Sanef, EFF vergader oor dreigemente aan joernaliste

Julius Malema, leier van die Ekonomiese Vryheidsvegters (EFF) Foto: enca.com

Julius Malema, leier van die Ekonomiese Vryheidsvegters (EFF) Foto: enca.com

Die Suid-Afrikaanse Nasionale Redakteursforum (Sanef) sal ʼn dringende vergadering met die leiers van die EFF belê om die party se dreigemente teenoor joernaliste wat vir die Gupta-familie se mediamaatskappye werk, te bespreek.

Mathatha Tsedu, Sanef se uitvoerende direkteur, het Sondag in ʼn verklaring gesê daar is tydens ʼn raadsvergadering in Kaapstad ooreengekom dat die forum dringend met die EFF sal vergader om die gevolge van dié dreigemente teenoor joernaliste te bespreek.

Volgens Tsedu is die Sanef-raad ook bekommerd oor die “direkte inmenging van die bestuur of aandeelhouers [van mediamaatskappye] by die redaksionele besluitnemingsproses” en beplan verdere stappe in dié verband.

Die verklaring volg nadat Julius Malema, leier van die EFF, op 4 Februarie by ʼn nuuskonferensie in Johannesburg vir joernaliste van ANN7 en The New Age, wat albei deur die Gupta-familie besit word, gesê het hulle is nie welkom by EFF-byeenkomste nie. “Gupta moet die land verlaat. Ons is moeg oor die Guptas gepraat,” het Malema gesê.

“Ons gaan praktiese stappe doen. Gupta-media moenie weer na EFF-byeenkomste toe kom nie. Ons wil nie The New Age of ANN7 sien nie. Ons kan nie die veiligheid van die mense wat The New Age en ANN7 uitgee, waarborg nie.”

Tsedu het gesê die raad het die “verandering in die medialandskap” deurtastend bespreek, asook die implikasies daarvan op redaksionele onafhanklikheid. “Die gevolg van kommersiële en ander druk is inmenging in die redaksionele besluitnemingsproses en die vervaging van grense tussen advertensie- en redaksionele inhoud,” het hy gesê.

“Hierdie botsende en gespanne verhouding tussen redakteurs en aandeelhouers of bestuurders het oor die afgelope twee jaar tot talle redakteurs se bedanking gelei – ʼn onhoudbare situasie wat die kern van mediavryheid bedreig wat noodsaaklik is vir die behoud van ons demokrasie.”

Hy het gesê die EFF se “ernstige dreigemente” noop die raad om die ontplooiing van die bedryf te ondersoek en navorsing te doen oor die nuwe medialandskap en moontlike modelle en oplossings.

“Totdat ons navorsing afgehandel is, doen Sanef ʼn beroep op aandeelhouers en bestuurslede om redakteurs toe te laat om hul redaksionele diskresie te handhaaf en hul werk sonder inmenging te doen,” het Tsedu gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Theo ·

Mediavryheid?? Verstaan hierdie mense ooit waarvan hulle praat?

Jean ·

Hierdie vet Klein trol mannetjie Juju gaan Suid Afrika nog baie baie baie skade berokken…

Net soos sy leermeesters zuma en mugabe..

Daai hele breinlose lot het een ding in gemeen ,hul is net in dit vir eie gewin al brand die land tot die grond toe af.

Hy juju is die stof wat”dictators” van gemaak is….passop vir hom en Sy soort…..gif!!! Groot gif!!!

Alhoewel ek ok oorversadig is aan daai spul guptas en kie sake moet ek erken dat n gevaarlike situasie geskep word met al die onverantwoordelikke verbale tjol wat uit die politisie se monde uitstroom soos diaree..

Vryheid van spraak in Afrika het lankal gesneuwel maar as dit by roekkelose geweld en haatspraak aanhitsing kom is daar geen beperkinge vir n sekere demografiese groep nie, hul kan se wat en wanneer hul wil sonder om verantwoording hoef te doen …
Ek sien gevaar ligte flikker.!
Tipies Afrika.

alida ·

Julius weet hy kan se en doen wat hy wil solank JZ President is want JZ is baie bang vir hom. Die hele wêreld sou meer respek vir Mnr Zuma gehad het as hy Donderdag sonder om een enkele woord te sê sy bedanking met onmiddellike effek aangekondig het en waardig uitgetree het. Hy kon daar en dan die rede aan Ramaphosa oorhandig het om voor te lees. Daar kon dan later ‘n nuwe President gekies word. Julius sal sy mond vinnig hou as daar ‘n meer standvastige President is.

Oom Boer ·

Solank as wat Malemma (hout spesialis) ‘n houvas het op Nr 1 sal hy sy uitdagende en uitlokkende houding ten toonstel tot ontwrigting wat die jonger garde van hou met geen respek. Die doelstelling is om anargie te veroorsaak en hierdie speeletjie kan ‘n gevaarlike spel word al is ek ook nie ‘n groot voorstander van die Gupta’s nie, glo ek Malemma se woorde moet ook nie te ligtelik opgeneem word nie. Elkeen mag dit dalk in eie konteks sien, maar voorkoming van swak uitsprake kan ook groot skade beheer (damage control) voorkom. Die Gupta’s-media moet sekerlik ook die vrye reg hê om hul weergawes van berigte op alle vlakke te mag stel veral gesien in die lig van die komende munisipale verkiesings veldtogte.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.