Reuseskikking vir SAPD-lid ná regstellende aksie

Louis van Heerden.

Louis van Heerden.

Die vakbond Solidariteit het vandag ’n reuseskikking namens een van sy lede in die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) bereik.

Dit volg nadat Louis van Heerden weens regstellende aksie telkens oor die hoof gesien is vir bevordering.

Volgens Anton van der Bijl, hoof van Solidariteit se Sentrum vir Billike Arbeidspraktyke, is daar op grond van ras teen hierdie lid gediskrimineer en is die vakbond verheug dat geregtigheid vandag kon geskied. “Ten spyte van die feit dat mnr. Van Heerden die beste en voorkeurkandidaat vir die geadverteerde pos was, is daar steeds teen hom gediskrimineer bloot oor sy ras, wat deur die Grondwet verbied word,” het Van der Bijl verduidelik.

Van Heerden (heel regs) saam met verteenwoordigers van Solidariteit by die arbeidshof. Foto: Facebook

Van Heerden (heel regs) saam met verteenwoordigers van Solidariteit by die arbeidshof. Foto: Facebook

Volgens Van der Bijl was ras die primêre rede waarom Van Heerden nie vir die pos in aanmerking gekom het nie. Van der Bijl verduidelik voorts dat artikel 15(3) van die Wet op Gelyke Indiensneming die daarstelling van kwotas verbied. “Die reservering van poste vir ’n sekere rassegroep word duidelik deur die Wet op Gelyke Indiensneming verbied, en dit is om hierdie rede dat ons die SAPD en sy regstellendeaksieplan namens die lid gepak het aangesien die SAPD se weiering om hierdie kandidaat weens sy ras te bevorder basies neerkom op die reservering van poste,” het Van der Bijl gesê.

Solidariteit en die SAPD het vandag die skikking ’n bevel van die hof gemaak, wat dan in wese ook beteken dat Van Heerden van vandag af met terugwerkende voordele in die rang van luitenant-kolonel aangestel word. “Dit is werklik verblydend dat die SAPD met ’n oop gemoed na hierdie aangeleentheid gekyk het en erken het dat Van Heerden geregtig was op die bevordering. Sulke voorbeelde versterk die goeie verhoudinge tussen ons en die SAPD,” het Van der Bijl bygevoeg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

28 Kommentare

Chris ·

YAY !!
Mag die grondslag van hierdie sake gele wees en mag daar nog honderde duisende sulke uitsprake wees!

popeye ·

Geskikte kandidaat….hofaksie….skik…baie geld…nuwe SA….stel BEE aan….ongeskik….betaal baie geld…..hierdie platespeler haak vas!!!

Jaybee ·

Geluk Solidariteit en mnr van Heerden, ek hoop Solidariteit gaan voort met hul uitstekende werk.

Koos ·

Met my ook gebeur in 1995. Aansoek gedoen vir pos by Munisipaliteit as regsadviseur. Reguit vir my gesê ek is by verre die beste kandidaat, maar dit is ‘n “politieke aanstelling”. Onberekenbare skade word aangerig as die beste kandidate weens politiek op die kantlyn bly staan.

Sekretaris ·

Ek is in Menslike Hulpbeonne Bestuur in SAPD en kan getuig dat hierdie groot ooms en tannies van die Polisie nie n bloue duit omgee nie. Hulle gooi meer as gereeld die gekikste kandidate uit terwille van “transformasie”. Des 2015 se “Equity Report” van die Polisie het gewys dat daar net nog sowat 9% blankes in die Polisie oor is. Van Kleurlinge en Indïers praat ek nie eers nie. Dit sal interressant wees om die huidige persentasies te sien….

lw ·

Daar sal ernstig moet gekyk word na die indiensnemings ook. Om op grond van rasseteikens aanstellings te doen is n resep vir skande. Daar is soveel polisiebeamptes wat krimineel en onbevoeg optree in SAPS en die organisasie n baie slegte naam gee.

