R500 000 vir Kasrils ná Zuma-verkragtingbewering

Ronnie Kasrils Foto: herald.co.zw

Ronnie Kasrils Foto: herald.co.zw

Kebby Maphatsoe, adjunkminister van verdediging, het Dinsdag ingestem om R500 000 plus regskoste aan Ronnie Kasrils oor te betaal as ʼn skikking nadat Maphatsoe hom glo daarvan beskuldig het dat hy agter pres. Jacob Zuma se verkragtingsaak sit.

Kasrils het R1 miljoen plus regskoste van Maphatsoe geëis vir sy “vals en neerhalende uitlatings”. Maphatsoe het gesê Kasrils het die vrou wat Zuma van verkragting aangekla het “met die hand uitgesoek” en haar “gestuur” om die klag aanhangig te maak. Hy het die bewering verlede jaar tydens ʼn mediakonferensie gemaak.

Kasrils, voormalige minister van intelligensie, het aan die Pretoriase hooggeregshof gesê Khwezi het hom op Vrydag, 4 November 2005 gebel toe sy pres. Jacob Zuma daarvan beskuldig het dat hy haar verkrag het. “Haar presiese woorde was, ‘Oom Ronnie, Jacob Zuma het my verkrag’. Ek het my doodgeskrik,” het Kasrils aan die hof gesê.

Hy wou by Khwezi weet of sy al na die polisie toe gegaan het en sy het gesê sy is op pad en ander vroue sal haar vergesel. “Ek het vir haar gesê ek sal nie inmeng nie, want dit gaan alles verpolitiseer en sy het gesê sy verstaan.”

Kasrils het gesê tydens sy gesprek met Khwezi wou hy by haar weet wat sy van hom verwag, en sy het gesê sy wil net hê hy moet bewus wees van dit wat gebeur het.

Volgens hom het twee lede van die ondersoekspan hom die volgende week besoek, omdat hulle gehoor het Khwezi het hom gebel. Hy het glo ʼn kort verklaring afgelê oor die oproep, maar is nooit tydens die hofsaak gevra om te getuig nie.

Kasrils het gesê indien hy die “meesterbrein” was agter die klag, sou die ANC hom aangekla het. Hy het aan die hof gesê hy was geskok toe Zuma, tydens die verhoor, aan die regter gesê het hy [Kasrils] en die voormalige nasionale direkteur van openbare vervolging, was verantwoordelik vir die sameswering.

Kasrils het vergoeding van Maphatsoe geëis nadat die hom glo “teen-revolusionêr” en “ʼn vyand van die mense” genoem het. Volgens hom het Maphatsoe geweier om om verskoning te vra en sy uitlatings terug te trek ná hy ʼn skrywe aan hom gerig het.

Kasrils het aangedui dat hy beplan om die geld aan Khwezi oor te betaal om haar met haar studies te help.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

17 Kommentare

Johann ·

Ok…so nou hap en byt die ANC mekaar met beursies in die hand? Wonder wie gaan betaal vir die “foutjie”? En wie nou wat van wie kan verhaal omdat wie wat van wie gese het?

Buks ·

Daar is baie geld die probleel is net hoe gaan wie dit kry. Jacy Selebe se advokate is lankal betaal. Die res kry goue handruke. Waar is Maroga van ESKOM wat 80 miljoen gedimaand het.

Wat-ek-lees ·

Die wiel draai, soms vinniger, soms stadiger maar hy draai. Dus hoeksnelheid varieer maar is nooit nul.

Elana ·

Dit is regtig nice van mnr. Kasrils om die geld vir Kwezi te gee. Ek het sommer so aangedaan gevoel, dis die mooiste gebaar.

Jan Jooste ·

Baie geluk aan oudminister Kasrils en baie dankie vir die skenking aan Khwezi. Ek is veral dankbaar dat hy sorg dat die Zuma-dampkring uiteindelik goed doen aan haar. Die blinde sweep klap raak.

danie ·

Ek weet darm nie, hierdie saak is darm maar vinnig af gehandel, amper of dit beplan is . Hulle kon nie derek die klaagster af betaal nie so kom ons maak n ander plan

Boerin ·

Ek ruik n rot!!! Wie gaan daardie geld op die ou end betaal? Ek dink ons almal weet!

Sus ·

Miskien raak die Guptas moeg vir Zuma want vir die Guptas is één ding belangrik: ‘bieznies is bieznies’. En Zuma kos nou meer as wat hy en sy sukkelende ANC inbring!

Piet ·

Ou Ronnie, jy moet net versigtig wees hoor, want as jy met hierdie “vriende” van jou ‘n uitval het kan jy dalk agterkom dat jy eintlik nog nooit vriende gehad het nie. Ek dink nie die KGB gaan jou nou help nie. My voorstel is dat jy maar altyd jou tandeborsel en ander goedtjies moet reghou dat jy vinnig ‘n kraak kan maak.

Jan Jooste ·

Maphatsoe het die wag voor sy mond afgedank. Hy was ook die man wat Thuli Madonsela beskuldig het dat sy vir die CIA werk. Derhalwe is hy en Jackson Mthembu Dinsdag in die Johannesburgse Hooggeregshof skuldig bevind aan naamskending van Tshidiso Mokhoanatse. Ek is dus nie verbaas dat hy dieselfde dag geskik het met oud-minister Kasrils nie. Mens kan net soveel pyn absorbeer. Of hy nou minder gaan praat, is egter te betwyfel want hy spreek volgens wiens brood hy eet.

Leon ·

Okey,……so nou betaal ons seker vir die verbeterings aan sy huis ook? Ek stem saam, iewers vrot ‘n rot!

Vra net ·

Betaal maphatsoe sélf if weer die arme belastingbetalers?

hans brits ·

Zuma se doppie is geklink net n kwessie van tyd en dis sommer gou voor die einde van 2016.Hierdie gaan n jaar wees wat die anc altyd sal onthou.In 2017 gaan hulle die finale nekslag kry.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.