Sanef ‘geskok’ oor SAUK-skorsings

Suna Venter het die foto op Facebook gelaai.

Suna Venter het die foto op Facebook gelaai.

Die Suid-Afrikaanse Redakteursforum (Sanef) het sy skok uitgespreek oor die skorsing van drie senior SAUK-personeellede.

Mpumelelo Mkhabela, voorsitter van Sanef, het in ʼn verklaring die SAUK versoek om onmiddellik die skorsings op te hef. “Joernaliste in ʼn grondwetlike demokrasie het die reg om hulself vrylik uit te druk.”

Foeta Krige, uitvoerende regisseur van Monitor en Spektrum, en Suna Venter, ʼn senior verslaggewer, is Donderdag saam met Thandeka Gqubule, ʼn sakeredakteur, geskors omdat hulle, volgens die openbare uitsaaier, klank- en beeldmateriaal van gewelddadige betogings uitgesaai en dus ʼn direkte bevel verontagsaam het.

Volgens Sanef is die drie personeellede ook geskors omdat hulle tydens ʼn beplanningsvergadering nie saamgestem het met ʼn besluit dat die Right2Know (R2K) se protesoptogte teen die openbare uitsaaier nie deur die SAUK gedek mag word nie.

Die R2K het Maandag optogte in Durban, Kaapstad en Johannesburg gehou teen Hlaudi Motsoeneng, bedryfshoof van die SAUK, se aankondiging vroeër vandeesmaand dat die SAUK nie meer beeld- of klankmateriaal gaan uitsaai van stakers wat openbare eiendom beskadig of aan die brand steek nie.

Mkhabela het gesê Sanef sal die SAUK skriftelik versoek om joernaliste se reg op vryheid van gedagte en uitdrukking te respekteer.

Die Onafhanklike Kommunikasie-owerheid van Suid-Afrika (Okosa) hou Vrydag ʼn openbare verhoor oor klagtes, wat deur die Media Monitoring Project teen die openbare uitsaaier aanhangig gemaak is. Die klagte hou verband met die besluit om nie meer beeldmateriaal van die vernietiging van eiendom tydens gewelddadige betogings uit te saai nie. Okosa het bevind die saak moet dringend aangehoor word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

23 Kommentare

Melt Olckers ·

SAUK wil seker plek maak om vir Piet Kopdoek werk te gee.

Koos ·

Ongelukig lewe oms in n demokrasie, wat as jy dit regtig bestudeer en alles saam vat n mooi en ander woord is vir “dictatorship” in die wereld se geskiedenis het dit dit nog nooit gewerk nie. En is daar altyd n minderheid wat daar onder sal lei. Wat ek noe kan glo nie is dat Suid Afrika vir die laaste paar jaar nie meer Erken word in meeste buite lande as Suid Afrika nie, en net verwys word Na Afrika.

kat ·

dit is tyd dat die bedryfshoof sy tas pak en trek dit is zuma se bontgenoot

Esmay ·

Melt. Jy het my nou so lekker laat lag. Ek wonder net altyd wat steek hy onder daardie kopdoek weg!!!

Irene ·

So word ons mense uit hul poste verjaag sies julle ek hoop jul slaap elke aand goed

Lance ·

Wat verwag mens van die hoof van die SAUK ….duidelik ongewalifiseerde besluite

Andrea van Vuren ·

Wat is sy IK? Wil nie meer sê of vra nie want dan ruk ek ‘n Sparrow uit…

Johan van der Westhuizen ·

As hulle ‘n direkte bevel verontagsaam moet hulle geskors word ja. Wat het hulle verwag, ‘n prestasie bonus? Los ook maar die melodramatiese uitbeelding van emosies vir tieners op Facebook, sulke kinderagtige fotos pas nie by volwasse, professionele mense nie Suna Venter.

Grassie ·

JvdW – dit klink vir my of jy ‘n ondersteuner van Hlaudi & kie is. Wat noem ‘n mens iemand wat teen sy eie soort draai? Ek hoop die dames kry spoedig aanstellings by aanvaarbare media-instellings waar ‘n mens se mond nie deur die regering gesnoer word nie.

kat ·

dit is tyd dat die bedryfshoof sy tas pak en trek dit is zuma se bontgenoot

Alien ·

Ek het nou weer gedink dis skerp. Want se jy iets of bewoord jou gevoelens dan is jy ‘n rasis. Die “tape” oor die mond moes dalk ander kleur gewees het maar dan dit spreek boekdele?

william ·

Snaaks hoe Marietta Kruger net vroeer die jaar oor die voordele gepraat het om deel van die SAUK te bly. RSG moes lankal privaat gegaan het

Francois ·

Daar word gesê dat mense ‘n revolusie kan begin deur nie-nakoming. Ek is nie in die algemeen ten gunste van die verontagsaming van landswette nie, maar wette wat wesenlik immorele praktyke of beleide ondersteun of bevorder behoort na my mening aangeveg te word of andersins deur nie-nakoming ondermyn te word. Dat ons deur wetgewing verplig word om TV-lisensies aan die Es-Y-Bie-Sie te betaal terwyl dié organisasie Suid-Afrikaners se reg op inligting blatant verontagsaam (en boonop deur ‘n marionet van die regime bestuur word) is wesenlik immoreel. Ek vra dus dat AfriForum en Solidariteit hul lede versoek om nie langer TV-lisensies te betaal nie, en lede bystaan wat as gevolg daarvan met regsoptrede gedreig word. Kom ons begin die revolusie om die Es-Y-Bie-Sie finansieel op sy knieë te bring deur dié immorele wet nie na te kom nie.

M A ·

Het jy geweet ‘n mens kan nie jou televisielisensie kanselleer nie. My suster het probeer omdat hulle alreeds ‘n lisensie vir die huishouding het in haar man se naam. Sy het sover gegaan om ‘n beëdigde verklaring te kry en vir hulle al die bewyse gestuur. Dis nou jare later en sy kry nog steeds rekeninge vir meer as R8000 agterstallige gelde. Ek het ook probeer omdat ek nie ‘n televisie besit nie maar toe liewers betaal omdat hulle verskriklik baie rente bysit. Dis alles net ‘n klug en hulle ignoreer mense totaal.

Piet ·

Francois, ek het die idee dat baie firma’s sal ophou om op die T.V. kanale van die SAUK te adverteer. Dit behoort groter inpak te hê as om te probeer om jou lisensiegeld nie meer te betaal nie.

Lorraine ·

Dit lyk os fie SAUK hoof in elkgeval beheer verloor het as mens net kyk na al die veranderinge wat gebeur.

M A ·

En….die SAUK is veronderstel om jou straatadres op die lisensie te sit maar ek het onlangs myne in die pos gekry en daar is nie ‘n straatadres op nie. Die mense is totaal en al onbevoeg.

PMB ·

Dit is tragies. Hallo Zimbabwe. Daar is tog arbeids wetter waaraan tot die magtige SAUK gehoorsaam aan moet wees. Ons moet op hou om die SAUK se produkte te ondersteen.

Anny ·

Ja laat sabc maar ondergaan. Hulle stasies is in elkgeval onkykbaar. Alles moet mos vernietig word dan het hulle vrede . Hoop die mense stig n onafhanklike demokratiese nuwe stasie.

Johan ·

Ek wil net se, die Johan van der Westhuizen wat blykbaar ‘n ondersteuner van Hlaudi en & Kie is, is nie ek nie. Sal maar vir my ‘n ander naam moet kies. Miskien Johan ek of so iets.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.