Renosters gestroop: Rietvlei-natuurreservaat gesluit

Argieffoto Foto: viechfisch, Pixabay

Argieffoto Foto: viechfisch, Pixabay

Die stadsraad van Pretoria het bevestig die Rietvlei-natuurreservaat is tot verdere kennisgewing gesluit. Twee renosters, waaronder ʼn koei wat dragtig was, is Donderdag in dié reservaat gestroop.

Yusuf Abramjee, gemeenskapsaktivis, het gesê ʼn dringende vergadering is vir Saterdagoggend belê om die voorval te bespreek.

Maroela Media verneem die twee renosters, Groot Kooi (30 jaar oud) en Kilo (8 jaar oud) is in die reservaat doodgemaak.

Brig. Vish Naidoo, woordvoerder van die polisie, het aan Maroela Media bevestig twee witrenosters is geskiet en hul horings verwyder. “Werknemers van die Rietvlei-natuurreservaat het Vrydagoggend op hul karkasse afgekom en die polisie ontbied,” het hy gesê. “Niemand is nog in verband met die voorval in hegtenis geneem nie.

Naidoo het gesê die ondersoek duur voort.

Maroela Media verneem ʼn besoeker aan die reservaat het vroeër die week verdagte optrede in die reservaat gewaar. Rhino Alerts, ʼn groep wat homself beywer vir die bewaring van renosters, het berig ʼn besoeker het ʼn donkerblou BMW in die reservaat opgemerk. “Die bestuurder het by die renosters stilgehou, uitgeklim en na sy kattebak gegaan. Toe hy my sien, het hy teruggeklim in sy motor en vinnig weggery. Ongeveer 500 meter verder het hy weer stilgehou, na sy kattebak gestap en weer in sy motor geklim. Dit het voorgekom of hy van my af probeer wegkom en het byna ʼn volstruis gestamp.”

Volgens die besoeker het die bestuurder van die BMW later van die afgetrek sodat hy hom kon verbysteek. “Ek kon twee persone in die motor sien. Hulle het by die hengelgebied die reservaat verlaat.”

Dit is nog nie duidelik of dié voorval met die stropery verband hou nie.

Maroela Media het vroeër berig die departement van omgewingsake was ook op die toneel om ondersoek in te stel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Truth-Seeker ·

Ek dink dit is tyd dat ons die stropers ook begin stroop.

James ·

Truth-seeker ek wens van harte jou woorde word waar , ek stem 100% saam met jou

Armando ·

“Truth-Seeker”, Kom ons (ek en jy) doen die ding. Kontak my hierdeur.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.