SA spog met nóg ʼn wêrelderfenisgebied

Khomani-San

!Khomani-San se kulturele lewe en tradisionele gebruike kry nou internasionale erkenning. Foto: Khomanisan.com

Die !Khomani-kulturele landskap is vroeg in Julie tydens ʼn vergadering van die Wêrelderfeniskomitee van die Verenigde Nasies (VN) se opvoedkundige, wetenskaplike en kulturele organisasie (Unesco) tot ʼn wêrelderfenisgebied verklaar.

Unesco het tydens die wêrelderfeniskomitee se 41ste vergadering in Krakow, Pole, drie gebiede in Afrika tot wêrelderfenisgebiede verklaar. Mbanza Kongo, die voormalige hoofstad van die Kongo-ryk in Angola, en die stad Asmara in Eritrea is ook tot wêrelderfenisgebiede verklaar. Dit is dié lande se eerste inskrywings op die lys vir die soort gebiede.

Suid-Afrika spog nou met ʼn totaal van nege wêrelderfenisgebiede wat die grotte in Sterkfontein, Mapungubwe in Limpopo, Robbeneiland, die Richtersveld, Kaapse blommestreek, iSimangaliso-vleilandpark in KwaZulu-Natal, die Vredefort-koepel en die Drakensbergpark insluit.

Die !Khomani-kulturele landskap is in die Kalahari Gemsbok Nasionale Park teen die grens van Botswana en Namibië geleë. Die gebied vorm ook deel van Kgalagadi-oorgrenspark.

Volgens Unesco bevat die uitgestrekte sandduine van die woestyn bewyse van menslike teenwoordigheid oor honderde jare heen en word die omgewing met die kultuur van die nomadiese !Khomani-San en die strategieë wat hulle in staat gestel het om by die moeilike woestyntoestande aan te pas, geassosieer.

“Hulle het spesifieke etnobotaniese kennis, kulturele praktyke en ʼn spesifieke wêreldbeskouing ontwikkel wat direk verband hou met die geografiese eienskappe van die omgewing. Die !Khomani-kulturele landskap getuig van die lewenswyse wat in die streek heers en oor jare gevorm is.”

Fundisile Mketeni, SANParke se uitvoerende hoof, het gesê !Khomani se insluiting in die lys van wêrelderfenisgebiede is ʼn belangrike simboliese stap in die erkenning en herstel van waardigheid van die !Khomani-San se kulturele lewe en tradisionele gebruike.

Mketeni het ook gesê die verklaring van die gebied dra by tot die erkenning van die Kalahari Gemsbok Nasionale Park en die groter Kgalagadi-oorgrenspark as ʼn unieke bewaringsgebied wat beskerm moet word.

SANParke bestuur nou drie van die wêrelderfenisgebiede in Suid-Afrika. Die Mapungubwe- kulturele landskap en die Kaapse blommestreek word ook deur die parkeraad beheer.

Die !Khomani-San het die voorlegging om hul kulturele gebied te verklaar tot wêrelderfenisgebied saam met SANParke, die departement van omgewingsake, die Vredesparkstigting en EcoAfrica gedryf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Hartseer ·

Hoop hul pas dit beter op as die Cradle of Humankind (Sterkfontein) want hier gee min mense om. Ja, die fossiele word ewiglik besing maar hier is wonderlike skaars en medisinale plante wat net soveel beskerming en oppas nodig het maar min gee om. Hul wil gou sê “oee, ek woon in die Cradle, jy weet die wêrelderfenisgebied” maar dis dit, self doen hul niks m diere en plante te beskerm nie.

Snoefels ·

Kan iemand dalk vir my se hoekom daar n ! voor elke Khomani is ? Ek het afrikaans op skool nie deur geskuur nie maar nerens was daar verduidelik hoekom dit daar sou wees nie.. ek sien op n ander webtuiste is daar n kruis met n strepie onder deur hom ?

Reinhardt ·

Soos ek verstaan is die ! ‘n kliek geluid van die Khoi-taal. Maar ek mag verkeerd wees.

SJ ·

Maroela – Vredefort-koppel is verkeerd gespel, moet lees Vredefort-koepel

Dalene de Vente ·

Dagsê SJ

Dankie vir jou valkoog! Ons vra om verskoning vir die oorsig, die berig is reeds gewysig.

Groetnis
Dalene nms. Maroela Media

Johan ·

Wys dit vir BLF, Malema, Zuma en diesulkes sodat hulle dit ook kan vernietig

Vaalpiet ·

Wonder wat gaan hulle net nog maak doen niks wat daar reeds is nie. Soek seker nie die erfenis nie soek erf soos kontant erf

Swartkat ·

Nie vir lank ‘n wereld erfenis gebied nie, gelukkig is daar nie veel wat kan brand nie

Johan S. ·

Sal graag wil weet wat is die praktiese betekenis daarvan indien ñ sekere gebied as wêreld erfenis gebied verklaar word?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.