Alwyn ·

Baie geluk Louis.Jy verdien dit.Net jammer dit word met belasting betaler se geld gedoen.Niemand word verantwoordelik gehou omdat hulle ons geld mors nie.

Kaptein MJ RAS ·

Baie geluk Louis
Dit is net jammer dat daar nog honderde van ons blanke offisiere al tot meer as 20 jaar in n rang is en om dieselfde rede nie bevorder is nie. Die Polisie sal skik op een geval maar nooit erken dat daar nog op honferde banke lede gediskrimineer word te opsigte van bevordering nie.

Colen ·

Nie net blankes nie maar bruin lede ook. Ek persoonlik al 17jaar n AO. Nou hoor mens oud MK lede is bevorder of gaan bevorder word

fred ·

Is dit dan nie ook rasse diskriminasie indien die Wet op Gelyke Indiensneming nie toegepas word waar ‘n rugbyspeler op grond van ras, en nie sy vaardighede, gekies word nie??

Joe ·

Hoera!!!! So daar is tog geregtigheid, net jammer dit moet eers deur ‘n hof afgedwing word, baie geluk Solidariteit!!!!

Theresa B ·

Jip. Dit gaan orals so. Ek het ‘n vriend in K.D. Hy werk sy as af. Die “ander” het nie ‘n clue wat hulle moet doen nie. Hierdie man het meer as 33 jaar ondervinding en word orals heen gestuur om dinge by te woon aangesien sekere mense nie regtig ‘n idee het wat gedoen moet word nie. (maar sit in die hoë posisies). Hierdie arme man het meer as 11 jaar laas bevordering gekry. Hy kry nie eers meer prestasie belonings nie. Maar sy mense wat in sy afdeling werk kry elke jaar. Hy doen nie eers meer aansoek vir poste nie, want dit word net summier afgekeur of nie eers daarna gekyk nie.

zahn ·

Mense, ons kan trots wees op Solidariteit. En baie dankbaar. Ten minste is hulle brieke vir die bultaf gejaag van die regering. Waar sal ons nou al gewees het as hulle nie daar vir ons was nie?
Dankie, ek het geen voordeel getrek nie, maar ek kry darem so klein bietjie gemoedsrus. Klein liggie in die tonnel, maar ons kan die liggie sien!

Coa ·

Dankie Solidariteit, wat na sy mense omsien. Hoop hierdie is die voorloop van wat nog kan kom. Welgedaan

Wicus Jansen Van Vuuren ·

Weet nie hoekom blankes nog probeer in SAPD iets doen nie, los dit vir die kaders.

Jean ·

Ek is baie bly vir hierdie oorwinning. Hoop hulle gaan net van krag tog krag, die mallikheid moet gestaak word.

Jean ·

malligheid, jammer. Ek dink BEE in sy geheel moet geskrap word, 22 jaar van regstelling was nou genoeg. Gee almal nou weer ‘n gelyke kans.

Redigeerder ·

Ek weet al die kommentators gaan op my nek spring maar ek wil eerlik net weet, ek sien baie dat Maroela skryf reuseskikking of reusegebou of reuseprobleem.

ANDER KOMMENTATORS IGNOREER ASB MY SKRYWE, dit is aan MM spesifiek gerig omdat ek werklik wil weet want ek doen self ook redigeringswerk.

Ek is dalk nog old school, maar was reuse nie altyd ‘n bevoeglike naamwoord wat die selfstandige naamwoord beskryf nie, ‘n reuse skool, ‘n reuse ongeluk, ‘n reuse probleem, jy sal tog nie grootskool aanmekaar skryf of moeilikepersoon of slegtedag nie.

Ek is geensins beterweterig of sarkasties nie, dinge verander daagliks en ek merk net spesifiek op dat die woord wat voorheen as ‘n byvoeglike naamwoord gebruik is, nou deel van’ n saamgestelde woord vorm.

Baie dankie Maroela .. ek lees elke dag julle berigte, sou net graag dit wou uitklaar. DANKIE.

