‘Prokureur’ kla nou oor onregmatige inhegtenisneming

Brenda Wardle (Foto: Brenda Wardle, Twitter)

Brenda Wardle, wat haarself na bewering as ʼn prokureur voorgedoen en regsanalise jare lank aan die media verskaf het, het Vrydag weer in die handelsmisdaadhof in Port Elizabeth verskyn om te kla dat sy nie in ʼn enkelsel in die tronk was nie en dat haar inhegtenisneming onwettig was.

Wardle het aan die hof gesê sy is van voornemens om ʼn dringende aansoek in die Port Elizabethse hooggeregshof te bring. “Wanneer ʼn inhegtenisneming onwettig is, is die gevolglike aanhouding ook onwettig,” het sy gesê.

Wardle sou Vrydag bevestig of sy gereed is om verhoor te word, aangesien sy haar eie verdediging gaan hanteer.

Sy het tydens haar vorige hofverskyning kwessies aangehaal oor haar gesondheid en dat sy nie die regte medikasie ontvang het terwyl sy in aanhouding was nie. Dié kwessie is intussen reggestel.

Sy het egter Vrydag aangevoer sy is geregtig op ʼn enkelsel, sodat haar omgewing gunstig sou wees vir haar om vir die hofsaak voor te berei. “Ek het ʼn brief aan die Staat geskryf en ek gaan dit daag in ʼn semi-dringende aansoek, ek is geregtig op ʼn enkelsel. Ek ken die minister van korrektiewe dienste persoonlik,” het Wardle gesê.

Sy het tydens die Paralimpiese atleet Oscar Pistorius se moordsaak bekendheid verwerf toe die SAUK en die BBC in daardie stadium met haar onderhoude gevoer het as ʼn regsanalis.

Die 56-jarige word daarvan beskuldig dat sy voorgegee het om ʼn prokureur te wees en dat sy “dienste” verskaf het aan ʼn veroordeelde moordenaar.

Die staat voer aan Wardle het tussen April 2009 en Augustus 2013 ʼn bedrag van R538 766 ontvang om Stephanus van Aardt by te staan, toe hy versoek het om vroeër op parool vrygelaat te word. Die staat voer aan Wardle het voorgegee om ʼn prokureur te wees, maar sy het versuim om ʼn aansoek in te dien vir Van Aardt se vroeë vrylating.

Van Aardt, ʼn melkboer van Somerset-Oos, is in 2007 skuldig bevind op aanklag van moord en tot 12 jaar tronkstraf gevonnis vir die aanranding en moord op die 15-jarige Eliot Magabane.

Wardle is in Junie in Oos-Londen in hegtenis geneem nadat sy die hof vir meer as ʼn jaar lank ontduik het. Haar aansoek om borgtog is verlede maand afgekeur.

Landdros Lionel Lindoor hou vol die verhoor moet nou begin. “Wat my aanbetref is jy wettig in aanhouding en jy sal dit in ʼn ander hof moet daag. Ons is hier vandag sodat die saak kan begin,” het hy gesê.

Staatsadvokaat Tjaart van Zyl het ʼn kort verdaging versoek sodat ʼn enkelsel vir Wardle gereël kan word.

Die saak is tot 11 September uitgestel sodat Wardle kan aandui of sy gereed is om met die verhoor voort te gaan.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

anton ·

Lida ek dink dat jaco dit half tong in die kies gevra het omrede almal wat n BA graad het dink dit is n groooooot prestasie.
Ek onthou hoe daar altyd gespot is met dit en die gesegde wat rond gegaan het was.
”BA mansoek graad” :-)

Adam ·

Anton, daar was nog ‘n juweel wat die rondte gedoen het- ” ‘n BA graad is soos ‘n pizza- dit voed net ‘n gesin van twee”

Willie ·

Dit wil my voorkom asof sy tot dusver heel geslaagd was in haar eise. Ek gaan die saak bietjie volg. Sal interessant wees indien sy, “prokureur”, die saak teen die staat wen.

HPV ·

Zuma doen hom al jare voor as president, sonder enige formele skoolopleiding en verdien miljoene daarmee. Hy het die ekonomie totaal verwoes maar is nie in aanhouding nie.

Johan. H. ·

Maak n baie groot voorbeeld van haar.. Enkel sel???? Soos die voorbeeld van die Doodskis manne,,, Hierdie saak gaan regtig aandui of die sogenaamde geregtigheid dwarsdeur vir almal geld…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.