SA fotojoernalis in Sirië ontvoer

Shiraaz Mohamed. Foto: Facebook

Shiraaz Mahomed. Foto: Facebook

Shiraaz Mahomed, ʼn Suid-Afrikaanse fotojoernalis, is in Sirië ontvoer en word steeds vermis ná beloftes dat hy vrygelaat sou word.

Imtiaz Sooliman, hoof van Gift of the Givers, het gesê Mahomed is Dinsdag omstreeks 15:45 naby die Al Hilal-hospitaal ontvoer. “Shiraaz en nog twee persone van ons organisasie was op pad na die grens met Turkye en op pad om Sirië te verlaat. Hulle het die pad geneem wat gewoonlik gebruik word om pasiënte per ambulans te vervoer. Dit is ʼn relatief veilige pad.”

Volgens Sooliman is hulle glo naby die hospitaal deur twee motors vasgedruk. “Ons bestuurder het die motor se toeter gedruk en vir hulle gewys om pad te gee. ʼn Groep mans met vuurwapens het die motor genader. Hulle het die motor se deure oopgemaak en die vuurwapens op die twee persone van ons organisasie gerig terwyl hulle na Shiraaz gekyk het.

“Ons mense het vir hulle gesê om nie vir Shiraaz te neem nie aangesien dit ondersteuning vir die hospitaal in die wiele kan ry. Hulle het gesê hulle dink daar is ʼn misverstand en dat hulle hom moet ondervra en binne twee dae sal terugbesorg. Hulle het die drie mans geblinddoek en toe vir sowat ʼn uur met hulle rondgery. Hulle het vir Shiraaz gevra of hy ʼn buitelander is en ons mense het gesê ja. Hulle het ook gevra of hy ʼn paspoort het en of hy ʼn Moslem is waarop ons mense ja geantwoord het.”

Volgens Sooliman is die twee werkers van Gift of the Givers afgelaai. “Hulle het gesê hulle wil Shiraaz net ondervra. Hulle wil glo net een of ander misverstand uit die weg ruim, maar ons weet nie wat die misverstand is nie.” Daar was egter nog nie weer ʼn teken van Shiraaz nie.

Sooliman het gesê hy sal die departement van internasionale betrekkinge en samewerking oor die voorval verwittig.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

marthie ·

Shiraaz ek ken jou nie maar bid vir jou veiligheid!!!!!!!!!

lettie ·

Ek bid vir jou en sterkte aan jou familie en vriende. Mag jy veilig terugkeer.

Trevor ·

Suid afrikaners moet weg bly van hierdie lande, dis oorlog nie speletjies nie

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.