Sune van Heerden ·

Dagsê Redigeerder

Dankie vir jou navraag.
Die rede vir die vas skryf van “reuse-” aan ‘n ander selfstandige naamwoord is dat “reuse” nie ‘n byvoeglike naamwoord is nie, al kan die -e ‘n mens laat dink dit is. Die woord is eintlik “reus” en die -e is ‘n verbindingsklank, wat juis beteken dat “reuse-” vas aan die volgende selfstandige naamwoord geskryf moet word. Die byvoeglike naamwoord, wat soos ander b.nwe. hanteer word, is “reusagtig(e)”. “Reuse-” kan ook nie
predikatief of bywoordelik gebruik word nie.

Ek hoop dit klaar dit op!
Groetnis
Suné
nms Maroela Media

Lt Kol se vrou ·

Baie geluk Louis. My man sit self in die posisie was ook die beste kandidaat vir bevordering maar vel kleur was nie reg nie. Gelukkig vat hy dit nou verder en Louis jy gee ons nou weer hoop.

Maggie Pringle ·

Weereens ‘n bewys dat ons almal by Solidariteit moet aansluit. Hulle sal vir ons regte veg. Vul sommer nou julle vorms in as julle nog nie ‘n lid is nie.
Solidariteit is ook die mense wat die armes help met klere en skooltassies.

lettie ·

Baie baie goeie nuus! Dankie Solidariteit en baie geluk Louis v Heerden.

Doris Gouws ·

Ek wil net vandag met n baie seer hart sê dat my kind in die Polisie was van 1988 en dat hy in 2009 aansoek gedoen het vir n pos waarvoor hy gekwalifiseer het en dat hy die beste kanidaat was dat van die mense wat die onderhoud met hom gevoer het,gesê het hy was die beste kanidaat want met die ander persoon het hulle sommer n onderhoud oor die foon gehad nou wil ek weet hoe is dit moontlik dat mense met verstand n onderhoud oor die foon doen .Maar sy velkleur was toe nie reg nie,hy was n lid van Soldariteit en in 2009 het hy n grief in gesit oor hy die beste kanidaat was maar kon nie die pos kry nie oor velkleur .Hy was ongelukkig een van daardie Polisiemanne in daardie Helikopter ongeluk van 23 Julie 2010 op daardie aand het Meneer Riaan Grywagen met Mnr Dirk Groenewald op die TV. Nuus gepraat en toe is daar genoem dat Soldariteit besig is met sy saak dit is nou al 2017 en ons wag nog steeds as jy hoor en sien is daar ander mense wat dit kry., hulle kan mos sy bevordering gee dit is nie nodig dat daar n pos is nie maar sodat sy vrou en kinders beter kan lewe aangesien hulle iemand verloor het wat nooit weer vervang kan word nie.

Stephen ·

Mooi Renate trots op jou… Nou is daar n saak wat in elke hof gebruik Kan word… Nog een of twee Dan Sal saps bietjie begin terug staan…

Skybird ·

Geluk aan L v Heerden, jammer mens moet deur dié Hof loop om erkenning te kry, terwyl die “Groot Brass “weet ń mens kwalifiseer maar afkeur oor vel kleur. Met 35 jaar diens en laas in 1998 bevordering gekry, het ek alle veglus verloor en Baie negatief geword teenoor diè werkgewer, ek staan nou 6 maande weg van enigste uitweg, Vroeë Aftrede.

JC ·

MOOI SO SOLIDARITEIT, JULLE IS AWESOME VERBY!!!!!!!!!!!!!!!
Nou net vir ONS universiteite…(kwelpunt)

Jp ·

Dit is nie net in die SAPS waar dit so gaan nie die weermag is dieselfde na 17jaar in een rang terwyl juniors bevorder word het ek besluit om nie my kontrak te hernu nie want dit is so mens word moeg om negatief werk toe te gaan baie geluk met julle oorwinning

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.