer-egpaar het Dinsdag in die Brits-landdroshof verskyn, waar die saak na die hooggeregshof in Pretoria oorgeplaas is vir verhoor. Die saak sal van 30 Oktober tot 10 November aangehoor word.

Adrian Nell, Louisa se regsverteenwoordiger, het aan Maroela Media bevestig Louisa en Kobus sal op ʼn aanklag van moord, twee aanklagte van aanranding met die doel om ernstig te beseer en ʼn aanklag van kindermishandeling tereg staan.

Die staat beweer die egpaar het Poppie, ʼn vyfjarige seun en tienermeisie aangerand toe hulle in Orania, Hopetown en Brits gebly het. Die staat het Dinsdag versoek dat die aanklagte, wat oor verskillende jurisdiksies strek, gesentraliseer word om saam verhoor te word.

Maroela Media het voorheen berig ʼn buurman van die Koekemoers in Orania het in Augustus 2016 in ʼn polisieverklaring aangevoer daar was gereeld ʼn bakleiery by die Koekemoers se huis. Hy het gedink die kinders is onnodig gedissiplineer. “Die aantal houe vir kinders van daardie ouderdom was onvanpas,” het hy in die verklaring geskryf. Hy het ook ander bewerings van mishandeling gemaak.

Poppie is op 25 Oktober verlede jaar na ʼn hospitaal in Brits gehaas, nadat sy vermoedelik aangerand is. Die Koekemoer-egpaar het toe reeds van Orania na ʼn kleinhoewe in Mamogaleskraal naby Brits verhuis. Poppie is kort ná haar aankoms by die hospitaal dood verklaar. Kobus is kort daarna vir Poppie se moord in hegtenis geneem. Louisa is op 15 Desember in verband met die moord in hegtenis geneem.

Albei beskuldigdes se borgtogaansoeke is geweier. Nell het egter Dinsdag gesê Louisa wil steeds teen haar borgtoguitspraak appelleer en hierdie appèl sal hopelik binnekort aangehoor word.

Lees alle vorige berigte oor Poppie van der Merwe op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Dirk ·

Ek wonder of die polisie ondersoek wat geloods was na die klagte deur die buurman ook ondersoek gaan word. Het hulle dit deeglik genoeg ondersoek? Het hulle dit wel ondersoek? Miskien moet daar ook aan aandag gegee word deur die staat. As die polisie ondersoek nie voldoende was nie, is die ondersoek beampte net so skuldig aan Poppie sê dood.

Jenny ·

Ek kan ni glo dat enige ouer so iets aan ñ kind….nee wag…HAAR EIE KIND….kan doen nie…..mag hulle brand in d hel……en mag hulle dae in d tronk erger as hel wees

E.k. ·

GEEN borg nie asseblief. Mag hul die heel ergste moontlike straf kry virhul wandade.

Riette Rossouw ·

Die samelewing kan klaarkom sonder die twee Koekemoer – kindermishandelaars. Maak hulle permanent van kant – verkieslik op dieselfde manier waarop Poppie vermoor is. As jy kan uitdeel moet jy mos kan vat ook!

Justine Wiese ·

Dalk lees ek dit mis of verstaan nie mooi nie… Maar is Poppie se broer en halfsussie in ‘n plek van veiligheid, in die artikel klink dit net dat die boetie is… “en haar broer in ‘n plek van veiligheid is.”
Kinders, Oumense en Diere… moet altyd met groot, hele, liefdevolle harte beskerming, respekteer en gekoester word… (hierdie wêreld is lankal te lelik vir my…)

Teresia ·

Hoe kan ‘n ouer dit aan sy eie vlees en bloed doen. Hulle moet tronk toe. Dis waar hulle hoort. Gooi die sleutels weg!! Geen borg asb!!??

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.