SA ekonomie styg uit resessie

geld ekonomie suid-afrika

Argieffoto

Die Suid-Afrikaanse ekonomie het uit sy resessie gestyg deur ekonomiese groei van 2,5% tussen die eerste en tweede kwartaal te toon.

Statistieke SA het Dinsdag aangekondig nadat die bruto binnelandse produk (BBP) vroeër vir twee agtereenvolgende kwartale ingekrimp het – en die land in ʼn tegniese resessie gedompel het – het die ekonomie tussen die eerste en tweede kwartaal selfs beter as die markverwagting van 2,3% presteer. “Positiewe bydraes tot die hoër ekonomiese aktiwiteit oor die meeste sektore, veral landbou, finansies en mynbou, het die BBP met 2,5% laat styg,” het Stats SA gesê.

“Landbou het veral sterk herstel getoon ná Suid-Afrika se onlangse droogte en produksie het met 33,6% vermeerder. Hierdie verbetering in die tweede kwartaal is meestal gedryf deur ʼn toename in produksie van veldgewasse, veral mielies en koring, asook verhoogde produksie van produkte soos groente.”

Volgens Stats SA kan die mielieproduksie rekordhoogtes bereik indien die produksie voortgaan soos daar verwag word. Die Nasionale Oesskattingskomitee verwag dat die land in 2017 16,4 miljoen ton kommersiële mielies sal produseer, meer as dubbeld soveel as verlede jaar se oes en hoër as die huidige rekord van 14,7 miljoen ton wat in 1981 geproduseer is.

Die verbeterde mielieoes sal ook finansiële verligting vir verbruikers bring, aangesien die prys van onder meer brood en graan na verwagting sal daal.

Stats SA het in ʼn verklaring gesê die sektor wat die tweede meeste tot die groei in BBP bygedra het, is die finansiële sektor wat met 2,5% gegroei het deur meer aktiwiteit in finansiële bemiddeling en verwante aktiwiteite.

Die mynbousektor het met 3,9% gegroei, die tweede agtereenvolgende kwartaal wat dié sektor groei getoon het. Produksie was egter meer gedemp as die 13,1% groei wat in die eerste kwartaal aangeteken is.

Stats SA het gesê hoewel Suid-Afrika se tweede resessie sedert 1994 deur die ekonomiese groei tot ʼn einde gebring is, is dit belangrik om in ag te neem dat kwartaallikse groeikoerse baie wisselvallig kan wees.

“Tweedens, die groeikoers van 2,5% is die groeikoers op ʼn jaarbasis, met ander woorde wat die jaarlikse groeikoers sal wees as die kwartaallikse koers vir vier agtereenvolgende kwartale herhaal word. Derdens, as ons die eerste helfte van 2017 met die eerste helfte van 2016 vergelyk, was die groeikoers 1,1%,” lui die verklaring.

Stats SA het gewaarsku dat die groeikoers dus nie in isolasie gesien moet word nie, maar in konteks van ʼn omvattende prentjie van die land se ekonomiese prestasies. “Die doelwit om hoër vlakke van ekonomiese groei en ontwikkeling te bereik, bly net so belangrik soos altyd.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

23 Kommentare

Vermeende ·

Ek plaas nie veel vertoue in die styging nie want die skrif is reeds aan die muur.

As jy n bevolking van 10 mense het en die totale som geld tussen hulle is R100 dws R10/persoon, nou as jou bevolking met 10% groei tot 11 mense dan moet jy ook n ekonomiese groei van 10% kan handhaf om by R10/persoon te kan bly anders word jou bbp kleiner in verhouding.
SA se ekonomie groei nie teen die spoed wat sy bevolking groei nie.
Daar is wel n 2.5% groei in die ekonomie maar maar ook minder geld om te verdeel in die groter bevolking.

John ·

So, die boere moet die land uit die gemors help en dan saam met die kaf in die wind weg dwarrel sodat ander die vrug van hul arbeid kan kom pluk… Wat ‘n geseende spulletjie sal dit nie wees nie… foei! Hierdie is ‘n ooroptimistiese beraming om tog net uit die rommelhoop te kom vir ons nuwe finans-boffin om lug te skep… en woeps weer terug in die stankhool soos dinge tans in die politiek daar uitsien…

Eish ·

Dis baie duidelik dat die groeisyfers nie verteenwoordigend is van die ekonomie nie. Kleinhandelsektor trek swaar. Mielies word of gestoor, of uitgevoer en mynboubedryf se produksie hoofsaaklik uitgevoer. Finansiële sektor se bydrae moet eers ontleed word ten einde te sien wat die groei daar veroorsaak. Ver bruiser kry myns insiens swaar en hul spandering toon juis dit.

