Saftu verklaar oorlog teen korrupsie in Noordwes

Zwelinzima Vavi, algemene sekretaris van Saftu

Lede van die vakbondfederasie Saftu, veral diegene in Noordwes, is “ontstoke” oor ʼn berig in die Mail & Guardian dat ʼn multimiljoen rand se tender toegeken is aan ʼn sakeman, Mcebisi Mlonzi, op dieselfde datum as wat hy op die databasis as ʼn munisipale verskaffer geregistreer is.

“Mlonzi, direkteur van Kwane Capital, word reeds deur die Spesiale Ondersoekeenheid (SO) ondersoek oor ʼn tender van R92 miljoen in die Oos-Kaap,” het Saftu Sondag in ʼn verklaring gesê. “Hy staar nou ook ʼn ondersoek deur die Valke in die gesig oor ʼn verhuringskontrak van R165 miljoen.”

Kwane Capital het op 15 Desember 2015 aansoek gedoen om registrasie op die databasis en het agt dae later, op 23 Desember, die eerste betaling van R10 miljoen ontvang vir ʼn kontrak wat nog nie geadverteer is nie. Dit was ook net ʼn dag ná Kwane Capital se belastingklaringsertifikaat deur die Suid-Afrikaanse Inkomstediens goedgekeur is, het die vakbondfederasie gesê.

Thabo Mokwena, munisipale bestuurder van Mahikeng, het glo op 18 Desember 2015 “betaal asseblief R10 miljoen” geskryf langs ʼn stempel op ʼn faktuur deur Kwane Capital vir ʼn voorafbetaling. ʼn Munisipale kwitansie wys dat die bedrag vyf dae later aan die maatskappy oorbetaal is.

Saftu het met prof. William Gumede van Wits-universiteit saamgestem dat “die manier hoe hierdie tender toegeken is, is hoogs verdag en onreëlmatig in alle vorme, om dit sagkens te stel”. “Die datums is ʼn wêreldrekord, wanneer die proses in ag geneem word wat gewoonlik in die regering gevolg word om ʼn tender toe te ken, veral indien die aanbiedingsproses mededingend is.”

Saftu het gesê dit is ʼn voorbeeld van hoe “blatant en skaamteloos korrupsie geword het”, en Puseletso Molise, van Saftu, het gesê die federasie sal oor die volgende paar weke drastiese maatreëls instel om te veg teen korrupsie. “Ons verklaar oorlog teen korrupsie in die provinsie, maak nie saak hoe gevaarlik dit kan wees nie. Ons berei voor vir die ergste.”

Molise het gesê Saftu is ook op ʼn nasionale vlak bereid om te baklei teen die plundering van die ekonomie deur korrupsie, tendermanipulasie, geldwassery en diefstal “deur ʼn faksie van die regering onder leiding van pres. [Jacob] Zuma en die Gupta-familie”.

“Hierdie mafia het staatsbeheerde ondernemings bankrot gelaat, ministers en staatsamptenare is aangestel en omgekoop, grondwetlike strukture, insluitend die Valke en die nasionale vervolgingsgesag, is ondermyn.

“Die korrupsie moet deur vervolging en straf vir enige betrokke party, van die president af ondertoe, uitgeroei word. Daar moet geen uitsonderings of amnestie wees nie,” het Saftu gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Suzette ·

Die korrupsie moet deur vervolging en straf vir enige betrokke party………… Let Wel. “Van die president af ondertoe uitgeroei word”

Johanna Botha ·

Ja sure ondersoek na ondersoek en verslag na verslag ……..en NIKS gebeur nie !

Terloops ·

Die regering, van nasionaal tot plaaslik, is ‘n mafia organisasie.

Haan ·

Ek reken hulle kan voortaan as die “Aasvoëls” bekendstaan

Toppie ·

Kyk dit is een ondersoek na die ander deur kommissies en die valke maar daar gebeur niks nie. Kommissies is maar deel van werkskepping en kos ons land miljarde rande om nie tepraat van die geld wat gesteel is wat ondersoek moet word nie. Die skuldiges betaal ook nie die gelde terug nie maar kry ‘n stewige skeidings pakket nadat hulle vir maande geskors is met betaling , voordele en bonusse

Spyker ·

Ek doen instandhoudings werk vir n hengse sports kompleks en 3 swembaddens om na te sien ook……enige kans vir so n klein kontrakie ……maar nou ja daar is mos geen instandhouding in SA nie.

Jacobus Kotze ·

Weet iemand dalk of Patricia de Lill aan die PAC of die DA behoort, en wat het die man vir Kaapstad gedoen, wie se naam nou De Waalrylaan gaan vervang?

Basie ·

Plaas email adres waarheen ons die name van korrupte persone kan stuur.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.