SA se Woord van die jaar aangekondig

Die Pan-Suid-Afrikaanse Taalraad (Pansat) het Maandag, as deel van Internasionale Woordeboekdag, die Suid-Afrikaanse Woord van die jaar aangekondig.

Pansat het, in samewerking met die medianavorsingsmaatskappye Focal Points en Newsclip aangekondig dat “state capture” die woord van die jaar vir 2017 is.

“Die Suid-Afrikaanse Woord van die jaar is ʼn term of uitdrukking wat die afgelope jaar gewild was. Pansat en sy leksikografie-eenhede het vanjaar, vir die eerste keer, in internasionale voetspore gevolg en besluit om dié praktyk, om ʼn woord aan te wys, te ondersteun,” aldus ʼn persverklaring wat deur die organisasie uitgereik is.

Pansat het verskeie woorde ondersoek en een gekies wat die filosofie, omstandighede en neigings van die betrokke jaar in ag neem.

Die maatskappye Focal Points en Newsclip het sleutelwoorde ondersoek vir die periode 1 Januarie 2017 tot 12 Januarie 2017. Data is ontleed om die gereeldheid van die sleutelwoorde in gedrukte media te bepaal.

Die uitdrukking “state capture” (staatskaping) is 20 231 keer in meer as 11 000 Suid-Afrikaanse koerante gebruik. Die meeste van die gevalle (68%) het in daaglikse koerante voorgekom en 19% in Sondagkoerante.

Die gebruik van die woord “state capture” het beduidend toegeneem in 2017. Die konsep het reeds bestaan, maar daar was ʼn toename in die gebruik daarvan in die konteks van Gupta-e-posse wat uitgelek het en sistemiese politieke korrupsie.

“Ons is tevrede met die keuse, want dit is tekenend van ʼn jaar wat deur politieke en maatskaplike gesprekke gedomineer is,” sê dr. Mpho Monareng, uitvoerende hoof van Pansat. “Dit lyk nie of die gebruik daarvan in die nabye toekoms gaan afneem nie, veral nie as mens die ANC-konferensie in Desember in gedagte hou nie. Ek sou nie verbaas wees as ‘state capture’ een van die definiërende begrippe van ons tyd word nie.”

Op die kortlys vir die woord van die jaar was:
1. Blesser
2. State Capture
3. White Monopoly Capital

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

christa ·

wat van plaasmoord. Zuma kom weg met bedrog maar die plaasmoorde word iemand uit die samelewing geneem.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.