CAV ·

Om in een kwartaal n land se BBP tot 2.5 % te kan laat groeie, is fanasties ( as jy dit wil glo ☺ )
As dit die geval was, kyk net hoe het ons bevolking gegroei, en hoeveel mense het hulle werk verloor die afgelope tyd ( Myne oor die 8000 ens ). ……aan die ander kant – een van die dae is dit verkiesing

Burger ·

Dit raak vir ons laat as nie meer goeie nuus kan erken as goeie nuus nie.

JC ·

Ek meen ook die statistieke is gekook, want hoe kan ekonomiese bedrywighede en groei toeneem, indien daar tans meer mense as ooit in armoede leef? Die syfers klop dan nie, of hoe? Definitief is dit dan ‘n versinsel. Die armoedige mense is nie werksaam of ekonomies bedrywig nie, miskien kan ‘n kenner ons help?

Jaco ·

Soos onder verduidelik word die hoeveelheid mense wat aan Suid Afrika se rykdom deel al hoe minder. Die ekonomie mag wel groei, maar die begunstigdes wat voordeel daaruit put kan wel verminder, dus die rede vir die magdom ellende.

Vissie ·

Die statistici laat my baie dink aan die weervoorspellers. Ek wonder of hulle hul eie stories glo.

Francie ·

Wonderlik, die invloed van Landbou op die land se ekonomie. Hoekom dit dan gedurig so moeilik as moontlik maak vir die boere. Enigeen sal tog dink dat dit vir hulle eerder makliker gemaak sal word om aan te hou produseer. Nou is dit juis die boere wat gedurig gedreig word met afsettings, ens.

Vryheid ·

Jy’s reg Francie. Boere word nie beskerm in ons land nie maar dra by tot groei in die ekonomie. Boere word daagliks aangeval maar ons is mos niks werd in die oe van die regering nie, maar die vrug van ons arbeid dié wil hul he.

Steekvlieg ·

Die land is net soos n storieboek maar ek het die boek al gelees.

Heleen ·

Wys jou net wat ons boere kan vermag…wat sal van ons word sonder hulle?

marous ·

En Rooikappie het ‘n Harley gery na haar ouma toe …met ‘n kas Zamalek . Absulute twak.

Hannalene greyling ·

Abra gedabra. Wie het die towerstokkie geswaai. Een goeie oes hier en daar en ons uit die resessie en perdedinges is vye.

Daan ·

Ek verstaan nie. Hoe groei die ekonomie as minder mense dit kan bekostig om te reis volgens een van die artikels ?

Jaco ·

Ek dink die “pie” word wel al hoe groter, maar die hoeveelheid mense wat in Suid Afrika se toenemende rykdom deel al hoe minder.

Andre van der bank. ·

Die regering wil he die verbruiker moet meer spandeer!!! Daarom die kaf storie.

Brandwag ·

Gister het Dawie Roodt dieselfde gese maar ook gese dat dit nie noodwendig goeie nuus is nie.Verbruiker trek swaar,winkels in ons dorp maak toe geen nuwe huurders afgelope ses maande nie,hoor van familie wat hul werk verloor het,die arm mense gaan oor tot misdaad,daar is n mielie oes maar geen prys, wat van die oorlaat skuld, medies styg, brandstof het nou n hengse hou gestyg=alles styg, in die verlede het pryse met 5 na 6% gestyg nou styg dit maandeliks tussen 10 en 15% .Syfers lyk goed maar waar die tyre die teer tref is ons in n KRISIS

Jaco ·

Die artikel praat van Suid Afrika se onlangse droogde? Dis nie onlangs nie, dis nog huidiglik! Die Kaap het nie meer water oor nie, daar is plekke in die Noordkaap wat vir jare nie reen gesien het nie, Bloemfontein het amper 6 maande laas reen gehad, die droogde is nog verseker nie verby nie, my pa se altyd dat niemand so kan jok soos die weerman nie!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.