Ramphele maak óók bedrogsaak oop

Mamphela Ramphele

Mamphela Ramphele

Mamphela Ramphele, leier van AgangSA, het ook ʼn saak van bedrog by die polisie aanhangig gemaak om uit te vind wie ʼn bankrekening geopen het vir ‘n terugbetaling van die Onafhanklike Verkiesingskommissie (OVK).

Dit volg nadat Mike Tshishonga, die party se voorsitter, glo om dieselfde rede Dinsdag ʼn saak van bedrog by die Lyttelton-polisiestasie in Centurion teen Ramphele aanhangig gemaak het.

“Ramphele het ook ʼn saak aanhangig gemaak om uit te vind wie die rekening oopgemaak het, en hoe dit reggekry is,” het Mark Peach, ʼn woordvoerder van die party, Vrydag aan Sapa gesê.

“Tshishonga en Ramphele wil albei meer uitvind oor die omstandighede rondom hierdie rekening.”

Die bedrag wat ná vanjaar se verkiesing deur die OVK aan die party terugbetaal moet word, is glo sowat R200 000.

“Sodra die polisie die saak ondersoek het, sal ons meer weet. Ramphele het nie die rekening geopen nie,” het Peach gesê in reaksie op ʼn bering in The New Age wat beweer dat Ramphele vir die rekening verantwoordelik is.

“Ons weet nie wie die rekening geopen het nie, en dit is nog te vroeg om enigiets te sê. Alvorens die saak nie ondersoek word nie, sal ons nie weet nie.”

Peach het Donderdag bewerings in The New Age dat Tshishonga ʼn saak van bedrog teen Ramphele aanhangig gemaak het, afgelag.

Die koerant het berig dat Tshishonga vir Ramphele daarvan beskuldig dat sy direkte toegang het tot partyfondse en dat sy ‘n bankrekening oopgemaak het om toegang te kry tot die OVK-deposito sonder ‘n mandaat van die party. Peach het die bewering ontken, en gesê die handtekening by die rekening was Tshishonga sin.

The New Age het Vrydag egter berig dat Tshishonga ʼn bedrogsaak aanhangig gemaak het omdat sy handtekening, sonder sy medewete, by die rekening verskyn.

Monica Graff, AgangSA se woordvoerder in die Wes-Kaap, het in ʼn verklaring bevestig dat daar nie ‘n verdagte genoem word in die saak wat Tshishonga geopen het nie.

Lees ook:
AgangSA-leier glo strafregtelik aangekla

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.